Gaan na inhoud

Valse vriende

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
(Aangestuur vanaf Valse vriend)
In tale soos Afrikaans en Duits is 'n "firma" 'n maatskappy, maar in Spaans is dit 'n handtekening.

Valse vriende is die benaming wat gebruik word om te verwys na woorde van twee tale waarvan die vorm byna of geheel en al dieselfde is, maar waarvan die betekenis grootliks of soms net subtiel verskil. Daar kan dus maklik 'n verwarring ontstaan wanneer 'n taalgebruiker 'n anderstalige woord van dieselfde vorm teëkom en dus dieselfde betekenis verwag, terwyl die woord in der waarheid 'n ander betekenis het.

Hierdie verwarring kan dan manifesteer in weersprekings, vertaalfoute of in 'n verkeerde begrip. Dit kan aanleiding gee tot verwarring of verleentheid weens die onbedoelde betekenis, en kan 'n onverwagte uitwerking ten gevolg hê.[1] Dit kan ook gebruik word om 'n humoristiese effek te verkry.

Die verskynsel kan nie net tussen twee verskillende tale voorkom nie, maar ook tussen variante van dieselfde taal. Die term valse vriende is vir die eerste keer in 1928 in Frans gebruik (faux amis), in die boek Les faux amis ou les trahisons du vocabulaire anglais deur Maxime Koessler en Jules Derocquigny.[2]

Ontstaan

[wysig | wysig bron]

Valse vriende kan op verskeie maniere ontstaan.

Historiese verwantskap

[wysig | wysig bron]

Baie tale deel 'n historiese verwantskap. So behoort onder meer die Skandinawiese tale, Afrikaans, Duits, Nederlands, Fries en Engels almal tot die Germaanse tak van die Indo-Europese taalfamilie. Die verwantskap kom neer op 'n aantal aspekte, onder andere die woordeskat. 'n Groot deel van die Afrikaanse (en daardeur Nederlandse) woordeskat bestaan uit kognate met die nou verwante Germaanse tale, terwyl ander dele weer 'n ander (byvoorbeeld Latynse) oorsprong het, en dus direk of indirek met woorde van ander tale verwant is. Woorde kan egter met verloop van tyd onherkenbaar verander, sowel in vorm as in betekenis.

  • Die Duitse woord Meer (in Afrikaans, see) en die Afrikaanse kognaat meer gaan albei terug na dieselfde voorouer, maar die betekenisse het uiteengegroei, en die twee woorde het daardeur valse vriende geword. Dieselfde geld vir die Duitse woord See (in Afrikaans meer).
  • Die Afrikaanse/Nederlandse woord tuin, die Duitse kognaat Zaun en die Engelse kognaat town gaan al drie terug na dieselfde Oergermaanse grondwoord *tūna- wat "omheining" beteken.[3] Duits behou die Zaun in die betekenis "omheining" of "heining".[4] In Engels en Nederlands verskuif die betekenis na "die gebied binne die omheining", met die Engelse woord wat mettertyd verander na die nuwe betekenis "klein tot middelgrote stad". 'n Stad was in vroeëre tye gereeld 'n omheinde bolwerk.

Hierdie uiteengroeiing is nie noodwendig 'n verskynsel uit die verre verlede nie. Die verskille in betekenis tussen Britse en Amerikaanse Engels, of tussen Spaans uit Spanje en Spaans uit Suid-Amerika dui daarop aan dat die betekenis van woorde voortdurend verander.

