Gaan na inhoud

Oostenryk

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
(Aangestuur vanaf Oostenrykers)
Republiek Oostenryk
Republik Österreich (Duits)
Vlag van Oostenryk Wapen van Oostenryk
Vlag Wapen
Volkslied: Land der Berge, Land am Strome
(Duits vir: "Land van Berge, Land aan die rivier")
Ligging van Oostenryk
Hoofstad Wene

48°12′N 16°21′O / 48.200°N 16.350°O / 48.200; 16.350

Grootste stad Wene
Amptelike tale Duits1
Regering Federale parlementêre
grondwetlike republiek

Alexander Van der Bellen
Karl Nehammer
Werner Kogler
Wolfgang Sobotka
Claudia Arpa
Onafhanklikheid
Stigting van
• Naam
Markgraafskap Oostenryk
Hertogdom Oostenryk
Aartshertogdom Oostenryk
Keiserryk Oostenryk
Oostenryk-Hongarye
• Duits-Oostenryk
• Eerste Republiek
• Huidige grondwet
• Bondstaat
Anschluss
• Tweede Republiek
• Staatsverdrag


1 November 996
976
17 September 1156
6 Januarie 1453
11 Augustus 1804
30 Maart 1867
12 November 1918
10 September 1919
10 November 1920
1 Mei 1934
13 Maart 1938
27 April 1945
27 Julie 1955
Oppervlakte
 - Totaal
 
 - Water (%)
 
83 882,56 km2  (113de)
32 387,24 myl2
0,84 (2015)[1]
Bevolking
 - 2023-skatting
 - Digtheid
 
9 104 772[2] (93ste)
107,6 / km2 (106de)
278,7 / myl2
BBP (KKP)
 - Totaal
 - Per capita
2024-skatting

$645,560 miljard[3] (43ste)
$70 821[3] (14de)

BBP (nominaal)
 - Totaal
 - Per capita
2024-skatting

$552,339 miljard[3] (33ste)
$60 863[3] (17de)

MOI (2021) 0,916[4] (25ste)  –  baie hoog
Gini (2022) 27,8[5] –  medium
Geldeenheid Euro (€) (EUR)
Tydsone
 - Somertyd
MET (UTC 1)
MEST (UTC 2)
Internet-TLD .at
Skakelkode 43
1. Daarbenewens Hongaars en Kroaties in Burgenland, Sloweens in Karinthië.[6]

Oostenryk (Duits: Österreich, [ˈøːstɐˌʁaɪç], ), amptelik die Republiek Oostenryk (Republik Österreich, ), is 'n federale republiek in Sentraal-Europa wat uit nege deelstate (waaronder die hoofstad Wene) bestaan. Die land grens in die weste aan Switserland en Liechtenstein, in die noorde aan Duitsland en Tsjeggië, in die ooste aan Slowakye en Hongarye, en in die suide aan Italië en Slowenië. Die huidige grense is in die Vredesverdrag van Saint-Germain in 1919 vasgelê wat die ontbinding van Oostenryk-Hongarye ná die Eerste Wêreldoorlog gereël het.

Personifikasie van Austria op die Austriafontein in Wene
'n Kapelletjie bo-oor 'n see van mis. Uitsig vanaf die bergpiek Oberfallenberg in die deelstaat Vorarlberg oor die Switserse Alpe

Die vroegste gedokumenteerde gebruik van die Duitse landsnaam Österreich as Ostarrichi is in 'n Oudhoogduitse teks van 996 oorgelewer. Daarnaas was ook die Latynse naam Austria gebruiklik. In 1156 het Oostenryk, wat oorspronklik hoofsaaklik deur setlaars uit die aangrensende Beiere ontwikkel is, 'n selfstandige hertogdom in die Heilige Romeinse Ryk geword. Nadat die Babenberg-dinastie in 1246 uitgesterf het, het die land onder Habsburgse bewind gekom. Die gebied, wat as Oostenryk bekendgestaan het, het later die hele Habsburgse monargie behels en uiteindelik die Keiserryk Oostenryk, wat in 1804 gestig is, en die Oostenrykse helfte van die dubbelmonargie Oostenryk-Hongarye wat van 1867 af as veelvolkestaat bestaan het.

Die huidige republiek, aanvanklik vanweë die oorheersende taal ook Duits-Oostenryk genoem, is in 1918 gevorm nadat Oostenryk-Hongarye 'n nederlaag in die Eerste Wêreldoorlog gely het en die seëvierende geallieerdes die vereniging van Duits-Oostenryk met die Duitse Ryk (retrospektief ook Republiek van Weimar genoem) verbied het. As selfstandige republiek het Oostenryk tussen die twee wêreldoorloë tot 'n diktatoriese korporatiewe staat ontwikkel voordat dit in 1938 met die sogenaamde Anschluss of aansluiting by die Nasionaal-Sosialisties oorheerste Duitse Ryk ingelyf is.

Die geallieerde moondhede, wat Oostenryk – net soos Duitsland – ná die Tweede Wêreldoorlog as besettingsmagte geadministreer het, het Oostenryk se selfstandige status herstel. Ná die einde van die geallieerde besetting het Oostenryk homself in 1955 tot 'n permanent onsydige, onafhanklike republiek verklaar en tot die Verenigde Nasies toegetree. Oostenryk is sedert 1 Januarie 1995 'n lidland van die Europese Unie. In 1999 is die Euro-geldeenheid ingevoer; Euro-banknote en -muntstukke is sedert 2002 in omloop.

Etimologie

[wysig | wysig bron]
Die eerste verskyning van die woord "Ostarrîchi", omring in rooi. Die moderne Republiek Oostenryk beskou hierdie dokument van 996 as die stigting van die nasie.

Die Duitse naam vir Oostenryk, Österreich, is ontleen aan die Ou Hoogduitse Ostarrîchi, wat "oostelike ryk" beteken en vir die eerste keer 966 in die "Ostarrîchi-dokument" verskyn het.[7][8] Dit is dalk 'n vertaling van die Middeleeuse Latyn Marchia orientalis in 'n plaaslike (Beierse) dialek.

Oostenryk is in 976 as 'n Beierse prefektuur gestig. Die woord Austria is 'n Latinisering van die Duitse naam en het in die 12de eeu vir die eerste keer verskyn.[9] Teen dié tyd was die Donaubekken van Oostenryk (Opper- en Neder-Oostenryk) die mees oostelike dele van Beiere.

Geografie

[wysig | wysig bron]
Nasa-Satellietbeeld van Oostenryk
Donau naby Linz
Engelstalige kaart van Oostenryk
Topografiese kaart van Oostenryk

Oostenryk se gebied strek in 'n oos-wes-rigting oor 'n afstand van maksimaal 575 km en in 'n noord-suid-rigting oor 'n afstand van maksimaal 294 kilometer.

Sowat sestig persent van Oostenryk se oppervlakte is bergagtige gebiede wat deel uitmaak van die Oos-Alpe, waaronder die Tirolse Sentraal-Alpe, Hohe Tauern en Niedere Tauern, Noordelike Kalkalpe, Suidelike Kalkalpe en Wienerwald. In die omgangstaal word derhalwe na die land soms as die Alperepubliek verwys. Noord van die Donau lê die graniet- en gneisplato van Opper- en Neder-Oostenryk wat deel uitmaak van die ou Boheemse Plato. Sy uitlopers strek tot in Tsjeggië en die Duitse deelstaat Beiere. In die ooste grens die Rompgebergte aan die Klein Karpate.

Die grootste vlaktes lê in die ooste van die land langs die Donau, veral die Alpevoorland en die Weense Bekken met die Marchfeld, en in die suidelike Stiermarke. Die laasgenoemde streek word vanweë sy landskaplike ooreenkomste met die Italiaanse Toskane dikwels ook die Stiermarkse Toskane genoem.

Burgenland, die gebied oos van die Alpe-Karpate-boog, gaan in die Pannoniese Laagvlakte oor en toon in landskaplike en klimatiese opsig baie ooreenkomste met sy oostelike buurland Hongarye waarvan dit tot in die jaar 1921 deel uitgemaak het.

Sowat 'n kwart van Oostenryk se totale oppervlakte van 83 878,99 vierkante kilometer word deur vlaktes en heuwellande beslaan. Slegs 32 persent van die land lê benede 500 meter bo seevlak, terwyl 43 persent bebos is.

Die vyf hooflandskappe van Oostenryk is:

  • Die Oostenrykse gedeelte van die Oos-Alpe (52 600 vierkante kilometer of 62,8% van die totale oppervlakte),
  • die Oostenrykse gedeelte van die Alpynse en Karpate-voetheuwels (9 500 vierkante kilometer of 11,3%),
  • die graniet- en gneisplato wat deel uitmaak van die Boheemse Massa (ook Boheemse Massief of Plato genoem, 8 500 vierkante kilometer of 10,2%) en op meerdere plekke tot suid van die Donau strek, en
  • die Oostenrykse gedeelte van die Weense Bekken (3 700 vierkante kilometer of 4,4%).

Die laagste punt is Hedwighof in die munisipaliteit Apetlon (deelstaat Burgenland) met 114 meter bo seevlak.

Berge

[wysig | wysig bron]
Großglockner is die hoogste bergpiek van Oostenryk

Die hoogste bergpieke in Oostenryk toring op hoogtes van meer as 3 000 meter bo seevlak. Die hoogste pieke is Großglockner in die Hohe Tauern-bergreeks met 3 798 meter, Wildspitze (Ötztaler Alpe, 3 774 meter) en Weißkugel (eweneens Ötztaler Alpe, 3 738 meter).

Oostenryk se berglandskappe speel 'n belangrike rol vir die toerismesektor. Daar is 'n groot aantal wintersportgebiede, terwyl bergtoere en bergklim in die somers gewild is.

'n Wintertoneel by die Neusiedlermeer

Die Neusiedlermeer in die deelstaat Burgenland is die grootste meer in die land (77% van sy totale oppervlakte van 315 vierkante kilometer is in Oostenryk en die res in Hongarye geleë) en naas die Balatonmeer in Hongarye een van min steppemere in Europa. Met 'n gemiddelde diepte van ongeveer een meter is dit een van die vlakste mere in Oostenryk.

Ander groot mere sluit die Attermeer (46 km²) en die Traunmeer (24 km²) in Opper-Oostenryk in. 'n Klein gedeelte van die Bodenmeer met 'n totale oppervlakte van 536 km² is eweneens op Oostenrykse gebied geleë, alhoewel die internasionale grenslyne op hierdie meer nog nie noukeurig bepaal is nie.

