Verenigde Nasies
Die Verenigde Nasies (Arabies: الأمم المتحدة, Chinees: 联合国, Engels: United Nations, Frans: Organisation des Nations unies, Russies: Организация Объединённых Наций, Spaans: Organización de las Naciones Unidas), of VN, is 'n internasionale organisasie wat 193 lidlande behels.[1] Amper alle internasionaal-erkende lande is lede. Daar is twee waarnemers van die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies wat nie lid is van die Algemene Vergadering nie: die Heilige Stoel (wat soewereiniteit oor die Vatikaanstad hou) en die Staat Palestina.[2]
Die VN is gestig ná die Tweede Wêreldoorlog op 24 Oktober 1945 in San Francisco ná die Dumbarton Oaks Konferensie in Washington, D.C., maar die eerste sitting van die Algemene Vergadering met 51 nasies verteenwoordig, is eers gehou op 10 Januarie 1946 in Church House, Londen. Die Verenigde Nasies is die direkte opvolger van die voormalige Volkebond, wat op 18 April 1946 ontbind is. Die organisasie se hoofkantoor is in United Nations Plaza in New York, Verenigde State. Die VN het kantore in Genève, Wene en Nairobi.
Die amptelike tale is Arabies, Chinees, Engels, Frans, Russies en Spaans, waarvan Engels en Frans werkstale is.[3] Die vyf permanente lede van die VN se Veiligheidsraad, wat die mag het om resolusies te veto, is Frankryk, Rusland (tot 21 Desember 1991 as die Sowjetunie), die Verenigde Koninkryk, die Verenigde State en die Volksrepubliek China (tot 25 Oktober 1971 die Republiek China). Niepermanente lede is tans Ecuador, Japan, Malta, Mosambiek en Switserland vir 2023–24[4] en Algerië, Guyana, Sierra Leone, Slowenië en Suid-Korea vir 2024–25.[5] Daar is sterk steun vir 'n vergroting van die Veiligheidsraad en die uitbreiding van die vetoreg aan ander lande om die wêreld van vandag te weerspieël, maar ondanks inisiatiewe deur die G4-lande, Brasilië, Duitsland, Indië en Japan, asook vanuit die geledere van die Afrika-unie, kon eenstemmigheid hieroor steeds nie bereik word nie.[6]
Die doel van die organisasie is die fasilitering van samewerking rakende internasionale wetgewing, internasionale sekuriteit, ekonomiese ontwikkeling, maatskaplike vooruitgang, menseregte en internasionale reg. In 2001 het beide die Verenigde Nasies en die destydse sekretarisse-generaal Kofi Annan die Nobelprys vir Vrede ontvang.[7]
Stigtingsgeskiedenis
[wysig | wysig bron]- Die hoofartikel vir hierdie afdeling is: Geskiedenis van die Verenigde Nasies.
Die gereelde kontak tussen die Geallieerdes gedurende die Tweede Wêreldoorlog, in die besonder tussen die Verenigde Koninkryk en die Verenigde State, het die weg gebaan vir die stigting van die VN.
Die beleidsrigting vir die nuwe organisasie is uiteengesit in die Atlantiese Handves (Atlantic Charter), wat in Augustus 1941 deur die Amerikaanse president Franklin D. Roosevelt en die Britse premier Winston Churchill gesamentlik op die oorlogskip Augusta iewers in die Atlantiese Oseaan uitgereik is.
In die Atlantiese Handves het die twee staatsmanne die wens uitgespreek dat daar na die oorlog 'n waterdigte stelsel van internasionale ooreenkomste opgebou moes word vir die handhawing van vrede en veiligheid, maar met behoud van staatsoewereiniteit, dit wil sê elke staat se alleenseggenskap oor sy eie sake.
Op 1 Januarie 1942 is die Verklaring van die Verenigde Nasies (Declaration of the United Nations), waarin die idee en die doelstellings van die Atlantiese Handves uiteengesit is, deur die afgevaardigdes van 26 lande onderteken. Die verklaring, waarin die naam Verenigde Nasies (United Nations, op voorstel van Roosevelt) vir die eerste keer voorkom, is later deur die afgevaardigdes van nog 21 lande onderteken.
'n Verdere stap was die byeenkoms van die groot moondhede in Moskou, waar China (toe nog nasionalisties en pro-Westers), die Verenigde Koninkryk, die Verenigde State en die Sowjetunie op 30 Oktober 1943 die Verklaring van Moskou (Moscow Declaration on General Security) onderteken het. Die verklaring het onder meer voorsiening gemaak vir die stigting van 'n internasionale organisasie wat hom vir wêreldvrede moes beywer. Die organisasie het vorm begin aanneem by die byeenkoms te Dumbarton Oaks (Augustus-Oktober 1944), 'n landgoed naby Washington, D.C.
Die vier lande het daarin geslaag om 'n soort grondplan vir die VN op te stel. Hulle was dit eens dat daar 'n "veiligheidsraad" moes wees waarin die vyf groot moondhede (die Groot Vyf, naamlik die vier aanwesiges plus Frankryk) permanente sitting moes hê. Die veiligheidsraad sou die kern van die nuwe internasionale organisasie vorm.
Om te voorkom dat die Groot Vyf teen mekaar uitgespeel word, sou elkeen 'n vetoreg op die standpunt van die ander vier hê. Op die Konferensie van Jalta (4 tot 11 Februarie 1945) is fyner punte opgeklaar, soos dat die vetoreg nie vir prosedurevoorstelle en minder belangrike kwessies sou geld nie. Die stigtingsdatum van die VN is ook by Jalta vasgestel. Die stigtingsvergadering is op 25 April 1945 geopen, 13 dae na die dood van Roosevelt, wat een van die inisieerders was, en 12 dae voor die oorgawe van Nazi-Duitsland.