  • Die Afrikaans/Nederlandse woord bederf is 'n gedeeltelike valse vriend. In Afrikaans (Jy bederf die kind) staan bederf nader aan die Engelse dubbelsinnigheid. 'n Kind wat bederf word, kan soos in spoiled (Engels) oorlaai word met geskenke, toegeeflikheid of vergemakliking, wat nie altyd in 'n negatiewe betekenis bedoel word nie, soos te sien in die sin: "...said the Black Panther, who would have spoiled Mowgli if he had had his own way..." En tog bestaan ook die sin: Spare the rod and spoil the child. (Afrikaans: Wie die roede spaar, bederf sy kind).
In Nederlands word bederf alleen in die sin van spaar de roede en je bederft het kind gebruik, dus, uitsluitlik negatief: jy korrupteer die kind. Die meer neutrale woord sou wees: verwen. Vergelyk die volgende sin: Verwennen in de trent van "mijn kind mag alles hebben waar hij om vraagt", is niet goed, men is een kind aan het bederven.
  • Soortgelyke betekenisverruiming vind ook wel in Nederlands plaas: makelaar is in Nederlands en Afrikaans die vertaalekwivalent van die Engelse broker. In Afrikaans word die betekenis gegee: Persoon wat as agent tussen 'n koper en verkoper, dikw. 'n produsent en verbruiker, optree by koop- en verkooptransaksies van goedere, produkte, aandele, effekte of versekering.[5] In Nederlands het makelaar 'n veel soepeler betekenis: tussenhandelaar (tussen enige koper en verkoper, wat ook vaste bates insluit). In die ouer Nederlands was makelaar die vertaalekwivalent van die Latynse proxeneta, mediator, pacarius, pararius, mediator in contractibus, sequester, interventor, transactor. Die Nederlandse "makelaar" word in die Franse volksmond maquignon (handelaar), veral in maquignon de chevaux (letterlik: handelaar van perde).[6] Later sou alleen die woord maquignon hoofsaaklik perdehandelaar beteken. In Nederlands kan makelaar daarom ook eiendomsagent beteken – 'n tussenhandelaar tussen die koper en die verkoper. Eiendomsagent in Afrikaans is egter 'n leenvertaling van die Engelse property agent. Vergelyk Duits wat Immobilienmakler, Grundstückshändler, Immobilienhändler, Immobilienvermarkter, ens. gebruik).

Leenwoorde

[wysig | wysig bron]

Tale neem ook woorde oor uit ander soms onverwante tale. Afrikaans het 'n hele aantal woorde uit byvoorbeeld Maleis, Khoisan tale, Bantoe tale en Engels oorgeneem. Die oorspronklike betekenis van die leenwoorde word nie altyd goed begryp nie, en kry dan 'n ander betekenis in die lenende taal, of hul betekenis verskuif nadat die woord oorgeneem is. So beteken conducteur in Frans byvoorbeeld "bestuurder", maar in Nederlands het dit die gangbare term vir 'n kaartjie-kontroleerder geword. Dit is nie altyd duidelik of 'n bepaalde geval die oorsaak van 'n misverstand of van 'n gewone betekenisverskuiwing is nie.

Toeval

[wysig | wysig bron]

Woord kan ook deur blote toeval sterk na mekaar lyk, terwyl die betekenis verskillend (en soms selfs teenoorgesteld) is.

  • In Engels en Frans beteken air "lug", in Maleis beteken dit "water".
  • In Iers is an 'n bepaalde lidwoord, terwyl dit in Engels 'n onbepaalde lidwoord is.

Voorbeelde

[wysig | wysig bron]

Nederlands en Afrikaans

[wysig | wysig bron]

Hier volg 'n paar Nederlandse voorbeelde, met die Afrikaanse betekenis langsaan:[7]

Valse vriend Nederlandse betekenis
aanranden onsedelik aanrand
aardig vriendelik
agent polisieman
amper net-net
beest gedierte/dier
bekaf uitgeput
braaf goed, gaaf, deugsaam
bloot naak
dadelijk oor 'n rukkie
dam damwal
deken kombers
drift, dreef pad vir aanjaag van grootvee
flikker homoseksueel (kwetsend)
geil bronstig, jags
gemeente munisipaliteit
inpakken toedraai
kattenkop nie "katkop" (brood met slaptjips gevul) nie, maar belediging vir katterige jongmeisies.
kies kiestand
hou je kop! hou jou bek!
hou van jou lief vir jou
kombuis skeepskombuis
kop dierekop; hoofd vir 'n mens
limoen suurlemoen
motor motorfiets / enjin
neuk soortgelyk aan "fok"
onnozel onskuldig, naïef
opgave taak, vraagstuk, voorstelling
opgefokt op sy perdjie, opgewerk, gelaai, gespanne, aangehits, siedend
paardenfokker perdeteler
pijnappel dennebol
poot (slêng) nie "polisieman" nie, maar "homoseksueel"
raam venster
radraderen rat – ratte
ratratten rot – rotte
rot vrot
schop graaf
simpel ongekompliseerd
sluiten toemaak
scharminkel 'n lang, skraal persoon
stoep sypaadjie
taart koek
trappen om te skop
vaak dikwels
vervelend irriterend, lastig
vies vuil
vinnig bitsig
voetbal sokker
wonderlijk vreemd, verrassend
zelfbewust selfversekerd, selfingenome

