Gaan na inhoud

Völuspá

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Völuspá (ook Vǫluspá, Vǫlospá of Vǫluspǫ́; Oudnoors: "Profesie van die völva") is die bekendste gedig van die Poëtiese Edda. Dit vertel die verhaal van die skepping van die wêreld, asook sy naderende einde en daaropvolgende hergeboorte. Dit hou verband met 'n oudiënsie van 'n siener (völva) met Odin.

Dit is een van die belangrikste primêre bronne vir die studie van Noorse mitologie. Die gedig word in sy geheel in twee manuskripte bewaar, met dele wat in die Prosaïese Edda aangehaal word.

Opsomming

[wysig | wysig bron]

Die gedig begin met die völva wat stilte van "die seuns van Heimdallr" (mense) vra en Odin vra of hy wil hê sy moet antieke kennis uit haar kop aanhaal. Sy sê sy onthou die reuse wat in die antieke tyd gebore is en haar grootgemaak het, nege wêrelde en die boom van die lewe (Mjötviður mær).

Sy haal 'n skeppingsmite aan en noem Ymir; die wêreld was nie meer as die magiese leemte Ginnungagap nie,[1] totdat die seuns van Borr die aarde uit die see gelig en die wêreld geskep het.[2] Die ase ('n soort god) het die ander dinge in die kosmos geskep deur plek te vind vir die son, maan en sterre; so het hulle die siklus dag/nag begin. 'n Goue eeu het ontstaan toe die ase baie goud gehad en tempels en gereedskap geskep het. Maar toe kom drie magtige reusevroue van Jötunheimr, en die goue eeu eindig. Die ase het toe die dwerge geskep, van wie Mótsognir en Durinn die magtigstes was.

Op dié tydstip is 10 van die gedig se stansas verby en volg daar ses stansas wat die name van dwerge bevat. Dié deel, wat die "Dvergatal" ("Katalogus van Dwerge") genoem word, word soms deur redakteurs en vertalers uitgelaat. Die rol daarvan in die gedig is onseker.

Ná die "Dvergatal" word die skepping van die eerste man en vrou en die Yggdrasil, die wêreldboom, beskryf. Die siener roep dan die verbranding van Gullveig in gedagtenis wat gelei het tot die eerste volksoorlog, en wat in die stryd tussen die ase en die wane gebeur het. Sy onthou dan die tyd toe Freyja aan die reuse gegee is.

Die siener onthul dat sy 'n paar van Odin se eie geheime ken, en dat hy 'n oog opgeoffer het in die najaag van kennis. Sy vertel vir hom sy weet waar sy oog weggesteek is en hoe hy dit opgeoffer het in ruil vir kennis. Sy vra hom of hy verstaan, en of hy meer wil hoor.

In een weergawe beskryf die siener dan die moord op Baldr, die beste en mooiste van die gode en die vyand van Loki, en van ander. Dan voorspel sy die vernietiging van die gode waar vuur en water die hemel en aarde verswelg terwyl die gode hulle finale gevegte met hulle vyande veg. Dit is die "lot van die gode" - Ragnarök. Sy beskryf die oproep tot oorlog, die dood van baie van die gode en hoe Odin self verslaan word deur Fenrir, die groot wolf. Thor, die god van donderweer, kom te staan teen Jörmungandr, die wêreldslang, en wen. Thor neem daarna egter net nege treë voordat hy ineenstort van die slang se gif. Die god Freyr veg teen die reus Surtr, wat 'n swaard het wat helderder as die son skyn, en Freyr sneuwel.

Die nuwe wêreld verrys ná Ragnarök (voorstelling deur Emil Doepler).

Eindelik sal 'n pragtige, herbore wêreld verrys uit die as van die dood en vernietiging, waar plante volop sal groei sonder dat saad gesaai word.

Ontvangs

[wysig | wysig bron]

Völuspá is steeds een van die mees bespreekte gedigte van die Poëtiese Edda en dateer van die 10de eeu, die eeu voor die kerstening van Ysland.[3]

Somme geleerdes glo daar is Christelike invloede in die teks.[4][5] Henry Adams Bellows het in 1936 geskryf die skrywer van Völuspá sou kennis van die Christendom gehad het en hy het dit in sy gedig ingebring. Bellows sê die gedig kom uit die 10de eeu, 'n oorgangstyd tussen die heiden- en Christendom, en die twee godsdienste sou saam bestaan het voordat die Christendom as die amptelike godsdiens van Ysland verklaar is. Die ou heidendom is toe toegelaat solank dit in privaatheid beoefen is. Dit het daartoe gelei dat die tradisies in Ysland bewaar is, anders as op die vsteland van Skandinawië.[6]

In Maart 2018 het 'n span historici en wetenskaplikes van die Universiteit van Cambridge voorgestel die gedig is 'n rowwe kroniek uit die 10de eeu van die vulkaan Eldgjá se uitbarsting in 939.[7] Die navorsers het voorgestel die dramatiese beelde van Eldgjá se uitbarsting is met opset opgeroep om die kerstening van Ysland te versnel.

Sommige het voorgestel die "Dvergatal"-seksie en die deel waarin "die magtige een oor almal heers" is latere toevoegings.[3] Hoewel sommige laasgenoemde figuur met Jesus vereenselwig, dink Bellows nie dit was noodwendig die geval nie.[6]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Polomé, Edgar Charles; Turville-Petre, E.O.G.; Tikkanen, Amy (8 Maart 2023). "Germanic religion and mythology" (in Engels). Encyclopedia Britannica. Besoek op 30 April 2023.
  2. "Ginnungagap" (in Engels). Encyclopedia Britannica. Besoek op 30 April 2023.
  3. 3,0 3,1 Den poetiska Eddan, övers. Björn Collinder (tryckt 1972) s.296
  4. "The Background and Scope of Vǫluspá" deur Kees Samplonius, "Vǫluspá and the Sibylline Oracles with a Focus on the ‘Myth of the Future’" deur Gro Steinsland, "Vǫluspá, the Tiburtine Sibyl, and the Apocalypse in the North" deur Karl G. Johansson en "Manifest and Latent Biblical Themes in Vǫluspá" deur Pétur Pétursson, alles artikels in The Nordic Apocalypse: Approaches to Völuspa and Nordic Days of Judgement. Reds. Terry Gunnell en Annette Lassen. 2013. Brepols Publishers.
  5. Elton Gay, David (11 Februarie 2015). "Review for The Nordic Apocalypse: Approaches to Völuspa and Nordic Days of Judgement". Journal of Folklore Research. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 April 2020. Besoek op 14 April 2020.
  6. 6,0 6,1 "The Poetic Edda: Voluspo". Internet Sacred Text Archive. Vertaal deur Bellows, Henry Adams. 1936. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 Januarie 2024.
  7. Dockrill, Peter (20 Maart 2018). "A Volcanic Explosion 1,000 Years Ago Was So Brutal, It Slayed Icelandic Gods". ScienceAlert (in Engels (VSA)). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 Desember 2023.

Skakels

[wysig | wysig bron]