Gaan na inhoud

Sytze Wierda

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Sytze Wierda in 1897

Sytze Wopkes Wierda (28 Februarie 183910 Desember 1911)[1] was 'n argitek wat 'n belangrike rol gespeel het in die openbare argitektuur van Suid-Afrika in die laat 19de eeu en vroeë 20ste eeu en verantwoordelik was vir die ontwerp van 'n groot aantal belangrike geboue in die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR).

Nederlandse agtergrond

[wysig | wysig bron]

Hy is in Friesland in Nederland gebore (Bronne dui aan dat hy of in Hemrik, Beetsterzwaag gebore is of in Wynjeterp).[1] As jong man het hy opleiding as skrynwerker ontvang. Hy is in 1862 in Nederland met Hermina (Hermke) Kamp getroud en hulle het later vier dogters gehad. Nadat hy in Nederland as argitek gekwalifiseer het, het hy in 1866 by die Nederlandse spoorweë in diens getree. Terwyl hy daar in diens was, was hy betrokke by die ontwerp van die Amsterdam Centraalstasie en 'n aantal ander geboue. In Nederland het hy ook 'n groot aantal kerke ontwerp. In 1887 is hy aangestel as Staatsingenieur en Argitek van die ZAR en hy het in laat November 1887 in Suid-Afrika aangekom.[2] Met sy aankoms het hy Klaas van Rijsse wat die pos tydelik gevul het opgevolg. Van Rysse het Kruger op die behoefte aan 'n argitek vir die beplande openbare geboue.

Loopbaan in die ZAR

[wysig | wysig bron]

In die ZAR was hy verantwoordelik vir die ontwerp van die Paleis van Justisie[3] en die Ou Raadsaal aan Kerkplein,[3] die Staatsmodelschool[3] en die Nieuwe Goewermentsgebou (later bekend as die Compolgebou) in Pretoria. Hy het ook 'n aantal brûe in en om Pretoria ontwerp waaronder die Leeubrug oor die Apiesrivier en 'n brug oor Sesmylspruit in Centurion. In Johannesburg het hy die Hoofposkantoor en die Johannesburgfort ontwerp en in Krugersdorp die Magistraatskantoor, en ook die Magistraatskantoor in Klerksdorp. Hy het ook die Paardekraal Monument naby Krugersdorp ontwerp. Een van sy mees onvergeetlike geboue, die Staatsgimnasium wat in 1899 opgerig is, is later gesloop. Net so is die hofgebou wat hy in Klerksdorp ontwerp het gesloop. Wierda het die geboue in die Franse, Italiaanse en Vlaams-Nederlandse Neo-Renaissance styl - wat toe gewild was - ontwerp.[2] Een van sy minder bekende werke was die ZAR paviljoen wat hy vir die L'exposition de Paris van 1900 in Parys Frankryk ontwerp het.[1]

Post-Anglo-Boereoorlog

[wysig | wysig bron]

Na die Anglo-Boereoorlog het hy in vennootskap met C.F. Obermeyer in Lovedaystraat in 'n privaat praktyk gewerk. 'n Paar jaar later het hy na Kaapstad verhuis. Sytze Wierda is in 1911 in die huis van sy skoonseun, C.J.G. van Hoogstraten, by Eureka in Hoofweg, Seepunt, oorlede.[1][2] Die voorstad Wierdapark in Centurion is na Sytze Wierda genoem.

Lees ook

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. 1,0 1,1 1,2 1,3 Artefacts WIERDA, Sytze Wopkes, besoek op 20 Januarie 2007
  2. 2,0 2,1 2,2 Henie Heydenrych en Abrie Swiegers, Discover Pretoria, J.B. van Schaik, Pretoria, Suid-Afrika, 1999, p82
  3. 3,0 3,1 3,2 Holm, Dieter (1998). "Kerkplaats and Capitalists". In Fisher, Roger C.; Le Roux, Schalk; Maré, Estelle (reds.). Architecture of the Transvaal. Pretoria: University of South Africa. pp. 54–77. ISBN 1-86888-039-7.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]