Duits en Afrikaans

[wysig | wysig bron]
Valse vriend Duitse betekenis
abdanken nie "afdank" nie, maar "bedank" uit 'n posisie.
abfällig nie "afvallig" nie, maar "neerhalend" of "kwetsend".
Abhandlung nie "afhandeling" nie, maar "verhandeling".
abrichten nie "afrig" van atlete (wel diere) nie, maar "afwerk", ens.
absagen nie "afsê" nie, maar "kanselleer" of "aanbod weier".
Absprache nie "afspraak" nie, maar "ooreenkoms", "konvensie" of "konsultasie". Vgl. afspraak in Nederlands
ächten nie "(hoog)ag" nie, maar "ostraseer", "voëlvry verklaar", "proskribeer", ens.
Aktie nie "aksie" nie, maar "aandeel".
aktualisieren nie "aktualiseer" nie, maar "bywerk" of "op datum bring".
Ambulanz eerstens 'n "kliniek" of "buitepasiënt-afdeling" van 'n hospitaal.
Andacht nie "aandag" nie, maar "oordenking" of "dagstukkie".
andächtig nie "aandagtig" nie, maar "geweid", "eerbiedig" of "godsdienstig".
Andrang nie "aandrang" nie, maar "toeloop", "toestroming", "kongestie" of "indringing".
anfällig nie "aanvallig" nie, maar "vatbaar".
anhalten wel "voortduur" of "volhou", maar ook "iets ophou", "aftrek", "stilhou", "verpoos" of "behou".
anranzen nie "aanrand" nie, maar "uitraas" of "uittrap". Kyk ook aanranden in Nederlands
anschaffen nie "aanskaf" nie, maar "prostitueer". Vgl. wel "sich etw. anschaffen"
Ansprache nie "aanspraak" nie, maar "toespraak" of "voordrag".
artig nie "aardig" nie, maar "beleefd" of "goedgemanierd". Vgl. aardig in Nederlands
Aufenthalt nie "oponthoud" nie, maar "verblyf".
Aufgabe nie "opgawe" nie, maar "taak", "plig", "missie", ens. Vgl. opgave in Nederlands
Auflage benewens "oplaag" ook 'n "verpligting", "vereiste", "spesifikasie" of "voorbehoud".
auflesen nie "oplees" nie, maar "optel".
Augenmerk nie "oogmerk" nie, maar "aandag".
Ausbildung nie "uitbeelding" nie, maar "opvoeding".
auskennen nie "uitken" nie, maar "ingelig", "belese" of "bedrewe", d.w.s. "jou storie ken".
Auskunft nie "uitkoms" nie, maar "inligting" of "openbaarmaking".
ausrasten 'n "ruskans neem" eerder as "uitrus", maar tipies "oorboord gaan" of "bohaai maak".
ausreichen nie "uitryk" nie, maar "voldoen" of "toereikend wees".
ausspannen nie "uitspan" nie, maar "aftakel", "stroop", "sloop" of "oopknip".
ausstrahlen wel "uitstraal", maar veral "uitsaai" of "beeldsend".
Beere nie "bier" nie, maar "bessie" (vrug).
befestigen nie "bevestig" nie, maar "vasmaak" of "konnekteer".
begnadet nie "begenadigd" nie, maar "buitengewoon begaafd".
Bekenntnis nie "bekentenis" nie, maar "beleidenis"; ook "toeweiding" tot ..., of "handhawing" van ...
belangen nie "belange" nie, maar "vervolg" of "bestraf".
belasten wel "belas", maar ook "beskuldig" of "inkrimineer".
Beleg nie "beleg" nie, maar "bewys", "stawing", "dokument", "kwitansie", ens.
belegen nie "belê" nie, maar "bewys", "staaf", "bedwing" of etlike ander.
Beschilderung nie "beskildering" nie, maar "wegwysering" of "padaanduiding", ens.
bestellen wel "bestel", maar ook "ontbied", 'n plek "bespreek", "aanstel" of ander.
bequem nie "bekwaam" nie, maar "gemaklik" of "gerieflik".
bereit benewens "bereid", ook "gereed".