Gedurende die somer is die Oostenrykse mere gewilde toeristetrekpleisters, veral die mere van Karintië en die Salzkammergut. Die bekendste mere is die Wörthermeer, die Millstättermeer, die Ossiachse-meer en die Weissenmeer in Karintië. Ander bekende mere sluit in die Mondmeer en Wolfgangmeer aan die grens tussen Salzburg en Opper-Oostenryk.

Administratiewe verdeling

[wysig | wysig bron]

Oostenryk word administratief verdeel in nege federale deelstate (Bundesländer), waaronder die federale hoofstad (Bundeshauptstadt) Wene. Die deelstate word verder verdeel in 79 distrikte en in 2100 munisipaliteite. Vyftien stedelike nedersettings het 'n besondere administratiewe status as sogenaamde statutêre stede (Statutarstädte) en oefen self die bevoegdhede van 'n distrik uit.

Stedelike nedersettings en agglomerasies

[wysig | wysig bron]
Die federale hoofstad Wene (soos gesien vanuit die noordweste)

Die metropolitaanse gebied van Wene is by verre die grootste stedelike agglomerasie in Oostenryk met 'n bevolking van 2,4 miljoen. Die feit dat sowat 'n kwart van die Oostenrykse bevolking in die hoofstadgebied saamgetrek is, weerspieël Wene se vroeëre funksie as administratiewe setel en vernaamste nywerheidsgebied in die dubbelmonargie Oostenryk-Hongarye.

Ander groot agglomerasies het rondom die deelstaathoofstede Graz (Stiermarke), Linz (Opper-Oostenryk), Salzburg (in die gelyknamige federale deelstaat) en Innsbruck (Tirol) ontstaan. Ander belangrike stedelike nedersettings sluit in (van wes na oos) Feldkirch, Dornbirn en Bregenz (deelstaat Vorarlberg), Villach en Klagenfurt (Karintië), Wels (Opper-Oostenryk), St. Pölten en Wiener Neustadt (Neder-Oostenryk). Altesaam 201 nedersettings, waarvan die bevolkingsgetal grootliks wissel, het stadstatus. Net in die geval van die vyftien statutêre stede is besondere administratiewe bevoegdhede aan hierdie stadsregte verbonde. Migrasie vanuit ekonomies minder ontwikkelde gebiede na die digbevolkte stedelike agglomerasies is 'n belangrike vraagstuk.

Klimaat

[wysig | wysig bron]
Köppen-Geiger klimaat-klassifikasie vir Oostenryk[10]
Donker wolke oor die historiese middestad van Salzburg

Oostenryk het 'n gematigde klimaat, alhoewel die land in die oorgangsgebied tussen die Atlantiese en kontinentale klimaatsones van Sentraal-Europa geleë is. Die land ervaar vier seisoene met tipiese kenmerke ten opsigte van temperatuur en ander klimatiese karakteristieke.[11]

Oostenryk kan in drie groot klimaatsones verdeel word:

  • Die ooste toon met sy Pannoniese klimaat reeds sterk kontinentale invloede – die gebied kry minder reënval as die res van die land en het baie warm somers en koel winters.
  • Die bergstreke het 'n Alpynse klimaat met hoë reën- en sneeuval (met die uitsondering van sommige valleie soos die Bo-Innvallei), kort somers en lang winters.
  • Die res van die land is 'n klimatiese oorgangsgebied met Atlantiese invloede in die weste en kontinentale invloede in die suidooste.

Politiek

[wysig | wysig bron]

Staatsorganisasie

[wysig | wysig bron]
Die huidige Bondspresident Alexander Van der Bellen
Die Presidensiële Kanselary is die ampswoning van die Oostenrykse Bondspresident
Die Federale Kanselary is die ampswoning van die Oostenrykse Bondskanselier
Die huidige Bondskanselier Karl Nehammer
Die Parlementsgebou in Wene, setel van beide die nasionale raad en die federale raad

Oostenryk is volgens sy grondwet (Bundesverfassung) uit 1920, in die 1929-weergawe wat in 1945 heringestel is, 'n federale, parlementêre demokratiese republiek. Sy hoofstad en regeringsetel is Wene. Oostenryk is in administratiewe opsig verdeel in nege deelstate (Länder), wat gedeeltelik selfregerend is.

Die Bondspresident (Bundespräsident) fungeer as die staatshoof en verteenwoordiger van die republiek op internasionale vlak. Sy amp is veral seremonieel en simbolies van aard. Die president van die nasionale raad (Präsident des Nationalrates), die Bondskanselier (Bundeskanzler) en die president van die federale raad (Präsident des Bundesrates) volg as ampsdraers in die rangorde.

Die Bondskanselier is die regeringshoof en bepaal die grondbeginsels van die regering se binne- en buitelandse beleid.

In ooreenstemming met die federale staatsbestel beskik ook die deelstate oor hulle eie uitvoerende, wetgewende en regsprekende gesag. Die Bundesrat (Raad van die Deelstate, letterlik "Bondsraad") het net soos die Nationalrat, die nasionale parlement, uitvoerende bevoegdhede. Besluite oor voorgestelde nasionale wetgewing word deur die nasionale raat beraadslaag en dan deur die federale raad goedgekeur of verwerp. Wetsontwerpe van die nasionale parlement wat die regte van die deelstate sou raak, moet deur die Bundesrat goedgekeur word. Die Oostenrykse Grondwet mag met 'n tweederdes-meerderheid in beide die nasionale en federale rade gewysig word, waarna 'n referendum oor die voorgestelde verandering deurgevoer moet word.

Die parlemente van die deelstate besluit oor die plaaslike wetgewing: die polisie en ander belangrike instellings word deur die deelstate beheer. Die politieke partye het 'n groot invloed op die wetgewing, en ofskoon die afgevaardigdes nie gedwing mag word om teen hulle gewetens op te tree nie, word die meeste wetsontwerpe deur die parlementslede van die meerderheidsparty gemeenskaplik goedgekeur om die doelwitte van dié party te verwesenlik.

Op nasionale vlak vorm die federale regering onder die leiding van die Bondskanselier die uitvoerende gesag, terwyl die deelstate regerings onder die leiding van 'n eerste minister (Landeshauptmann) het. Die stadstaat Wene het 'n Regerende Burgemeester as sy regeringshoof. Die administrasies van die deelstate word deur deelstaatsrade (Landesrat) beheer.

Die Konstitusionele Hof (Verfassungsgerichtshof) in Wene het die hoogste gesag oor die grondwet. Die hoogste nasionale geregshowe is die Federale Geregshof (Bundesgerichtshof) en die Federale Administratiewe Gereg (Verwaltungsgerichtshof, wat regsake in verband met die administrasies hanteer), albei in Wene. Die meeste regsake word deur die deelstate beheer, terwyl die nasionale geregshowe as appélhowe dien.

Deelstate

[wysig | wysig bron]
Die nege deelstate van Oostenryk
In Afrikaans Auf Deutsch (In Duits)
Die deelstate van Oostenryk Hoofstad Land Hauptstadt
1 Burgenland Eisenstadt Burgenland Eisenstadt
2 Karintië Klagenfurt Kärnten Klagenfurt am Wörthersee
3 Neder-Oostenryk St. Pölten Niederösterreich St. Pölten
4 Opper-Oostenryk Linz Oberösterreich Linz
5 Salzburg Salzburg Salzburg Salzburg
6 Stiermarke Graz Steiermark Graz
7 Tirol Innsbruck Tirol Innsbruck
8 Vorarlberg Bregenz Vorarlberg Bregenz
9 Wene Wene Wien Wien

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Voorgeskiedenis tot 15 v.C.

[wysig | wysig bron]
Die Laat-Paleolitiese "Venus van Willendorf" is van die oudste beeldjies ter wêreld

Die oudste vondste van mense in Oostenryk dateer uit die Middel-Paleolitikum, die Neanderdaller se tydperk. Die vondsplek met die oudste vondste is die Repolust-grot in Stiermarke. Vele ander vondsplekke is in Neder-Oostenryk, waarvan die bekendste in die Wachau – onder andere ook die vondsplekke van die twee oudste Oostenrykse kunswerke, die vrouebeeldjies Venus van Galgenberg en die Venus van Willendorf.

Op die gedeeltelike vestiging van mense in al die streke van Oostenryk gedurende die Neolitikum, en daarmee gepaard die oorgang van Jagter-versamelaars en vissers na boerse dorpsamelewings, volg die Kopersteentydperk met die ontginning van grondstoffe, veral koper. Uit dié tydperk dateer die bekende ysmummie Ötzi wat op die Oostenryks-Italiaanse grens gevind is.

In die Bronstydperk tussen die 3de en 1ste millennium v.C. het die handelsentrums en nedersettings gegroei, veral naby vondsplekke van grondstoffe. Rondom Hallstatt is met die sistematiese ontginning van sout begin. Ná die nedersetting is ook die ouer tydperk van die Ystertydperk, die Hallstatttydperk, genoem. Die jonger Ystertydperk, ook Latènetydperk genoem, is gekenmerk deur die Kelte, wat in Suid- en Oos-Oostenryk die eerste staat gevestig het – die Koninkryk Noricum, 'n alliansie van 13 Keltiese stamme. In die weste het in dié tydperk die Raeti hulle gevestig.

Romeinse provinsie en volksverhuising 15 v.C. tot 700 n.C.

[wysig | wysig bron]
Romeinse provinsies en nedersettings op die gebied van die huidige Oostenryk
Die Romeinse Heidentor en die model van die oorspronklike toestand by Petronell-Carnuntum

Die grootste deel van die huidige Oostenrykse grondgebied is rondom 15 v.C. deur die Romeinse Republiek beset. Die Romeinse keiser Claudius het tydens sy bewind (41–54 n.C.) die Romeinse provinsie Regnum Noricum gestig, wat oor die grootste deel van die huidige Oostenryk gestrek het. Die oos van Vindobona (die huidige Wene) geleë stad Carnuntum was die grootste Romeinse stad, van die ander belangrike nedersettings was Virunum (noord van die huidige Klagenfurt) en Teurnia (naby Spittal an der Drau).

In die 2de eeu n.C. het die volksverhuising en die geleidelike ondergang van die Romeinse Ryk versnel. Ná die herhaaldelike bedreiging van die provinsie Noricum deur die Gote en ander Germaanse volke, het van die 6de eeu ander volke hulle begin vestig. Van oos tot by die Enns het die as 'n Khaghanat georganiseerde Aware en in die suide die Slawiërs as Karantaniese vorste hulle gevestig. Van die weste tot by die Enns het die toenemend gekerstende en as 'n Stamhertogdom onder die Franke georganiseerde Bajuware hulle gevestig, asook in die huidige Vorarlberg die Alemanne.