Daar was uit die staanspoor onmin tussen die groot lande enersyds en die kleiner lande andersyds. Laasgenoemde het gevrees vir struwelinge tussen die groot moondhede in die Veiligheidsraad. Die oorspronklike gedagte dat samewerking tussen die groot moondhede op die hoogste vlak die wêreldvrede moes dien, het egter geseëvier, en die kleiner lande moes uiteindelik toegee. Die kleiner lande het egter wel daarin geslaag om die belangrikheid van ander hulpliggame van die VN, veral die Algemene Vergadering, te verhoog deur wysiging van die betrokke artikels in die Handves. Sedert die stigting van die VN het die grondslag van die organisasie soos dit in die voorwoord en die eerste twee artikels van die Handves vervat is, feitlik onveranderd gebly. Sommige van die artikels is gewysig; die aantal lede van die Veiligheidsraad is byvoorbeeld mettertyd van 11 tot 15 vermeerder.
Hersiening van die Handves is moontlik wanneer twee derdes van die lede van die Algemene Vergadering en nege (eers sewe) lede van die Veiligheidsraad instem dat ’n algemene konferensie van lidlande gehou word. Die destydse Suid-Afrikaanse premier, genl. J.C. Smuts, het ’n belangrike bydrae gelewer tot die opstel van die Handves.
Struktuur
[wysig | wysig bron]Die Verenigde Nasies funksioneer deur middel van vyf hooforgane, te wete die Algemene Vergadering, die Veiligheidsraad, die Ekonomiese en Maatskaplike Raad, die Sekretariaat en die Wêreldhof. ’n Sesde hooforgaan, die Voogdyraad, het in 1994 sy werksaamhede opgeskort met die onafhanklikheid van Palau, die laaste oorblywende voogdygebied van die VN.[8] (Suidwes-Afrika, wat die onafhanklike Namibië sou word, is ook dekades lank deur Suid-Afrika as ’n voogdygebied bestuur. Suid-Afrika het onder apartheid uiters gespanne betrekkinge met die VN gehandhaaf en het mettertyd Suidwes-Afrika byna as ’n soort ekstra provinsie beskou eerder as om in te willig dat die gebied onafhanklik word.)
Sekretarisse-generaal
[wysig | wysig bron]- Die hoofartikel vir hierdie afdeling is: Sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies.
Die Sekretarisse-generaal van die Verenigde Nasies was:[9]
- Gladwyn Jebb (Verenigde Koninkryk) 24 Oktober 1945 – 29 Januarie 1946
- Trygve Lie (Noorweë) 2 Februarie 1946 – 10 April 1953
- Dag Hammarskjöld (Swede) 10 April 1953 – 18 September 1961
- U Thant (Birma) 3 November 1961 – 31 Desember 1971
- Kurt Waldheim (Oostenryk) 1 Januarie 1972 – 31 Desember 1981
- Javier Pérez de Cuéllar (Peru) 1 Januarie 1982 – 31 Desember 1991
- Boutros Boutros-Ghali (Egipte) 1 Januarie 1992 – 31 Desember 1996
- Kofi Annan (Ghana) 1 Januarie 1997 – 31 Desember 2006
- Ban Ki-moon (Suid-Korea) 1 Januarie 2007 – 31 Desember 2016
- António Guterres (Portugal) sedert 1 Januarie 2017
Sien ook
[wysig | wysig bron]- 2011 Verenigde Nasies se Klimaatberaad
- Verenigde Nasies Konferensie vir die Standardisering van Geografiese Name
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ (en) "Member States". Verenigde Nasies. Besoek op 1 Januarie 2024.
- ↑ (en) "Non-member States". Verenigde Nasies. 7 Augustus 2015. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 Januarie 2020. Besoek op 1 Januarie 2024.
- ↑ (en) "General Assembly of the United Nations – Rules of Procedure". Verenigde Nasies. Besoek op 1 Januarie 2024.
- ↑ (en) "Five countries elected to serve on UN Security Council". Verenigde Nasies. 9 Junie 2022. Besoek op 1 Januarie 2024.
- ↑ (en) "UN Security Council to welcome five new non-permanent members". Verenigde Nasies. 6 Junie 2023. Besoek op 1 Januarie 2024.
- ↑ (en) "Japan Says No to G4 Bid". Global Policy Forum. 7 Januarie 2006. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Januarie 2021. Besoek op 1 Januarie 2024.
- ↑ (en) "The Nobel Peace Prize 2001". Nobelprize.org. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 Augustus 2018. Besoek op 1 Januarie 2024.
- ↑ (en) Fasulo, Linda (2004. An Insider's Guide to the UN, pl. 8. Yale University Press. ISBN 978-0-300-14197-9.
- ↑ (en) "United Nations". rulers.org. Besoek op 1 Januarie 2024.
Bronnelys
[wysig | wysig bron]- (af) Wêreldspektrum, 1982, ISBN 0-908409-69-9, volume 28, bl. 103
Verdere leesstof
[wysig | wysig bron]- (en) Lowe, Vaughan; Roberts, Adam; Welsh, Jennifer; Zaum, Dominik, reds. (2008). The United Nations Security Council and War: The Evolution of Thought and Practice since 1945. Oxford University Press. ISBN 978-0-19-953343-5.
- (en) Roberts, Adam; Kingsbury, Benedict, reds. (1994). United Nations, Divided World: The UN's Roles in International Relations (2de uitg.). Oxford University Press. ISBN 978-0-19-827926-6.
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]Wikimedia Commons bevat media in verband met Verenigde Nasies. |
- (ar) (en) (es) (fr) (ru) (zh) Amptelike tuisblad
- (en) "United Nations". Encyclopædia Britannica. Besoek op 1 Januarie 2024.