beschwerlich nie "beswaarlik" nie, maar "moeitevol" of "uitputtend".
besichtigen ook "besigtig", maar eerstens "besoek aflê" of "deurwandel". Vgl. bezichtigen
Besteck nie "bestek" nie, maar "eetgerei".
Bewehrung nie "bewering" nie, maar "bewapening" of "pantsering". Vgl. Bewährung, d.i. "parool"
Bogen wel "boog" of "strikkie", maar ook "blad" of "vel papier".
Borste nie "bors" of "borste" nie, maar "borselhaar" of "stoppel". Vgl. bristle in Engels
Botschafter nie "boodskapper" nie, maar "ambassadeur".
darstellen meestal nie "daarstel" ('n germanisme vir skep of teweegbring)[8] nie, maar "verteenwoordig".
deftig nie "deftig" nie, maar "stewig" (in konteks van 'n maaltyd of voedsel).
Depot benewens "depot" of "opslagplek", ook 'n "portefeulje".
doof nie "doof" nie, maar "dom" of "onnosel".
Einhalt (gebieten) nie "inhoud" nie, maar "bedwing", "stuit" of "ten einde bring".
einstellen wel "instel", maar ook "mik", "aanstel", "plaas", "afsit", "staak", "opskort" of "ontstaan".
eintragen nie "indra" nie, maar "inskryf" of "registreer".
Enkel nie "enkel" (gewrig of eenmalig) nie, maar "kleinkind".
Enkelkind nie "enkelkind" nie, maar "kleinkind".
entbieten nie "ontbied" nie, maar "toewens", "oordra", ensomeer.
Entbindung nie "ontbinding" nie, maar "bevalling" of "verlos-" / "kraam-".
erkennen nie "erken" nie, maar "sien", "bemerk", "herken" of "uitken". Vgl. verkennen
falsch nie "vals" nie, maar "verkeerd".
Fliege benewens 'n "vlieg" ook 'n "strikdas".
Flur (der) nie "vloer" nie, maar "gang" of "deurgang". Vgl. wel die Flur in landbou of geologie.
Forderung nie "vordering" nie, maar 'n "eis".
fördern nie "vorder" nie, maar "bevorder", "promoveer", "hupstoot gee" of "borg".
Gegenstand nie "teenstand" nie, maar "objek", "item", "artikel", "tema" of "artefak".
Gehalt nie "gehalte" nie, maar "inhoud", "opbrengs", "salaris", ens.
Gelage nie "gelag" nie, maar "fees" of "gefuif". Vgl. "die gelag betaal"[9]
geschickt nie "geskik" nie, maar "behendig", "vaardig" of "vindingryk".
gesellig meestal nie "gesellig" nie, maar "sosiaal" of "in kudde lewe".
Geschwätz nie "geswets" nie, maar "geklets" of "gebabbel", ens. Vgl. gezwets in Nederlands
Gewalt wel "geweld", maar ook "heerskappy" of "mag".
Gruß wel 'n "groet", maar ook "eerbetoon", "saluut" of "kompliment".
Hahn wel 'n "haan", maar ook 'n "waterkraan".
Handhabung nie "handhawing" nie, maar "hantering", "manipulasie" of "bestuur".
herstellen nie "herstel" nie, maar "vervaardig", "tot stand bring", "(voor)berei", "saamstel", ens.
Huld nie "hulde" nie, maar "genade", "guns" of "geseëndheid".
Kampf nie "kamp" nie, maar "stryd". Vgl. "bekamp"
Kapsel nie "kapsel" (d.w.s. haarkapsel of -tooisel) nie, maar "kapsule".
Karosse nie "karos" nie, maar "bakwerk" of "karosserie".
Karree nie "karee" nie, maar 'n "blok" of "vierkant" as bouvorm, gevegsformasie, ens.
klar nie "klaar" of "gereed" nie, maar "helder" of "duidelik". Vgl. "klinkklaar"
klauen nie "klou" nie, maar "steel" of "vaslê".
Kleinkind nie "kleinkind" nie, maar "kleuter".
Kommando nie "kommando" in eerste instansie nie, maar "bevel" of "opdrag".