Frankiese Ryk en Heilige Romeinse Ryk 700–1806

[wysig | wysig bron]

In die 8ste eeu is die groot gebiede van die Slawiërs en Aware in die suide en ooste van die huidige Oostenryk en sover as Pannonië deur die Frankiese Ryk verower. Die verowerde Slawiese Karantanië het as deel van die Marcha orientalis, die "Oosland" van die Beierse stamhertoë, onder Beierse bewind gekom. In 805 is deur Karel die Grote die verowerde Awariese gebiede as Awariese mark (Avaris) saamgevat en die Awariese vorste onder die prefek van die Beierse Oosland geskik, met sy setel aanvanklik in Lorch in Opper-Oostenryk en later in Opper-Pannonië in die ondergeskikte Donaugraafskappe onderkant die Enns tot by die Raab (die huidige Neder-Oostenryk en die in die ooste aangrensende Donaugebied).[12] In 828 is die bestaande Awariese en Slawiese vorstedomme in die mark deur Frankiese graafskappe vervang.[12] Vervolgens het in die nuwe gebied die Bajuware (Beiere) en Franke hulle gevestig, en die Kerstening is deur onder andere die vir dié doeleinde in 798 gestigte Aartsbisdom Salzburg en die Bisdom Passau gedryf en daarmee die grondslag vir die latere Oostenryk geleë.

In 907 het die gebied egter aan die Magjare verlore gegaan en eers ná die Slag op die Lechfeld in 955 naby die huidige Augsburg kon die Oos-Frankiese Ryk die gebied herwin. Daarna het 'n nuwe Bajuwariese kolonisering gevolg.

In 976 is in die herowerde gebied met die Hertogdom Karintië die oudste hertogdom op die gebied van die huidige Oostenryk gestig, en al die Beierse Marcha orientalis is as markgraafskappe deur keiser Otto II oorhandig aan Leopold I van Oostenryk, die stamvader van die later "Babenberg" genoemde dinastie. Die oudste bekende verwysing na die naam Ostarrichi dateer uit 'n dokument wat op 1 November 996 in Bruchsal geskryf is. Daarin is 'n skenking deur Otto III aan die Biskop van Freising in Neuhofen an der Ybbs "in die oorwegend Ostarrichi genoemde streek" (regione vulgari vocabulo Ostarrichi) gedokumenteer. Dié sertifikaat word vandag in die Beierse Hoofstaatsargief in München bewaar. Die uitspraak en spelling het later in Österreich verander. Na dié gebied is ook as "Oosland" (Latyn: Austria) of Osterland verwys.

Die Maarkgraafskap Oostenryk is op 8 September 1156 deur keiser Frederik I (Barbarossa) op die hofdag in Kreuzhof by Regensburg tot 'n selfstandige, van Beiere onafhanklike Aartshertogdom Oostenryk verhef. Daarmee begin die werklike geskiedenis van Oostenryk as'n selfstandige gebied binne die Heilige Romeinse Ryk.

Rudolf IV uit die Huis van Habsburg het die Aartshertogdom Oostenryk gestig

In 1251 het op die Babenberg-dinastie Ottokar II Přemysl uit die Přemysliden-dinastie gevolg, wat in 1282 op sy beurt deur die Huis van Habsburg opgevolg is. Om sy rang te beklemtoon en sy dinastie aan die keurvorste gelyk te stel het Rudolf IV van Oostenryk sy Hertogdom Oostenryk deur die vervalste Privilegium Maius (in 1358/59; Latyn: maius, "groter", komparatief van magnus, "groot") tot die Aartshertogdom Oostenryk verhef. In 1365 het Rudolf IV ook die Universiteit van Wene gestig. Tot in 1526 het die Habsburgers hul gebied uitgebrei en 'n belangrike faktor in die Heilige Romeinse Ryk geword. Reeds die latere Babenbergers kon Stiermarke met Oostenryk verbind, die Habsburgers het daarvan met die verkryging van Karintië, Tirol, Krain en ander gebiede 'n kompleks aan lande in die oostelike Alpe saamgevoeg, waarna as "Heerskap van Oostenryk" (Herrschaft zu Österreich) verwys is. Van 1438 af het die dinastie amper aaneenlopend die Romeins-Duitse konings en die daarmee gepaard gaande keisers gestel. Na 'n deel van hulle gebied is as Vorlande of Voor-Oostenryk verwys.

Frans Geffels: "Verligtingsstryd van Wene 1683", die tweede suksesvol afgeweerde Turkse beleg van Wene, waarna Oostenryk 'n groot moondheid geword het
Martin van Meytens: "Die keiserlike familie", 1754 (Kasteel Schönbrunn): Keiser Frans I Stefan en keiserin Maria Theresia met hulle gesin

Van die laat 15de eeu tot 1690 is die Habsburgse lande gereeld binnegeval deur die Ottomaanse Ryk, wat van Hongarye weswaarts gestreef het. Ná die afweer van die Tweede Turkse beleg van Wene in 1683 is die suksesse in die oorloë, onder andere deur prins Eugenius van Savoye, in die gevegte teen die Turke in die Vrede van Karlowitz en in die Vrede van Passarowitz bevestig, bykomende aanwinste is in die Vrede van Beograd egter ongedaan gemaak.

Die Protestantse Hervorming kon aanvanklik spoedig uitbrei, maar dit is gedurende die 17de eeu teruggedryf, wat deur die destydse Habsburgers as 'n belangrike tak beskou is. In 1713 is met die Pragmatiese Sanksie vir die eerste keer 'n grondwet vir al die Habsburgse lande opgestel. Daarin is vir die eerste keer bepaal dat ná die voorsienbare uitsterwing van die regerende dinastie in die manlike lyn die opvolgingslyn deur die vroulike lyn vervul moes word. Vervolgens kon die dogter van keiser Karel VI, Maria Theresia, hom opvolg as monarg van die Habsburgse lande en is dus verkies bo die dogters van sy ouer broer Josef I. Tydens die Oostenrykse Erfenisoorlog kon Maria Theresia, wat saam met Frans I Stefan van Lotaringe die nuwe dinastie Habsburg-Lotaringe gestig het, die grootste deel van die erflande behou. Toe Pruise en Rusland in die 18de eeu Pole verdeel het, het Oostenryk Galicië verkry.

In 1804 het Frans II die Keiserryk Oostenryk gestig, om gelykheid met die nuwe Franse Keiser te handhaaf, en as Frans I die titel keiser van Oostenryk aangeneem. In 1806 het hy onder druk deur Napoleon Bonaparte afstand gedoen van die Heilige Romeinse Ryk se keiserkroon, waarmee dié ryk ophou bestaan het.

Keiserryk Oostenryk (1804–1867) en Oostenryks-Hongaarse dubbelmonargie (1867–1918)

[wysig | wysig bron]
Keiserryk Oostenryk as deel van die Duitse Bond, 1815 tot 1866

Die nuwe Keiserryk Oostenryk was 'n multinasionale staat, waar naas Duits ook Hongaars, Italiaans, Tsjeggies, Pools, Oekraïens, Roemeens, Kroaties, Serwies, Slowaaks en Sloweens gebesig is. Met sy gebiede, wat voorheen deel was van die Heilige Romeinse Ryk, het dit van 1815 af behoort aan die Duitse Bond, en die Oostenrykse verteenwoordiger het die federale vergadering gelei. In 1816 het Salzburg eindelik, ná meermalige verandering van eienaarskap, as 'n hertogdom deel geword van die Keiserryk Oostenryk, nadat dit van 1328 af 'n selfstandige geestelike rykvorstendom (Prinsaartsbisdom Salzburg) was.

Metternich het Oostenryk se buitelandse beleid gekenmerk en Europa beïnvloed oor baie jare heen gedurende die 19de eeu

Die leidende politikus tydens die Oostenrykse Biedermeier was die minister van buitelandse sake en latere kanselier Klemens Wenzel Lothar von Metternich. Sy doel was om die bevolking deur middel van sensuur en 'n spioenasiestelsel te beheer om deur restourasie die "ou stelsel", die absolute monargie te bewaar. Pruise en Rusland het in dié tydperk dieselfde doele gehad; al drie monargieë het die Heilige Alliansie gestig. Aan die anderkant het in die tydperk ook die industrialisering van Oostenryk plaasgevind. In 1837 het tussen Floridsdorf by Wene en Deutsch-Wagram die eerste stoomtrein verkeer, die eerste deel van die Nordbahn.

Onder keiser Frans Josef I (1848–1916) se bewind het Oostenryk 'n bloeitydperk van die kunste en wetenskap beleef

In die Revolusiejaar 1848 het die volke in die monargie na demokrasie en onafhanklikheid gestreef, die kanselier Metternich is weggejaag. Slegs die k.k.-weermag onder Radetzky, Jelačić en Windisch-Graetz en die hulp deur die Russiese weermag het die voortbestaan van die monargie verseker. Op 2 Desember 1848 het die 18jarige Frans Josef I aan die dinastie se wens voldoen en die siek keiser Ferdinand I opgevolg. In 1849 het die onervare, nuwe monarg hof gehou oor die opstandige Magjare en 'n dosyn van die hoogste Hongaarse generaals laat teregstel. In 1851 het hy in die oujaarsaandpatent weggedoen met die deur homself opgelegde grondwet. Sy gewildheid was gedurende die eerste 20 jaar van sy bewind uiters laag.

In die stryd om oorheersing in die Duitse Bond (Duitse Dualisme) het Pruise onder sy kanselier Bismarck 'n beslissing ten gunste van die Klein-Duitse oplossing sonder Oostenryk afgedwing. In die Oostenryks-Pruisiese Oorlog 1866 is Oostenryk, wat die Duitse Bond aangevoer het, deur Pruise in die Slag by Königgrätz verslaan. Die Duitse Bond is ontbind en Oostenryk het geen rol meer in die verdere Duitse verenigingsproses gespeel nie.

Reeds in 1859 was Oostenryk ná die Slag van Solferino sy oorheersing in Noord-Italië kwyt. Ná hulle nederlaag in die Oostenryks-Pruisiese Oorlog moes hulle in 1866 ook Veneto aan die Pruisiese bondgenoot Italië oorhandig.

