Gaan na inhoud

Slag om Brittanje

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Slag om Brittanje
Deel van Tweede Wêreldoorlog

Die bombardering van Londen
Datum 10 Julie – 31 Oktober 1940
Ligging Lugruim bo Brittanje
Resultaat Britse oorwinning
Strydende partye
Vlag van Verenigde Koninkryk Verenigde Koninkryk
Vlag van Kanada Kanada
Vlag van Nazi-Duitsland Nazi-Duitsland
Vlag van Italië Italië
Bevelvoerders
Vlag van Verenigde Koninkryk Hugh Dowding
Vlag van Verenigde Koninkryk Keith Park
Vlag van Verenigde Koninkryk Trafford Leigh-Mallory
Vlag van Verenigde Koninkryk Quintin Brand
Vlag van Verenigde Koninkryk Richard Saul
Vlag van Kanada L. Samuel Breadner
Vlag van Nazi-Duitsland Hermann Göring
Vlag van Nazi-Duitsland Albert Kesselring
Vlag van Nazi-Duitsland Hugo Sperrle
Vlag van Nazi-Duitsland Hans-Jürgen Stumpff
Vlag van Italië Rino Corso Fougier
Sterkte
1 963 diensbare vliegtuie 2 550 diensbare vliegtuie
Ongevalle
544 dood, 422 gewond, 1 547 vliegtuie verwoes 2 698 dood, 967 gevang, 1 887 vliegtuie verwoes

Die Slag om Brittanje (Engels: Battle of Britain) is die naam vir die gevegte tussen Duitse en Britse vegvliegtuie gedurende die somer en herfs van 1940 tydens die Tweede Wêreldoorlog. Britse vlieëniers het Duitse vlieëniers probeer verhinder om herhaaldelik bomme op Britse stede te gooi. Die bombardement is teen die einde van 1940 gestaak, en die Britte het dit as 'n groot oorwinning beskou. Winston Churchill het die vlieëniers van die Britse Lugmag (RAF) geprys met die woorde: "Nooit in die geskiedenis van oorlogvoering het soveel so baie aan so min te danke gehad nie" (Never in the field of human conflict was so much owed by so many to so few).[1]

Die Slag om Brittanje was die eerste groot veldtog wat slegs deur lugmagte besleg is. Dit was ook die grootste en langste lugbombardement tot op daardie datum.

Deel 1: Strategiese teikens

[wysig | wysig bron]
Britse waarnemers moes die lugruim dophou.

Van Julie 1940 was die vernaamste teikens konvooie skepe en hawens, soos by Portsmouth. 'n Maand later verskuif die Luftwaffe sy aanvalle na vliegvelde en ander infrastruktuur. Soos die stryd vorder, het die Luftwaffe ook fabrieke geteiken.

Radarstasies langs die kus is verwoes, tot slegs een mas staande gebly het. Die Britte moes noodgedwonge 'n rugsteunstelsel van menslike waarnemers inspan om inligting by hulle hoofkwartier te kry. Die meeste geskiedkundiges is dit eens dat Duitsland op dié stadium die gevegte gedomineer het.[2]

Deel 2: Burgerlike teikens

[wysig | wysig bron]
Duitse Heinkel He 111-bomwerpers tydens die Slag om Brittanje

Uiteindelik het die Luftwaffe bevolkingsentra, soos dorpe en stede, begin bombardeer, asook fabrieke. Toe die RAF Berlyn en Duitse lugbasisse in Frankryk aanval, beveel Adolf Hitler die Luftwaffe om op Britse stede te fokus.[2]:p305 Hierdie terreuraanvalle was ontwerp om paniek te saai en die Britte se moreel te breek.

Op 7 September 1940 is met 'n massiewe reeks klopjagte op die Teems in Londen begin. Byna vierhonderd bomwerpers en meer as seshonderd vegters het die Britse hawe dag en nag aangeval.

Die RAF se Groep 11-eskader het vanaf RAF Croydon opgestyg om hulle te ontmoet, in groter getalle as wat die Luftwaffe verwag het. Groep 12 se "Big Wings"-eskader het twintig minute geneem om tot formasie te kom en mis hul beoogde teiken, maar kom 'n klomp bomwerpers teë terwyl hulle nog klim. Met hul tuiskoms blameer hulle hul beperkte sukses op die feit dat hulle te laat ingeroep is.[3][4]

Die Luftwaffe het hul oggendaanvalle begin staak, en eers laatmiddag met aanvalle op Londen begin, vir 57 opeenvolgende nagte.

Die Britse lugbevel se moraal was laag en het 'n tekort aan manskappe en toerusting ondervind, maar die staking van Duitse aanvalle op lugvelde het hulle die kans gebied om dit te herbou. Week na week het die Britte sterker geword, terwyl die Lutfwaffe se verliese bly groei het.

Op 15 September is twee massiewe golwe van Duitse aanvalle afgeweer. Elke vliegtuig van Groep 11 is hiervoor ingespan. Op hierdie belangrike dag is 60 Duitse en 26 RAF-vliegtuie afgeskiet. Dié Duitse nederlaag noop Hitler om voorbereidings vir die inval van Brittanje uit te stel. In die aangesig van toenemende verliese en die gebrek aan goeie plaasvervangers, het die Luftwaffe na nagtelike aanvalle oorgegaan.

Op 27 September is 'n Junkers Ju 88-vliegtuig ná sy klopjag op Londen in Kent afgeskiet.[5] Die Duitse vlieëniers oorleef en het op die grond met die plaaslik gestasioneerde Britse troepe slaags geraak. Dit was blykbaar die eerste keer in byna 300 jaar wat gewapende indringers met Britse soldate op Britse bodem slaags geraak het.[5]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, ISBN 978-1-77578-243-8
  2. 2,0 2,1 Bungay, Stephen. 2000. The most dangerous enemy: a history of the Battle of Britain. London: Aurum Press. ISBN 1-85410-721-6 (hardcover) ISBN 1-85410-801-8 (paperback)
  3. Putland, Alan L. "7 September 1940". Battle of Britain Historical Society. Besoek op 12 Augustus 2009.
  4. Putland, Alan L. "7 September 1940 – The Aftermath." Battle of Britain Historical Society. Besoek op 12 Augustus 2009.
  5. 5,0 5,1 Green, Ron and Mark Harrison. "Forgotten frontline exhibition tells how Luftwaffe fought with soldiers on Kent marshes." Geargiveer 25 November 2011 op Wayback Machine KentOnline, 30 September 2009. Besoek op 21 Augustus 2010.