Kopfbein nie "kopbeen" (skedel) nie, maar die "os capitatum", deel van die handwortelbeentjies.
Korn nie "koring" nie, maar "graan" of "grein".
Krach nie "krag" nie, maar "geraas", "rumoer" of "ophef".
Kratt nie 'n "krat" nie, maar "struikbos" of "ruigte".
Kreis nie "kruis" nie, maar "sirkel", "kring", "kringloop" of "siklus".
Kreuzfahrt nie "kruisvaart" / "kruistog" nie, maar "plesierbootvaart". Vgl. cruise in Engels
Lage nie "lae" of "laagte" nie, maar "posisie", "situasie" of "omstandigheid".
Lager benewens 'n "laer" of "lager" ook 'n "stoorplek", of die "voorraad" daarvan.
Laster (der) nie "laster" nie, maar "vragmotor".
Laster (das) nie "laster" nie, maar "ondeug" of "bandeloosheid".
lauschen eerder "afluister" as "luister".
lauter wel "louter" of "suiwer", maar ook "eerlik" of "eerbaar".
Lebensmittel nie "lewensmiddel" in die breë (medisyne, klere of behuising) nie, maar "voedsel" of "proviand".
ledig nie "ledig" nie, maar "ongehuud" of "enkellopend".
Lokal nie 'n "lokaal" in die breë nie, maar 'n "taverne" of "kroeg".
Lust dikwels nie "(wel)lus" nie, maar "plesier".
Mangel nie "mangel" nie, maar "gebrek", "afwesigheid" of "tekortkoming".
merkwürdig nie "merkwaardig" nie, maar "eienaardig" of "raar".
Moderator wel "moderator", maar ook "gasheer".
Meer nie "meer" nie, maar "see". Vgl. See
Mond nie "mond" nie, maar "maan".
Nachfolge nie "nagevolg" nie, maar "op(een)volging", ens.
Nachfrage nie "navraag" nie, maar "aanvraag" of "behoefte".
nachgehen nie "nagaan" nie, maar "agter wees" of "agter raak", ens.
nachlassen nie "nalaat" nie, maar "kwyn", "afneem" of "slaplê".
nachsehen wel "nasien", maar ook "versien" of "bekyk".
Neffe nie "neef" nie, maar "manlike broers-/susterskind".
Nichte nie "niggie" nie, maar "vroulike broers-/susterskind".
niedrig nie "nederig" nie, maar "laag", "gemeen" of "onwaardig". (fig. neutraal tot negatief)
offenbar nie "openbaar" nie, maar "blykbaar" of "duidelik".
Öffentlichkeit nie "openlikheid" nie, maar "publiek", "samelewing" of "publisiteit".
Otter benewens 'n "otter" ook 'n "adder".
Parole nie "parool" nie, maar "slagspreuk" of "wekroep".
peinlich nie "pynlik" nie, maar "as verleentheid ondervind" of "jou skaam vir".
Pension nie "pensioen" nie, maar "losieshuis" of "klein hotel".
Perspektive wel "perspektief", maar ook "vooruitsig" of "kans" op 'n uitkoms of situasie.
Postbus nie 'n "briewebus" nie, maar 'n vervoermiddel.
probieren nie "probeer" nie, maar "proe" of "uittoets".
Rampe nie "katastrofe" nie, maar "laaiplatvorm" of "helling" in tegniese konteks.
Rente nie "rente" nie, maar "pensioen".
rüstig nie "rustig" nie, maar "opgewek", "kranig", "energiek" of "lewenskragtig". Vgl. Rüstigkeit
Schnörkel nie "snorkel" nie, maar "krulletjie" of "versiering". Vgl. Schnorchel
See nie "see" nie, maar "meer". Vgl. Meer
Seil nie "seil" nie, maar "tou" of "koord".
selbstbewusst nie "selfbewus" nie, maar "selfversekerd". Vgl. zelfbewust in Nederlands
seltsam nie "seldsaam" nie, maar "sonderling" of "eienaardig".
Span nie 'n "span" nie, maar 'n "spaander", "splinter", "skerf" of "fynhout".