Die keiser, polities verswak deur die nederlae, moes in die binneland diepgaande hervormings instel en sy neo-absolutistiese regeringstyl laat vaar. Teen sy erge weerstand het sy raadgewers die verandering in 'n grondwetlike monargie afgedwing: met die op die ondoeltreffende Oktoberdiploma 1860 volgende Februariepatent 1861, waarmee die Ryksraad as parlement ingestel is.

Die kompromie met Hongarye in 1867 het die Magjaarse aristokratie se boikot van die staat beëindig en die omskepping van die ou eenheidstaat in die Oostenryks-Hongaarse dubbelmonargie, 'n realunie, tot gevolg gehad. In Cisleithanië ('n term wat deur burokrate en regsgeleerdes gebruik is), in die nieamptelik meestal Oostenryk genoemde westelike ryksdeel, het dit met die Desembergrondwet 1867, wat tot in 1918 van krag was, in werking getree.

Die Magjare se begunstiging deur die kompromie, wat in die binnelandse beleid van Oostenryk as 't ware onafhanklik geword het, teenoor die ander volke van die monargie het die konflikte tussen die ander nasionaliteite verder aangehits. Terwyl die Tsjeggiese nasionale beweging se strewe na 'n Oostenryks-Tsjeggiese kompromie misluk het, het die Slowaakse nasionale beweging en in 'n mindere mate die deur Kroatiese intellektueles aangevoerde Illiriese beweging, wat deur Rusland ondersteun is, met die Hongaarse regering se Hongariseringsbeleid gebots.

Oostenryk-Hongarye rondom 1899
'n Etniese kaart van Oostenryk-Hongarye in 1911

In Oostenryk het die verskeie volke se nasionale wense 'n uiters moeilike politieke situasie tot gevolg gehad. In die Ryksraad, wat se stemreg vir mans geleidelik gedemokratiseer is, het van die 1880's af net kortstondige ooreenkomste bestaan; Tsjeggiese verteenwoordigers het 'n belemmeringsbeleid gevoer. Die Ryksraad is vervolgens deur die keiser oor maande heen vertraag. Die k.k.-regerings het gereeld verander, 'n beleid van korttermynhulp het die norm geword – waarnemers het daarna as Fortwursteln pleks van doelgerigte politiek verwys.

Ná die afgedwonge onttrekking uit Duitsland en Italië het die keiser en sy raadgewers oor buitelandse beleid die Balkanskiereiland as nuwe invloedsfeer gekies. In 1908 het Oostenryk-Hongarye die sedert 1878 besette Bosnië met toestemming deur die Berlynse Kongres geannekseer, wat die Bosniese anneksasiekrisis tot gevolg gehad het, waarmee Habsburg vir baie politieke aktiviste op die Balkan die vyand geword het wat die nasionale vereniging gekniehalter het. Daarbenewens het die monargie meegeding met Rusland, wat homself as beskermheer van al die Slawiërs beskou het.

Ná die Moordaanval in Sarajevo op Aartshertog Frans Ferdinand van Oostenryk-Este en sy vrou Sophie Chotek deur Gavrilo Princip het die swak gesondheid van die 84jarige keiser, die "oorlogsparty" in Wene en Boedapest se oormoed (uit 'n latere oogpunt 'n kliek van oorlogsugtiges) en die parlementlose regeringssituasie in Julie 1914 tot die oorlogsverklaring aan Serwië gelei, waaruit as gevolg van die verskeie Europese alliansies binne een week die later Eerste Wêreldoorlog genoemde Groot Oorlog uitgebreek het. Die dubbelmonargie se nederlaag, wat in herfs 1918 onvermydelik was, het tot sy einde gelei. Op 31 Oktober 1918 het die Koninkryk Hongarye uit die unie met Oostenryk onttrek. Gelyktydig het Cisleithanië sonder die ingryping van die keiser, k.k.-regering of Ryksraad ontbind: in die nuwe state Duits-Oostenryk en Tsjeggo-Slowakye; in gebiede wat met ander buite van Oostenryk-Hongarye die nuwe state Pole end Joego-Slawië gestig het en in ander, wat as gevolg van die oorlog deur buurstate (Italië, Roemenië) verower is.

Republiekwording 1918

[wysig | wysig bron]
Die Republiekmonument in Wene met borsbeelde van die drie sosiaaldemokrate Jakob Reumann, Victor Adler en Ferdinand Hanusch

Op 21 Oktober 1918 het die Ryksraadverteenwoordigers van die Duitstalige gebiede (hulle het na hulleself as Duitsers verwys), insluitende Boheme, Morawië en Oostenryks-Silesië vir die eerste keer as "voorlopige nasionale vergadering vir Duits-Oostenryk" (Provisorische Nationalversammlung für Deutschösterreich) vergader. Die einde van beide die oorlog en die monargie het al hoe duideliker geword, die land kon sonder enige hulpbronne ook geen verdere oorlogwinter bekostig nie. Die voorsitterskap het gewissel tussen die sosiaaldemokraat Karl Seitz, die christeliksosiale Johann Nepomuk Hauser en die Groot-Duitser Franz Dinghofer. Hul uitvoerende vergadering is Staatsraad genoem en het op 30 Oktober 1918 die eerste Duits-Oostenrykse regering ingeroep, na wie se ministers volgens die Angelsaksiese voorbeeld as "staatssekretaris" verwys is; Karl Renner, wat in 1945 tydens die stigting van die tweede republiek ook 'n belangrike rol ingeneem het, het die eerste kanselier geword. Die eerste voorlopige minister van buitelandse sake was Victor Adler. Op die hoofsaaklik Duitstalige gebied Oud-Oostenryk het daarvolgens 'n nuwe staat ontstaan.

Die keiser het aan die begin van November 1918 probeer die Duits-Oostenrykse Staatsraad by die wapenstilstandonderhandelings betrokke te kry. Die Staatsraad het egter beslis, dat die monargie wat die oorlog begin het, dit ook moes beëindig. Die wapenstilstand tussen Oostenryk en Italië op 3 November 1918 (die Hongaarse troepe het reeds aan die einde van Oktober, ná Hongarye se uittrede uit die dubbelmonargie, onttrek) is derhalwe deur keiser Karel I onderhandel. Kritiek soos in die Duitse Ryk, waar die burgerlike onderhandelaars van die wapenstilstand later deur regsgesindes as "Novembermisdadigers" (Novemberverbrecher) bestempel is, was derhalwe nie moontlik nie.

Lede van die k.k.-regering, die departement Lammasch en die kabinett Renner, wat die republiekwording voorberei en die botsing van die ou stelsel met die nuwe wou vermy, het die verklaring uitgevaardig, waarmee Karel I op 11 November 1918 van "al die aandele in die staatsake" (jeden Anteil an den Staatsgeschäften) afstand gedoen het. Dit was juristies gesien geen afdanking nie, maar die staatsvorm is de facto bepaal. Op 12 November is die Republiek Duits-Oostenryk uitgeroep en die voorlopige nasionale vergadering het daarop besluit, dat die Staat Duits-Oostenryk 'n demokratiese republiek en 'n deel van die Duitse republiek sou wees.

Eerste Republiek (1918–1933)

[wysig | wysig bron]
Die nuwe Republiek Oostenryk was die regsopvolger van Oostenryk-Hongarye en moes in die Verdrag van Saint-Germain afstand doen van groot gebiede
Die deur die nasionale vergadering opgeëiste gebiede van die Republiek Duits-Oostenryk (1918–1919)
Die verdrag van Saint-Germain se dokument van bekragtiging

Op 18 Desember 1918 is die vrouestemreg vir Oostenrykers ouer as 20 jaar ingevoer.[13] Dit was deel van die nuwe grondwet van Desember 1918.[14] Tot in 1920 was prostitute egter uitgesluit van die stemreg.[13]

Die koalisieregerings 1918–1920 (Staatsregering Renner I tot Renner III en Mayr I) het belangrike sosiale wette ingestel (soos die stigting van die Werkerskamer as 'n regsverteenwoordiging van die werkers se belange, die agt-uur-dag en die sosiale versekering). Die adel is in April 1919 afgeskaf, lede van die Habsburg-Lotaringe-dinastie kon net in Oostenryk bly, as hulle bely het dat hulle burgers van die republiek is en van enige aanspraak op mag afstand gedoen het. "Die voormalige draer van die kroon" (Der ehemalige Träger der Krone, soos na hom in die wet verwys is) is, aangesien hy geweier het om te bedank, permanent uit die land verwys, maar hy het vantevore na Switserland vertrek om 'n dreigende internering te voorkom. Die Habsburg-Lotaringse "familiefonds", kwasi-uitkeerbates ten bate van selfs die Habsburgers sonder inkomste, is tot staatseiendom verklaar, terwyl individuelle private bates nie aangetas is nie.

In die Verdrag van Saint-Germain in 1919 is die staatsnaam "Republiek Oostenryk" (Republik Österreich) bepaal en die volgens die grondwet beplande aansluiting by die Duitse Republiek deur die verpligting tot onafhanklikheid verhinder. Hierdie "aansluitingsverbod" is ook bepaal deur die Verdrag van Versailles se artikel 80, waarvolgens die Duitse Ryk Oostenryk se onafhanklikheid moes respekteer.

Sekere gebiede, waarvan die bevolkingsmeerderheid Duitstalig was (Sudetenland, Suid-Morawië, Suid-Tirol), is weens die seëvierende magte se teenstrydige wil nie toegelaat om deel te word van Oostenryk nie. Die Karintiese konflik teen die Joego-Slawiese troepe het egter die internasionale publiek se aandag getrek en, op versoek van die seëvierende moondhede, op 10 Oktober 1920 tot 'n referendum in Suid-Karintië gelei, waarin 'n meerderheid stemgeregtigdes hulle ten gunste van 'n toetreding van die gebied suid van die Drava tot die Republiek Oostenryk uitgespreek het.

