Gaan na inhoud

Poveglia

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Poveglia, soos gesien vanuit Lido di Venezia
Die verlate hospitaal van Poveglia
Tydens 'n besoek aan Poveglia in 1889 het die Duitse geneeskundige en deskundige vir higiënemaatreëls Theodor Weyl in 'n verlate lasaret op 'n historiese pesmasker en geneeskundige uitrusting vir die desinfeksie van briewe afgekom

Poveglia [poˈveʎʎa] is 'n klein eiland in die Venesiaanse strandmeer met 'n oppervlakte van sowat 7,5 hektaar, geleë tussen Venesië en Lido di Venezia in die noordooste van Italië. 'n Klein kanaal verdeel die eiland in twee dele. Die oudste historiese verwysings na Poveglia dateer van 421, toe die Romeinse bevolking van die nabygeleë vasteland voor die aanvalle van Gote en Hunne moes swig, en volgens oorlewerings is die eiland bewoon tot 1379 toe die bevolking dit as gevolg van oorlogshandelinge tussen Venesië en Genua vir goed ontruim en hulle op Giudecca hervestig het.

Dit is nogtans Poveglia se donker verlede as 'n kwarantyn-eiland en begraafplaas vir slagoffers van die Swart Dood vanaf die 16de eeu. Nadat aansteeklike siektes herhaaldelik deur die bemannings van handelskepe in Venesië versprei is, het die stad se Magistraat vir Gesondheidswese Poveglia in 1776 amptelik tot 'n kwarantynstasie verklaar waar elke skip op pad na Venesië moes aandoen om bemanningslede vir einige simptome van builepes of ander aansteeklike siektes ondersoek is. Siekes is onmiddellik op die eiland in kwarantyn geplaas.

Poveglia het tot in 1812 as kwaranty-eiland gedien. In 1922 is 'n hospitaal met bejaardetehuis op die eiland geopen wat tot in 1968 bestaan het.[1] Sedert die hospitaal se sluiting is die eiland onbewoon. 'n Bepande veiling van die eiland in 2014, wat steeds in staatsbesit is, om hier 'n luukse toeristeoord op te rig, was onsuksesvol.[2] Venesiaanse burgers het protes teen die projek aangeteken en geëis dat die eiland vir almal moet oopstaan.[3]

Die eiland het 'n makabere reputasie soos blyk uit die byname wat daaraan gegee is - "eiland van waansin", "eiland van spoke", "eiland van demone" of net "die hel". Daar word beraam dat Poveglia in die loop van sy geskiedenis as kwarantyn-eiland meer as 160 000 slagoffers van die pes gehuisves het van wie die meeste hier oorlede is. Hul sterflike oorskot is veras of in massagrafte ter aarde bestel. Heelwat stedelike legendes het rondom Poveglia ontstaan wat van vampiere tot 'n beweerde waansinnige dokter strek wat na bewering gestessiekes vir onmenslike eksperimente misbruik het. Hulle is nie op historiese feite gegrond nie en bevredig eerder die sensasielus.

In 1889 het die Berlynse chemikus, geneeskundige en deskundige op die gebied van higiëne Theodor Weyl (1851−1913) 'n besoek aan Poveglia gebring om hier navorsing te doen. In 'n verlate lasaret het hy op historiese pesmaskers en geneeskundige uitrusting vir die desinfeksie van briewe afgekom.[4]

Verwysings

[wysig | wysig bron]

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]
Agtergrondinligting

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]