spendabel nie "spandabel" nie, maar "vrygewig".
spontan nie "spontaan" nie, maar "op ingewing van die oomblik" of "impulsief".
stramm nie "stram" of "styf" nie, maar "stewig".
Strauß wel "volstruis", maar ook 'n "ruiker".
Tafel nie "tafel" nie, maar "tabel", "tablet" of "skoolbord".
Tapete nie "tapyt" nie, maar "plakpapier".
Tasche nie "tas" nie, maar "hemp-/broeksak", "sak", "buidel", "briewetas", ens.
Tasse nie "tas" nie, maar "teekoppie".
Teilnahme wel "deelname", maar ook "belangstelling", "meegevoel", "leedwese" of "medelye".
Teller nie "telapparaat" nie, maar "bord" of "skaal".
Termin soms 'n "termyn", maar tipies 'n "afspraak" of "sperdatum".
trotz nie "trots" nie, maar "ondanks".
trotzig nie "trots" nie, maar "stuurs", "astrant" of "nors".
überflügeln nie "oorvleuel" nie, maar "verbysteek".
überflüssig nie "oorvloedig" nie, maar "oorbodig".
übrigens nie "origens" nie, maar "terloops". Vgl. overigens in Nederlands
unberechenbar "volatiel" of "onvoorspelbaar", eerder as "onberekenbaar".
Unterhaltung nie "onderhouding" nie, maar "vermaak".
Unterlagen nie "onderlae" nie, maar "dokumentasie", "datastel", ens. Vgl. Unterlage, d.i. "substraat"
unterschreiben nie "onderskryf" nie, maar "onderteken".
Unterschrift nie "onderskrif" nie, maar "handtekening".
unwillig nie "onwillig" nie, maar "beswaard wees" of "aanstoot neem".
Verband soms 'n "verband", maar tipies 'n "unie", "assosiasie" of "federasie".
verfolgen nie "vervolg" nie, maar "navolg", "naspoor", ens.
verhandeln nie "verhandel" nie, maar "onderhandel", "kibbel" of "disputeer".
verkennen nie "verken" nie, maar "vergis", "mistas" of "misken". Vgl. erkennen
Verlies nie "verlies" nie, maar "kerker" of "put".
Verlosung nie "verlossing" nie, maar "tombola" of "lotery".
versagen nie bloot "verseg" nie, maar eerder "misluk", "breek" of "meegee".
versäumen wel "versuim", maar ook "verpas", "misloop" en ander.
Verschlag nie 'n "verslag" nie, maar 'n "loods" of "krat".
verschlagen nie "verslaan" of "verslae" nie, maar "onderduims", "slu" of "agterbaks".
Versorgung nie "versorging" nie, maar "proviand", "voorraad" of "akkommodasie".
versprechen nie "verspreek" nie, maar "belowe".
versuchen nie "versoek" nie, maar "probeer" of "verlei".
vertagen ook "verdaag", maar veral "uitstel".
Vertonung nie 'n "vertoning" nie, maar 'n "toonsetting".
Volkslied nie 'n "nasionale volkslied" nie, maar 'n "ou populêre lied".
vollmundig nie "volmondig" nie, maar "grootpraterig".
vorgeben wel "voorgee", maar ook "voorskryf".
wacker nie "wakker" nie, maar "onverskrokke" of "dapper".
wandeln nie "wandel" nie (wel poëties, "bewandel"), maar "verander".
Werft nie "werf" nie, maar "skeepswerf". Vgl. wharf in Engels
Wette nie "wet" of "wette" nie, maar "weddenskap".
wie nie "wie" nie, maar "hoe".
Winkel nie "winkel" nie, maar "hoek" (meetkunde).
wirken nie "werk" nie, maar "blyk", "lyk", "fungeer", "verrig" of "uitwerking hê".
zierlich wel "sierlik" of "grasieus", maar meer dikwels "tengerig", "broos" of "verpot".
Zirkel nie "sirkel" nie, maar "passer".
Zuname nie "toename" nie, maar 'n "van". Vgl. Zunahme