Op 21 Oktober 1919, toe die vredesverdrag in werking getree het, is die staatsnaam in "Republiek Oostenryk" (Republik Österreich) verander en in 1920 die nuwe Oostenrykse Grondwet (Bundes-Verfassungsgesetz, B-VG) bekragtig, waarin onder andere Wene 'n deelstaat op sy eie geword het (Die grondwet in die 1929-weergawe, waarmee die bondspresident se mag uitgebrei is, is in wese sedertdien van krag). In 1921 het Burgenland, die oorwegend Duitsbevolkte deel van Wes-Hongarye, 'n "selfstandige deelstaat in die bond" (selbstständiges Land im Bund) geword. Vir die hoofstad van die gebied, Ödenburg (Sopron), is op Hongaarse versoek, wat deur Italië ondersteun is, 'n referendum gehou, waarin 'n meerderheid ten gunste van Hongarye gestem het. In die destydse Oostenrykse en Hongaarse uitbeeldings van dié referendum het verskille na vore getree. Van herfs 1920 af het die christeliksosiale en hul regse ondersteuners die regering gevorm (Kabinett Mayr II ens.). Die sosiaaldemokrate, die meerderheidsparty in die "Rooi Wene" (Rotes Wien), was nou in hewige opposisie op federale vlak.

Die Hiperinflasie in die vroeë 1920's is in 1925 met die invoering van die Oostenrykse schilling beëindig. Die konserwatiewe regering het daarin geslaag om die schilling stabiel te hou; daarna is dikwels as Alpendollar verwys. Die nadeel van hierdie streng ekonomiese beleid was dat daar in die wêreldwye Groot Depressie wat in 1929 begin het, skaars enige regeringsmaatreëls bepaal is om die ontsaglike hoë werkloosheid te bekamp.

Politieke militêre verenigings (Republikanischer Schutzbund, Freiheitsbund) het mans gelok wat as sosiaaldemokrate 'n staatsgreep gevrees het of in Heimwehren as regses die demokratisering verwerp het. In 1927 is daar in Schattendorf in Burgenland op ongewapende betogers geskiet. Een invalide en 'n kind is dood. Die nuus van die Schattendorfse uitspraak, waar die oortreders vrygespreek is, het die volgende dag, op 15 Julie 1927, in die Julie-opstand geëskaleer. Die heeltemal oorweldigde polisie het lukraak en uiters wreed in die groot skare ingeskiet en toe vlugtende betogers gejag. Tydens die Julie-opstand is 89 mense dood, waaronder vier polisiebeamptes. Die prelaatskanselier Ignaz Seipel ("Geen genade nie!" – Keine Milde!) het in die parlement die polisie se skandalige optrede verdedig.

In die daaropvolgende jare het die swak ekonomiese toestand en politieke konflikte Oostenryk se krisis verder aangehits. In hierdie tydperk was daar aan die een kant idees vir 'n Oostenrykse identiteit en 'n Oostenrykse patriotisme en aan die anderkant 'n sterk neiging ten gunste van 'n Groot-Duitse oplossing en die aansluiting van Oostenryk by Duitsland. Die Austromarxisme se einddoel was die "diktatuur van die proletariaat" (Diktatur des Proletariats) en hy het daarmee al die konserwatiewes opgeskrik; hulle wou hierdie doel egter op 'n demokratiese wyse bereik.

Aan die regterkant van die partyspektrum het tot 'n mate die mening geheers dat demokrasie nie geskik was om die land se probleme op te los nie. Hiervoor was Benito Mussolini 'n voorbeeld. Een van die christeliksosiale politici, wat hierdie standpunt ingeneem het (daar was ook christeliksosiale demokrate soos Leopold Kunschak), was die kanselier Engelbert Dollfuss. Nadat die nasionale raad ná die bedanking van al drie presidente weens 'n twis oor 'n stemming homself ontbind het, het hy in Maart 1933 met polisiegeweld sy herbyeenkoms verhoed en die "parlement se selfafskakeling" (Selbstausschaltung des Parlaments) verkondig. 'n Petisie vir die herstel van die regstaat, wat deur meer as een miljoen mense onderteken en aan president Miklas oorhandig is, was onsuksesvol, hoewel Miklas die ongrondwetlikheid van Dollfuss se optrede bewus was.

Austrofascistiese Standestaat (1933–1938)

[wysig | wysig bron]
Weermagsoldate voor die Staatsopera in Wene, 12 Februarie 1934

Dollfuss het die steeds geldige oorlogsekonomiese magtigingswet van 1917 benut om van nou af wette deur ordonnansies van die federale regering op eie gesag te verander of in te stel. Op 12 Februarie 1934 het die tot op daardie stadium smeulende konflik tussen die regerende christeliksosiale (Vaterländische Front) en die opponerende sosiaaldemokrate in die deur historici soms Oostenrykse Burgeroorlog genoemde gewelddadige botsings hul hoogtepunt bereik. Die regering het die weermag en sy kanonne ontplooi. Op dieselfde dag is die Weense burgemeester Karl Seitz ontslaan en die Sosiaaldemokratiese Party asook hul voorgangerorganisasies verbied. Van die Schutzbund-lede is ter dood veroordeel.

Vervolgens het Dollfuss op 1 Mei 1934 in die outoritêre "Meigrondwet" die Bundesstaat Österreich op 'n staande basis (Standestaat) uitgeroep.[15] Dit was 'n diktatuur, wat al destyds (byvoorbeeld in 'n privaat brief van president Miklas, soos Friedrich Heer berig) Austrofascisme genoem is.

Enkele weke later het aanhangers van die sedert 1933 in Oostenryk verbode NSDAP die Julie-staatsgreep uitgevoer. Op 25 Julie 1934 het enkele putschiste daarin geslaag om die federale kanselary binne te dring, waar Dollfuss so erg beseer is, dat hy kort daarna in sy amp oorlede is, nadat hy mediese hulp geweier is. Die staatsgreeppoging is binne enkele ure verslaan. Kurt Schuschnigg het die nuwe kanselier geword.

Die Standestaat se beleid was daarop gemik om Oostenryk as die "beter Duitse Staat" voor te stel. Trouens was Oostenryk voor die aansluiting aan Nazi-Duitsland die heelwat milder diktatuur: Verskeie mense wat deur die nasionaalsosialiste vervolg is, veral akteurs en skrywers, het van 1934 tot 1938 in Oostenryk geskuil. In sy uiterlike voorkoms het die regime (later mededingende fascisme genoem) elemente van die fascistiese Italië en Nazi-Duitsland oorgeneem: Optogte met vele vlae, die eenheidsorganisasie Vaterländische Front, die leiersbeginsel en die verbod op partye.

Terwyl Adolf Hitler tydens die Julie-staatsgreep onbetrokkenheid voorgegee het, omdat Mussolini destyds Oostenryk se onafhanklikheid wou beskerm, het Nazi-Duitsland se druk op Oostenryk van 1934 af elke jaar toegeneem. Schuschnigg is tydens vergaderings deur Hitler geïntimideer en afgepers om "nasionale" (d.w.s. Duitsnasionale) ministers vir sy regering te benoem. Nadat die kanselier in 'n daad van desperaatheid in Maart 1938 'n referendum oor Oostenryk se onafhanklikheid aangekondig het, het Göring in telefoondreigmente die instelling van 'n nasionaalsosialistiese regering onder Arthur Seyß-Inquart deur president Miklas afgedwing. Gelyktydig met hul ampsaanvaarding op 12 Maart 1938 het die lankal voorbereide inval van Duitse troepe plaasgevind (Unternehmen Otto). Teen die tyd het op sommige plekke soos in Graz, die plaaslike Nazi's reeds die mag oorgeneem. Op 13 Maart 1938 het Hitler, gemotiveer deur die geesdrif van sy Oostenrykse volgelinge, die aansluitingswet, wat hy nie oorspronklik op hierdie tydstip wou instel nie, afgekondig. Die terreur teen die Oostenrykse Jode het onmiddellik begin, wat ook sogenoemde arisasie, d.w.s. die diefstal van Joodse eiendom, ingesluit het.[16]

As 'n deel van Nazi-Duitsland (1938–1945)

[wysig | wysig bron]
Oostenryk in 1941, toe dit "Oos-Mark" genoem is
Op 15 Maart 1938 kondig Adolf Hitler die anneksasie van Oostenryk aan voor die juigende skares op Heldenplatz vanaf die balkon van die Hofburg
Bevryding van die Konsentrasiekamp Mauthausen op 6 Mei 1945

Die ernstigste gevolg van die "Anschluss" was die dadelike begin van die terreur teen Oostenrykse Jode, wat later in die massamoord ontaard het. Om rassistiese of politieke redes ongewenste mense het, solank hulle nie in die konsentrasiekampe beland het nie, ter tienduisende na die buiteland gevlug.

Oostenryk het in die Duitse Ryk aanvanklik as 'n land voortbestaan, maar op 14 April 1939 is die voormalige deelstate en Wene deur die "Oos-Mark-wet" (Ostmarkgesetz) in nasionaalsosialistiese ryksgoue verander, die naam Oostenryk sou verdwyn: Vervolgens is die aanvanklik "Land Oostenryk (Land Österreich) genoemde gebied kort daarna "Oos-Mark" (Ostmark) en van 1942 af "Alpe- en Donau-ryksgoue" (Alpen- und Donau-Reichsgaue) genoem. Burgenland is tussen die ryksgoue Neder-Donau en Stiermarke verdeel, Oos-Tirol by Karintië ingelyf en die Stiermarkse deel van die Salzkammergut by die ryksgou Opper-Donau ingelyf. Wene is op koste van die omliggende gebied verdriedubbel.

Die oorspronklik Oostenrykse Adolf Hitler het ná die mislukking van sy professionele loopbaan in sy tuisland en sy politieke loopbaan in Duitsland Oostenryk in die nasionaalsosialistiese willekeurige beleid gevoer en het vervolgens al die verwysings na 'n selfstandigheid van die land laat verwyder. Aan Hitler se beleid en misdade teen die mensdom het talle Oostenrykers met groot ywer deelgeneem. Bekende misdadigers soos Arthur Seyß-Inquart, Ernst Kaltenbrunner en Alexander Löhr was Oostenrykers. Oostenrykers was konsentrasiekampopsieners, SS-lede en Gestapo-werknemers. Hoewel hulle slegs 8% van die Groot-Duitse Ryk se bevolking uitgemaak het, was 14% van die SS-lede, 40% van die konsentrasiekampopsieners en 70% van Adolf Eichmann se staf van 'n Oostenrykse herkoms.[17][18]

In 1938 is die "Dubbellaerstelsel Mauthausen/Gusen" opgerg, wat die konsentrasiekampe Mauthausen en Gusen behels het. Oor die jare heen is aan dié laerstelsel 'n netwerk aan takkampe gekoppel, wat oor die hele Oostenryk gestrek het. Uit die hele Europa is in hierdie konsentrasiekampe dwangarbeiders onder onmenslike toestande onder andere in die wapenvervaardiging en padbou ingespan. Ongeveer 100 000 gevangenes is alleen in Mauthausen dood.

