Gaan na inhoud

Pebco-drie

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Die Pebco-drie of Pebco 3 verwys na drie swart Suid-Afrikaanse anti-apartheidsaktiviste, Sipho Hashe, Champion Galela en Qaqawuli Godolozi, wat in 1985 deur lede van die Suid-Afrikaanse veiligheidspolisie ontvoer en daarna vermoor is.

Geskiedenis van PEBCO

[wysig | wysig bron]

Na 'n toename in die lewenskoste vir die swart bevolking in Port Elizabeth, grotendeels deur 'n prysverhoging van 100% in die huurprys in die laat 1970's, het die inwoners van Port Elizabeth besluit om hulself te organiseer en 'n organisasie te stig wat gemik was daarop om sosio-ekonomiese ongeregtighede, as een van die gevolge van die apartheidswetgewing, aan te spreek. Nadat die Port Elizabeth Black Civic Organisation (PEBCO) amptelik op 10 Oktober 1979 gestig is, is 'n openbare vergadering gehou waar besluit is dat 'n protes teen die verhoging in huur, vervoer, brandstof en beligting, munisipale heffingskoste en voedselkoste gehou word.[1] PEBCO se onmiddellike doelstellings en eise was: om te veg vir gelyke regte vir alle inwoners van Port Elizabeth; om alle diskriminerende wetgewing wat deur die regering en plaaslike owerhede ingestel is, te beveg; om deel te neem aan besluitneming oor alle aangeleenthede wat die inwoners van Suid-Afrika raak; om te veg vir die verleen van die reg aan anderskleuriges om grond onder eiendomsreg te koop op enige plek van hul keuse; en om enige regstreekse of indirekte poging om swartes van hul Suid-Afrikaanse burgerskap te ontneem, teen te staan.[2] Hul fundamentele doel was om 'n munisipaliteit vir die hele Port Elizabeth te skep, en het daarom die stelsel van gemeenskapsrade en afsonderlike munisipaliteite vir swart en wit verwerp.[3]

Die verdwyning

[wysig | wysig bron]

Die 1980's was 'n wisselvallige tydperk vir aktivisme in Port Elizabeth en as sodanig is leiers van PEBCO kort-kort aangehou. In 1980 is vyf van sy leiers in hegtenis geneem, waaronder Thozamile Botha, die stigterslid, wat in die vorige jaar, 1979, by die Ford Motormaatskappy in Struandale ontslaan is vir sy politieke betrokkenheid en die organisering van werkers op die terrein. Hy het die land in Mei 1980 verlaat om hom by die ANC in ballingskap aan te sluit, en sy kameraad Qaqawuli Godolozi as die nuwe president van PEBCO agtergelaat. Vyf jaar later, op 8 Mei 1985, het drie lede, Sipho Hashe, Champion Galela en Qaqawuli Godolozi, van die lughawe in Port Elizabeth, Suid-Afrika, verdwyn. Dit was te wyte aan die feit dat PEBCO nou verbonde was aan die United Democratic Front (UDF), wat destyds deur sommige as 'n interne vleuel van die destydse verbode African National Congress (ANC) beskou is. As gevolg van die verdwyning van die drie het die Komitee vir Verbruikersboikot 'n groot verbruikersboikot gereël wat in Julie 1985 begin het. Alhoewel daar sterk vermoede bestaan dat die Veiligheidspolisie iets met die verdwyning van die drie aktiviste te doen gehad het, was daar tot November 1997 niks oor hul lot bekend nie.

Die Belydenis

[wysig | wysig bron]

Op 11 November 1997, tydens die Waarheids- en Versoeningskommissie onderhoudes, het die voormalige veiligheidspolisiebeampte, kolonel Gideon Nieuwoudt,[4] om amnestie aansoek gedoen vir sy deelname aan die ontvoering, marteling, roof en moord op die PEBCO Drie. Volgens sy getuienis het Nieuwoudt die drie mans uitgelok deur middel van 'n betaalde polisie-informant wat homself voorgedoen het as Britse ambassadeursamptenaar wat 'n kontantskenking aan PEBCO wou doen. Die informant het Sipho en sy twee vriende oortuig om na die lughawe te kom om die donasie af te haal. Nieuwoudt het later geweier om die informant te benoem uit vrees vir sy veiligheid. Die drie mans is deur lede van die veiligheidspolisie aangekeer en na 'n verlate polisiekantoor op 'n plaas by Post Chalmers, naby Cradock, geneem. Hulle is ondervra, van hul besittings gestroop, gemartel, verdoof en uiteindelik verwurg. Die lyke is verbrand en die oorskot is in die nabygeleë Visrivier gegooi. Kol. Eugene de Kock, 'n voormalige hoof van afdeling C1 op die polisieplaas Vlakplaas, suid van Pretoria, het in sy voorlegging aan die Waarheids- en Versoeningskommissie (WVK) oor die dood van die PEBCO Drie, erken dat daar in 1985 'n rusie tussen twee lede van sy Vlakplaas-span, sers Joe Mamasela en offisier Gert Beeslaar, ontstaan het en dat beide persone betrokke was by 'n operasie in Port Elizabeth waarin die PEBCO Drie vermoor is.[5]

Die hofsaak

[wysig | wysig bron]

Die voormalige polisielede Johan Martin van Zyl en Johannes Koole is ook in die saak beskuldig. Van Zyl het hom op 11 Februarie 2004 vrywillig aan die polisie in Port Elizabeth oorgegee.[6] Hy is aangekla weens moord en drie aanklagte van aanranding om ernstig te beseer. Die verhoor is vir 12 Oktober vasgestel, maar die verdediging het om uitstel gevra, hangende 'n hersiening van die Waarheids- en Versoeningskommissie van die Motherwell-bomaanval in 1989 waarby Nieuwoudt ook betrokke was. Die WVK het geweier om amnestie aan die drie oortreders Van Zyl, Nieuwoudt en Lotz te verleen, met verwysing dat die drie nie 'n volledige openbaarmaking in die geval van die PEBCO Drie gemaak het nie.[7]

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Msila, V. (2014) A Place to Live: Red Location and its history from 1903 to 2013. SUN PRESS
  2. Houston, G.F. (1999) The National Liberation Struggle in South Africa: A Case Study of the United Democratic Front 1983–1987. Aldershot:Ashgate
  3. Msila, V. (2014) A Place to Live: Red Location and its history from 1903 to 2013. SUN PRESS
  4. News24 | https://www.news24.com/SouthAfrica/News/Nieuwoudt-charged-for-Pebco-3-20040211 Geargiveer 26 Mei 2019 op Wayback Machine
  5. Msila, V. (2014) A Place to Live: Red Location and its history from 1903 to 2013. SUN PRESS
  6. Department of Justice | https://www.iol.co.za/news/south-africa/pebco-three-bodies-may-have-been-found-362244
  7. Department of Justice | https://www.iol.co.za/news/south-africa/pebco-three-bodies-may-have-been-found-362244