Engels en Afrikaans

[wysig | wysig bron]
Valse vriend Engelse betekenis
billion nie "biljoen" nie, maar miljard.
brave nie "braaf" nie, maar "dapper".
brutal nie "brutaal" (d.i. parmantig) nie, maar "onmenslik" of "afgryslik".
compensation wel "kompensasie" (d.i. aanvulling), maar ook "vergoeding".
decadence nie "dikkedensie" (d.i. verknorsing) nie, maar "degenerasie".
eventual nie "eventueel" (d.i. dalk, gebeurlik) nie, maar "uiteindelike".
journal nie 'n "joernaal" (d.i. dag- of logboek) nie, maar "vaktydskrif".
royal nie "rojaal" (d.i. kwistig of oordadig) nie, maar "koninklik".

Sweeds en Afrikaans

[wysig | wysig bron]
Valse vriend Sweedse betekenis
by nie "neffens" nie, maar "dorp" of "buurt".
chef nie "sjef" nie, maar "bestuurder" (van 'n besigheid).
delikat nie "delikaat" nie, maar "smaaklik".
dig nie "kompak" nie, maar "jou".
dog nie die verlede tyd van "dink" nie, maar die verlede tyd van "sterf".
gift wel "gif", maar ook "getroud".
hot nie "links" nie, maar bedreiging.
kind nie "kind" nie, maar "ken".
kostym nie "kostuum" nie, maar "pak" (wat 'n sakeman dra).
öl nie "olie" nie, maar "bier".
olik nie "siek" nie, maar "anders" (dit wil sê, nie dieselfde nie).
puss nie "poes" nie, maar "soen".
semester nie "semester" nie, maar "vakansie".
sex nie "seks" nie, maar "ses".

Duits en Engels

[wysig | wysig bron]
Valse vriend Duitse betekenis Engelse betekenis
Ass / ass aas-speelkaart / meester esel
Bad / bad bad sleg
bekommen / become verkry word
Bravo / bravo sluipmoordenaar welgedaan!
Chef / chef baas kok
eventuell / eventual dalk uiteindelike
Gymnasium / gymnasium hoërskool gimnasium
Handy / handy selfoon nuttig
Kommando / kommando bevel gevegseenheid
Korn / corn graan mielies (Amerikaans)
Labor / labour laboratorium arbeid
Obduktion / abduction nadoodse ondersoek ontvoering
Präservativ / preservative kondoom preserveermiddel
Ressort / resort departement toevlugsoord
Sensibilität / sensibility sensitiwiteit ontvanklikheid
winken / wink wink oogknip

Latyn en Italiaans

[wysig | wysig bron]
Valse vriend Latynse betekenis Italiaanse betekenis
lapis steen,
mylpaal
grenssteen
marmer
(gal)steen
domkop, lummel
grafsteen
standbeeld
juweel/edelsteen (poëties)
potlood (ook matita)

Latyn en Spaans / Portugees

[wysig | wysig bron]
Valse vriend Latynse betekenis Spaanse / Portugese betekenis
proxeneta (onder)handelaar,
makelaar
hoerboer, hoer(e)waard (NL: pooier)

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Carstens, W.A.M. en Raidt, E.H. Die storie van Afrikaans, Deel 1, Hoofstuk 10, Oor ‘valse vriende’
  2. (en) Pedro José Chamizo-Dominguez in Keith Brown (2009), Concise Encyclopedia of Semantics, p.308.
  3. etymologiebank.nl: s.v. tuin
  4. Duden.de: s.v. Zaun
  5. WAT
  6. Woordeboek der Nederlandse Taal, s.v. makelaar.
  7. (af) Ponelis, F.A. : "Inleiding tot die Afrikaanse taalkunde." Botha/Ponelis/Combrink/Odendal (Reds.), Ruimtelike klassifikasie. Kaapstad. Academica. 1989, bl.91.
  8. WAT
  9. "Das Wörterbuch der Idiome: Gelage". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Junie 2020. Besoek op 1 Oktober 2017.
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Nederlandse Wikipedia vertaal.