Op 8 Mei 1945 is die Tweede Wêreldoorlog in Europa eindelik met die onvoorwaardelike oorgawe van die Duitse Wehrmacht beëindig.

Naoorlogse tydperk en Tweede Republiek (1945–1999)

[wysig | wysig bron]

In 1945 is met die einde van die oorlog en Groot-Duitsland se nederlaag Oostenryk se onafhanklikheid herstel. Dit het die latere seëvierende magte reeds in 1943 in die Moskouse Deklarasie bepaal. Reeds op 27 April 1945 het die voorlopige staatsregering met Karl Renner as kanselier byeengekom en die herstigting van die republiek verklaar. Kort daarna is die grondwet van 1 Oktober 1920 in die weergawe van 1929 deur die "wet op grondwetlike oorgang" (Verfassungsüberleitungsgesetz) heringestel. Uitsonderings was bepalings wat voorsiening gemaak het vir die verandering van die Federale Raad in 'n staatsraad. Oostenryk het daarmee weer 'n demokrasie met magskeiding, verteenwoordigende, parlementêre en federalistiese elemente geword.

Een van die eerste wette wat deur die voorlopige staatsregering afgekondig is, was die verbodswet, waarmee die NSDAP, hulle militêre verenigings en al die organisasies, wat daarmee verbind kon word, ontbind en verbied is. Die volksverkiesing van die president is, soos reeds in 1932, geskors en Karl Renner is in Desember 1945 deur die federale vergadering eenparig as staatshoof verkies. Daarna is Oostenryk tot in 1947 volgens die wil van die besettingsmagte deur 'n regering van al die partye (ÖVP, SPÖ, KPÖ) met Leopold Figl as kanselier regeer. Van 19 November 1947 af het ÖVP en SPÖ 'n koalisie gevorm. Dit het tot in 1966 aan bewind gebly. Nadat Renner einde 1950 dood is, is op 27 Mei 1951 Theodor Körner as die kandidaat van die SPÖ as president verkies. Dus was dit die eerste volksverkiesing van 'n staatshoof in die Oostenrykse geskiedenis.

Oostenryk is ná die oorlog tot in 1955 in vier geallieerde besettingsones verdeel

Tot in 1955 was Oostenryk, nes die naoorlogse Duitsland, in besettingsones verdeel. Die grootste sone was die Sowjetse s'n, wat Opper-Oostenryk noord van die Donau (Mühlviertel) en oos van die Enns, Neder-Oostenryk in die grense van 1937 (d.w.s. voor die stigting van Groot-Wene), die herstigte Burgenland en die Weense distrikte 2, 4, 10, 20, 21 en 22 ingesluit het. Maatskappye wat deur die Sowjetunie as "Duitse eiendom" (Deutsches Eigentum) gekonfiskeer is, is saamgevoeg in 'n groep genaamd "USIA", wat volgens die besluite van die Potsdamse konferensie deel was van die vergoeding wat Oostenryk moes betaal. Onder die Oostenrykers, sowel in die bevolking as in die politiek, het ná 1945 en in die daaropvolgende dekades die mening oorheers, dat Oostenryk (soos in die Moskouse Deklarasie geformuleer) "Hitler se eerste slagoffer" was, waarmee die medepligtigheid aan die Tweede Wêreldoorlog en die Holocaust afgemaak of ontken sou word. Die oorwegende deel van die bevolking het later voorgegee dat daar "niks anders oorgebly het nie".[19] Een gevolg van die "slagoffertesis" (Opferthese) was die sedertdien traag uitgevoerde restitusie van gesteelde eiendom.

Met die ondertekening van die Oostenrykse Staatsverdrag op 15 Mei 1955 deur Leopold Figl vir die federale regering Raab I en deur verteenwoordigers van die vier seëvierende magte en die daarvan formeel aparte (wat nie in die staatsverdrag opgeneem is nie) belydenis tot neutraliteit en die verpligting, geen verdere poging vir 'n aansluiting by Duitsland te onderneem nie, het die republiek op 27 Julie 1955 sy volle soewereiniteit herwin.

Op 26 Oktober 1955, ná die besettingstroepe se onttrekking, het die nasionale raad op Oostenryk se ewige neutraliteit besluit; hierdie dag is sedert 1965 Oostenryk se nasionale dag. Die neutraliteit (vandag eerder: onverbondenheid) is 'n militêre een en verwys sedert sy begin na geen gelykafstand tussen die waardestelsels van wes en oos.[20] As gevolg van sy neutraliteit kon Oostenryk sowel met die Westerse as die destydse Oosterse lande goeie kulturele en ekonomiese bande aangaan, wat die land vir 'n lang tyd gehelp het gedurende die tydperk van heropbou.

Op 14 Desember 1955 het Oostenryk 'n lidland van die Verenigde Nasies geword en was sowel in 1973/74 as in 1991/92 'n lid van die Veiligheidsraad. Reeds in 1956/57 het die Internasionale Atoomenergie-agentskap (IAEO) sy hoofkantoor in Wene geopen, in 1969 het die Verenigde Nasies se Industriële Ontwikkelingsorganisasie (UNIDO) gevolg, ander VN-agentskappe het later bygekom. Vir die tydperk 2009/10 was Oostenryk weer 'n niepermanente lid van die Veiligheidsraad.[21]

Die konflik met Italië oor die oorwegend Duitstalige Suid-Tirol, wat tot in 1918 deel was van die Oostenrykse rykshelfte en ná die Eerste Wêreldoorlog deur Italië geannekseer is, het Oostenryk in die 1960's na die VN gebring. Die in 1969 afgekondigde outonomie vir die Suit-Tiroolse bevolking was suksesvol en is sedertdien uitgebrei.

Van 1966 tot 1970 was die federale regering Klaus II die eerste regering van die Tweede Republiek deur slegs een party, gevorm deur die christelikdemokratiese ÖVP onder Josef Klaus. In 1970–1983 het sosialistiese regerings gevolg onder Bruno Kreisky (regering Kreisky I tot Kreisky IV). Vir Oostenryk belangrik was in hierdie tydperk die wye buitelandse beleid van Kreisky, wat onder andere die oprigting van die Weense Uno-City en die internasionalisering van die Palestynse kwessie, wat Kreisky vir die eerste keer na die VN gebring het, ingesluit het.

In 1978 is 'n referendum gehou oor die deur die Kreisky-regering ondersteunde installasie van die Zwentendorf-kernaanleg; dit is afgekeur. Oostenryk lewer sedertdien geen kernkrag op nie en het in sy grondwet vir altyd daarvan afstand gedoen.

Die Weense Uno-City, die Verenigde Nasies se derde hoofkantoor

In 1979 het Wene met die voltooiing van die Uno-City die derde amptelike hoofkantoor van die Verenigde Nasies geword na New York en Genève. Onafhanklik daarvan het die OPUL hulle ook in Wene gevestig.

In 1983 het die aftredende Bruno Kreisky 'n klein koalisie tussen die sosiaaldemokrate (SPÖ) en die destydse nasionaalliberale FPÖ bemiddel; die FPÖ het hom reeds in 1970 deur stilbly aan bewind gebring (regering Sinowatz). Ná die verkiesing van die regsgesinde Jörg Haider as voorsitter van die FPÖ in 1986 is die koalisie deur die SPÖ onder Franz Vranitzky beëindig.

Die verbrokkeling van die Oosblok het weggedoen met die Ystergordyn, wat die ontwikkeling van Oos-Oostenryk 1945–1989 beïnvloed het.

Van 1987 tot 1999 het die sosiaaldemokrate (SPÖ) "groot koalisies" aangeknoop met die christelikdemokratiese ÖVP (regering Vranitzky I tot Vranitzky V en regering Klima). In dié tydperk het Oostenryk 'n lidland geword van die Europese Unie (in 1995), waarvoor veral Alois Mock en Vranitzky gepleit het. Tydens die referendum in 1994 was tweederdes ten gunste daarvan.

Onlangse ontwikkeling

[wysig | wysig bron]
Oostenryk het in 1995 saam met Finland en Swede by die Europese Unie aangesluit
Die eurosone:

   Stigtingslede in 1999 (kontantgebruik sedert 2002)

   Lede wat later aangesluit het

   EU-lidlande sonder euro

Kaart van die Schengen-ooreenkoms:

   Lede van die Schengen-ooreenkoms

   Kandidaatlande

   De facto-deelnemer

Sedert die grense van die voormalige Oosblok in 1989/90 geopen is, is Oostenryk nie langer aan die oostelike grens van die Westers-georiënteerde Europa geleë nie. Oostenryk het een van die grootste beleggers in die hervormende lande geword. In die eerste helfte van die 1990's het mense uit die strydende Joego-Slawiese nasies veral in Oostenryk toevlug gevind.

Ná 'n positiewe referendum op 12 Junie 1994 het Oostenryk op 1 Januarie 1995 (saam met Swede en Finland) by die Europese Unie aangesluit.

Ná die einde van die Koue Oorlog in 1991 en veral ná die EU-toetrede in 1995 het Oostenryk se ou neutraliteitsbeleid uitgedien. Die term neutraliteit is weens die ondertekende EU-verdrae veral op onverbondenheid beperk en het hoofsaaklik 'n identiteitspolitieke betekenis; de facto het Oostenryk as 'n volle EU-lid, wat op 'n gemeensame verdedigingsbeleid mik, hierdie projek goedgekeur en kan dus nie meer neutral of onverbonde wees nie.

Oostenryk het in die tweede helfte van 1998 en in die eerste helfte 2006 die voorsitterskap van die Europese Unie ingeneem. Op 1 Januarie 2002 was Oostenryk een van twaalf lande wat die euro as geldeenheid ingevoer het; dit het die Oostenrykse schilling vervang. In 1995 het Oostenryk die Schengen-ooreenkoms toegetree. Op 1 Desember 1997 het dit grenskontroles met Duitsland en Italië opgehef; sedertdien behoort dit aan die Schengensone. In die tweede helfte van 2018 het Oostenryk vir die derde keer die voorsitterskap van die Europese Unie ingeneem.

Die SPÖ-ÖVP-koalisieregerings 1986–2000 is in 2000–2006 deur regerings van die ÖVP met die FPÖ opgevolg (regering Schüssel I en Schüssel II). Die destydse 14 ander EU-lidlande het op die regeringsdeelname van die FPÖ, wat hulle as verregs beskou het, gereageer met 'n tydelike bilaterale kontakverbod op regeringsvlak ("EU-sanksies"). Ná die FPÖ-skeiding in 2005 het die nuutgestigte BZÖ 'n regeringsvennoot geword.

In 2007/2008 was ná nuwe verkiesings weer 'n SPÖ-ÖVP-koalisie aan bewind (regering Gusenbauer). Ná die uitbreiding van die Schengen-gebied om Tsjeggië, Slowakye, Hongarye en Slowenië aan die einde van 2007, aan die einde van 2008 om Switserland en aan die einde van 2011 om Liechtenstein is Oostenryk volledig deur Schengen-lande omring.

Die nuwe verkiesings in September 2008, wat deur die ÖVP veroorsaak is, het tot 'n nuwe rooi-swart koalisie (regering Faymann) onder die partyleiers Werner Faymann (SPÖ) en Josef Pröll (ÖVP) gelei.[22] Ná Josef Prölls se bedanking het in 2011 Michael Spindelegger nuwe adjunkkanselier geword.[23]

Ná 'n verlenging van die nasionale raad se verkiesingstydperk van vier tot vyf jaar is die nasionale raad in 2013 vir die eerste keer vyf jaar ná die vorige verkies. In hierdie verkiesing het die destydse regeringspartye SPÖ en ÖVP ondanks verliese weer sterkste en naassterkste party geword (saam 99 van 183 setels in die nasionale raad). Van 2013 tot 2017 het SPÖ en ÖVP weer 'n koalisieregering gevorm (regering Faymann II, in 2016/17 regering Kern).

Ná die vroeë verkiesings in 2017 wat die ÖVP gewen het, tot die Ibiza-skandaal in 2019, het 'n koalisie van ÖVP en FPÖ regeer (regering Kurz I), ná haar ontkeuring in die nasionale raad deur 'n mosie van wantroue het Oostenryk in 2019/20 vir die eerste keer 'n regering onder 'n vroulike kanselier gehad (regering Bierlein), ná die verkiesings op 29 September 2019 was van Januarie 2020 tot 2021 vir die eerste keer op federale vlak 'n koalisie van ÖVP en Groenes (regering Kurz II) aan bewind.

Ná die advertensie-skandaal het Sebastian Kurz op 9 Oktober 2021 as kanselier bedank. Kurz is in drie ondersoeke deur die wetstoepassingsagentskap as 'n verdagte gelys. As sy opvolger is deur die ÖVP die minister van buitelandse beleid, Alexander Schallenberg, voorgestel. Die regering Kurz II se oorblywende 15 ministers het op 11 Oktober 2021 by die regering onder Alexander Schallenberg (ÖVP) aangesluit. In Desember 2021 het Karl Nehammer nuwe kanselier geword. Die koalisie met die Groenes het aan bewind gebly. Alexander Van der Bellen het ná die noue presidentsverkiesing in 2016 daarin geslaag om in die eerste stemming in 2022 herkies te word.[24]

Demografie

[wysig | wysig bron]

Samestelling

[wysig | wysig bron]
Oostenryk se tradisionele kleredragte toon sekere ooreenkomste met dié van Beiere: Tirolse skutters in 2011 in die lykstoet van Otto von Habsburg

Met uitsondering van die deelstaat Vorarlberg en klein dele van Tirol (Außerfern), wat deur Alemanniese dialeksprekers bewoon word, is die meeste Duitssprekende Oostenrykers nakomelinge van Middeleeuse setlaars uit Beiere (dikwels Bajuware genoem). Naas betreklik homogene Beierse vestigingsgebiede soos Opper-Oostenryk was daar egter ook geweste waar Beierse koloniste in meerdere of mindere mate reeds voor die Karolingiese tydperk (8ste eeu) met die oorspronklike bevolking vermeng het, soos in Tirol, Vorarlberg en Salzburg, drie streke met histories Retoromaanse bevolkings. Retoromaanssprekendes is geleidelik teruggedring tot afgeleë bergvalleie soos die Montafon, en dele van die Bo-Innriviervallei.

Veral in Karintië en Stiermarke is die Beierse vestigingsgebiede in die Karolingiese periode uitgebrei na histories Slawiessprekende streke waar nie-Duitssprekendes geleidelik geassimileer is – behalwe vir kleiner groepe soos Karintiese Slowene na wie dikwels as Windische verwys word. Sommige gebiede soos Neder-Oostenryk, die ooste van Stiermarke en Burgenland, wat deur Beierse setlars gekoloniseer is, het eeue lank bevolkingsverlies gely as gevolg van invalle deur ruitervolke uit die ooste (die laaste grensoorloë teen Hongaarse invallers is in die 10de eeu gevoer) en, in die 16de en 17de eeu, oorloë teen die Turke. In hierdie grensgebiede is – naas Duitssprekende setlaars uit ander dele van die Heilige Romeinse Ryk – ook koloniste uit Kroasië en Hongarye gevestig waarvan kleiner groepe hul taal en kultuur bewaar het.

Demografiese ontwikkeling

[wysig | wysig bron]
Die bevolkingsdigtheid van Oostenryk. Sowat 'n vyfde van die totale bevolking (1,7 miljoen) is in die hoofstad Wene gekonsentreer

Die eerste sensus, wat aan die huidige kriteria voldoen, is in Oostenryk-Hongarye in 1869/1870 gehou. Sedertdien het die bevolking op die gebied van die huidige Oostenryk tot die laaste volkstelling voor die begin van die Eerste Wêreldoorlog, wat in 1913 gehou is, steeds toegeneem.

'n Proporsionele groot deel van die bevolkingsgroei was aan binnelandse migrasie uit die kroonlande te danke. Ná die oorlog het die bevolking as gevolg van oorlogshandelinge en remigrasie na die voormalige kroonlande volgens statistieke van 1919 met 347 000 gekrimp. Daarna het die land tot en met 1935 weer 'n bevolkingstoename ondervind. Tot 1939 het die bevolking as gevolg van die Oostenrykse burgeroorlog asook emigrasie weens politieke vervolging en rassediskriminasie afgeneem tot 6,65 miljoen.

In 1946 is die bevolking op die basis van voedselkaarte, wat aan inwoners verskaf is, op sowat sewe miljoen beraam – 'n nuwe rekordsyfer. Die groot oorlogsverliese is deur 'n reusestroom vlugtelinge meer as gekompenseer.

Tot en met 1953 het die vlugtelinge en sogenaamde displaced persons grotendeels na hul tuislande teruggekeer of na ander lande geëmigreer sodat die bevolking weer tot 6,93 miljoen gedaal het. Danksy die natuurlike bevolkingsaanwas het die inwonertal tot 7,6 miljoen in 1974 gestyg. Ná 'n fase van stagnasie het immigrasie – onder meer as gevolg van die oorlog in Joego-Slawië – vanaf die laat 1980's weer tot stewige groei gelei.

Vroeg in 2016 is die bevolking op naastenby 8,6 miljoen beraam. Die aantal Oostenrykse burgers, wat in die buiteland woonagtig is, is op 1 Julie 2016 op 564 700 beraam, waarvan 254 000 in Duitsland, 64 000 in Switserland, 35 000 in die Verenigde State, 25 000 in Australië, 25 000 in die Verenigde Koninkryk, 17 000 in Argentinië en 11 000 in Suid-Afrika.[25]

Bevolkingsbewegings

[wysig | wysig bron]
Toe Oostenryk nog 'n emigrasieland was: Oostenryks-Hongaarse passasiers op 'n skip wat hulle na die Verenigde State sal neem (vroeë 20ste eeu)

Die huidige federale gebied en hier veral Wene was al in die vyftig jaar voor die Eerste Wêreldoorlog 'n gewilde bestemming vir migrante uit ander deelgebiede van die Oostenryks-Hongaarse monargie, veral Boheme en Morawië. Wene se sterk bevolkingsgroei tot meer as twee miljoen inwoners in 1910 was onder meer aan hierdie binnelandse migrasie te danke. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het talle bewoners van Galisië, waaronder 'n groot persentasie Joodse burgers, voor die Russiese leër na Wene gevlug.

Ná die val van Oostenryk-Hongarye en die stigting van Tsjeggo-Slowakye as 'n onafhanklike republiek in 1918 het honderdduisende Tsjegge na hul tuisland teruggekeer. In die nuwe en kleiner Republiek Oostenryk was daar tot die begin van die Tweede Wêreldoorlog jaarliks meer emigrante as buitelanders wat hulle hier kom vestig het. Die groot emigrasiegolf van 1938 en 1939 was 'n gevolg van die land se haglike politieke situasie ná die insluiting by die Duitse Ryk. Sowel politieke vlugtelinge, wat vanaf 1933 uit Duitsland na Oostenryk geëmigreer het, asook 140 000 Joodse Oostenrykers het die land destyds verlaat.

Ook die immigrasiegolwe tussen 1920 en 1968 is deur politieke omstandighede veroorsak, soos dié van

  • 1920 uit Hongarye weens die burgeroorlog in dié land,
  • 1933–1937 uit Duitsland as gevolg van die Nasionaal-Sosialistiese diktatuur,
  • 1956 uit Hongarye nadat die volksopstand daar deur Sowjet-Russiese troepe bloedig onderdruk is, en
  • 1968 uit Tsjeggo-Slowakye ná die einde van die Praagse Lente.

Die ekonomiese opswaai sedert die vyftigerjare, wat van Oostenryk 'n welvarende land gemaak het, het tot 'n tekort aan mannekrag gelei sodat gasarbeiders in Suid-Europa en Turkye gewerf is. Later het duisende vlugtelinge hulle in die Alperepubliek gevestig, waaronder bewoners van die voormalige Joego-Slawië wat in die 1990's deur burgeroorlog geteister is.

Die groei in die Oostenrykse arbeidsmark het in die vroeë 21ste eeu ook steeds meer Duitsers na die suidelike buurland gelok. Op 1 Januarie 2008 was Duitsers reeds die grootste groep buitelanders met altesaam 124 710 immigrante. Daarnaas het ook talle immigrante uit die voormalige Joego-Slawië en Turkye hulle in Oostenryk gevestig. Volgens amptelike statistieke was daar op 1 Januarie 2016 566 Suid-Afrikaanse burgers in die land.[26]

Die 42ste uitgawe van die Oostenrykse Woordeboek (Österreichisches Wörterbuch)
Die hedendaagse verspreiding van kontinentale Hoogduitse tale:

   Sentraal-Duitse dialekte

   Hoog-Duitse dialekte

Opperduits word onderskei van Middelduits deurdat die Tweede Germaanse klankverskuiwing in 'n groter mate daarin deurgevoer is.

'n Tweetalige straatbord in Oberwart, Burgenland

Volgens artikel 8 van die federale grondwet (Bundesverfassung, Wet aangaande die Federale Grondwet van 1920) is Duits die staatstaal van die Republiek Oostenryk. Oostenrykse Duits – 'n nasionale standaardvariant van Duits as plurisentriese taal – is die moedertaal van sowat 98 persent van Oostenrykse staatsburgers.

Oostenrykse Duits verskil ten opsigte van woordeskat, uitspraak en intonasie, maar ook grammatikale kenmerke van Duitse en Switserse Hoogduits. Die "Oostenrykse Woordeboek" (Österreichisches Wörterbuch), waarin die woordeskat opgeteken is, word sedert 1951 in opdrag van die Oostenrykse Departement van Onderwys saamgestel en fungeer as amptelike naslaanwerk wat verpligtend is vir onderwysinstellings en openbare instellings. Die mees onlangse 48ste uitgawe het in 2022 verskyn. Dele van die Oostenrykse woordeskat maak deel uit van die Beierse dialekkontinuüm en is sodoende ook in die aangrensende Duitse deelstaat Beiere gebruiklik.

Sommige terme en talle besonderhede ten opsigte van die uitspraak het hulle oorsprong in plaaslike dialekte, terwyl baie ander uit die tale van die nie-Duitssprekende Kroonlande van die Habsburgse dubbelmonargie ontleen is. Die Oostenrykse Duitse ampstaal in die Habsburgse Ryk het daarnaas 'n groot verskeidenheid regs- en administratiewe terme ontwikkel. Kulinêre terme vorm 'n ander belangrike deel van die Oostenrykse (en Beierse) woordeskat wat merkbaar verskil van die standaardtaal in Duitsland. Sommige van hulle word volgens ooreenkomste met die Europese Unie beskerm om die toepassing van vreemde Duitse vakterme volgens EU-reg te vermy.[27]

In die alledaagse lewe word in plaas van die standaardtaal dikwels een van talle Hoogduitse dialekte gebesig wat deel uitmaak van die Alemanniese (in die deelstaat Vorarlberg en die Tirolse Außerfern) en Beierse (in alle deelstate behalwe vir Vorarlberg) dialekfamilies. Sowat sewe miljoen Oostenrykers praat respektiewelik 'n Sentraal- of Suid-Beierse dialek, of 'n omgangstaal wat deur hierdie dialekte beïnvloed is.

Die inheemse etniese minderhede in Oostenryk – Burgenland-Kroate, Slowene en Hongare – het 'n grondwetlike aanspraak op moedertaalonderrig en -kommunikasie met staatsinstellings. Burgenlandse Kroaties en Sloweens is naas Duits amptelike tale in die administratiewe en juridiese distrikte van Stiermarke, Burgenland en Karintië met 'n Sloweenssprekende of gemengde bevolking. In sommige munisipaliteite in Burgenland fungeer Hongaars as tweede ampstaal.

Daarnaas word ook Romani, die taal van Roma, deur die staat as minderheidstaal erken, net soos Tsjeggies, Slowaaks en die Oostenrykse gebaretaal.

Ekonomie

[wysig | wysig bron]

Kenmerke

[wysig | wysig bron]
Wolkekrabbers in Wene se Donau City-sakedistrik. Die DC Tower 1 (links) is die hoogste in Oostenryk
Die uitstallingsterrein van Messe Wien
Die Weense hoofkwartier van OMV, 'n rolspeler in die internasionale energiebedryf
Voestalpine-staalaanleg in Donawitz, Leoben (deelstaat Stiermarke)
Puch G, 'n vierwielaangedrewe motor wat deur Steyr-Daimler-Puch in Oostenryk vervaardig word
Koeie naby die bergpiek van Schneeberg, Neder-Oostenryk
Kitzbühel is van Oostenryk se beroemde wintertoeristiese stede

Oostenryk se ligging naby Duitsland en markte in Sentraal- en Suidoos-Europa word net soos die politieke en makro-ekonomiese stabiliteit en die sosiale vrede (met baie min stakings) as die land se sterk punte beskou. Die Oostenrykse ekonomie se swak punte is die relatief klein binnelandse mark, sy beperkte natuurlike hulpbronne, die oorvleuelende bevoegdhede van federale en deelstaatliggame, die relatief klein persentasie beroepsmense met akademiese grade en die ekonomiese afhanklikheid van die land se vernaamste handelsvennoot Duitsland, die bestemming van 30 persent van alle Oostenrykse uitvoere.[28]

Oostenryk, en hier veral die hoofstad Wene, word vanweë sy kulturele verlede as 'n poort na Suidoos-Europa beskou. Vir baie ondernemings, wat handelsbande met dié streek wil aanknoop, is die land 'n ideale keuse vir die vestiging van hoof- of streekskwartiere. In vergelyking met mededingers soos Pole, Slowakye, Tsjeggië en Hongarye speel Oostenryk met meer as 300 hoofkwartiere inderdaad 'n leidende rol in dié verband. Baie ondernemings, waaronder ook Duitse maatskappye, doen hul sake met aangrensende markte soos Hongarye, Tsjeggië of Kroasië vanuit Wene. Personeel met relevante taalkennis of banke, wat vertroud is met die betrokke markte, is volop beskikbaar in Oostenryk.

Ekonomiese sektore

[wysig | wysig bron]

In teenstelling met sy westelike buurland Switserland beskik Oostenryk oor swaar nywerhede wat gedeeltelik gebruik maak van plaaslike hulpbronne soos waterkrag. Klein hoeveelhede ruolie en aardgas word in die Weense Bekken ontgin, terwyl die grootste aandeel fossielbrandstowwe uit die buiteland ingevoer moet word. Die oostelike Alpegebied, veral in die deelstaat Stiermarke, is ryk aan ysterertse, terwyl die yster- en staalbedryf in Donawitz in die Alpe en die Alpynse voetheuwelgebied gesetel is. Die laasgenoemde streek het tot die sentrum van Oostenryk se metaal- en chemiese nywerhede asook motorvervaardiging ontwikkel. Wene en sy omgewing vorm 'n belangrike nywerheidsentrum.

Die nywerheidsektor is steeds een van die vernaamste dryfkragte agter die ekonomiese ontwikkeling, en sy produksie het tussen 1995 en 2003 met nominaal 28 persent tot €90,9 miljard gegroei. Die belangrikste industriële sektore is masjien- en staalbou (€11,4 miljard), chemiese nywerhede (€10,6 miljard) en elektriese en elektroniese nywerhede (€10,2 miljard). Talle vervaardigers van motoronderdele is in die land gesetel. 'n Verdere kenmerk van Oostenryk se nywerheidsektor is die bydrae van middelgroot ondernemings waarvan baie as hoogs gespesialiseerde vervaardigers tot wêreldmarkleiers in hul segment ontwikkel het.[29]

Alhoewel die dienstesektor met handel en toerisme die belangrikste ekonomiese sektore verteenwoordig, is Oostenryk nogtans 'n hoogs ontwikkelde nywerheidsland en met 'n gemiddelde bruto binnelandse produk (BBP) van meer as €39 380 per capita en 'n nominale BBP van €337 miljard een van die welvarendste lidstate van die Europese Unie (EU).[30] Die dienstesektor lewer die grootste bydrae tot die BBP met 63 persent. Hierdie sektor ervaar ook die snelste groei. 'n Sesde van Oostenryk se drie miljoen werknemers is in die handel werksaam wat 13 persent van die BBP oplewer. Die toerismesektor verteenwoordig met 220 000 werknemers in 40 000 sakeondernemings 'n tiende van die bruto binnelandse produk.[31]

Die inheemse energiebedryf voorsien in sowat 'n derde van die land se energiebehoeftes. Hernubare energiebronne soos waterkrag het in 2014 81 persent van Oostenryk se kragopwekking en 33 persent van sy totale primêre energieverbruik bygedra. In die ooste van die land het windplase ontstaan, terwyl biomassa en geotermiese energie vir verwarmingsdoeleindes ontgin word.

Sowat 45 persent van Oostenryk se oppervlakte word vir landbou- en 40 persent vir bosboudoeleindes gebruik.[32] Omrede die sterk mededinging deur die landboubedrywe van ander EU-lidstate begin Oostenrykse boerderye hulle toenemend op produkte van hoë gehalte toespits. So was daar in 2008 reeds sowat 20 000 biologiese boerderye wat 15 persent van die totale landbou-oppervlakte bewerk het. Hul aandeel van tien persent is die hoogste persentasie biologiese boerderye in die Europese Unie. Die belangrikste boerderygebied vir veldvrugte is die Marchfeld naby Wene. Veeteelt (veral beeste) dra sowat 30 persent tot die landbousektor se inkomste by. Bosgebiede beslaan 47 persent van die land se totale oppervlakte en dien as basis vir nywerhede soos houtverwerking en papiervervaardiging. Met 'n jaarlikse groeikoers van 5 100 hektaar lewer die bosse hout as die tweede belangrikste hernubare energiebron na waterkrag op. Daarnaas word groter hoeveelhede hout na Suid-Europese lande uitgevoer. Wingerde beslaan 48 000 hektaar. Die Oostenrykse wynboubedryf se 32 000 produsente lewer jaarliks 'n gemiddelde 2,5 miljoen hektoliter wyn op (waarvan driekwart witwyne en een kwart rooiwyne is).

Handelsbetrekkinge

[wysig | wysig bron]

Die Oostenrykse ekonomie is sterk uitvoergerig. Die belangrikste uitvoere is masjiene, padvoertuie, papier en karton, metaalprodukte, yster en staal, farmaseutiese produkte, telekommunikasie-uitrusting en tekstiele. Die belangrikste tien uitvoergoedere verteenwoordig tweederdes van die totale uitvoere. Die EU (veral Duitsland) is die belangrikste mark vir uitvoere, terwyl 15 persent van alle uitvoere na oorsese bestemmings gaan.

Buitelandse handel in miljarde €[33] 2013 2014 2015
Invoere 138,0 137,0 140,1
Uitvoere 131,9 134,2 137,8

Die belangrikste invoere in 2015 was chemiese produkte (13,4 persent van die totale invoere), masjiene (11,8%), motors en motoronderdele (9,8%), elektroniese goedere (9,3%), voedsel (6,6%), elektrotegniese goedere (5,4%), tekstiele (5,0%) en ander goedere (40,7%). Die belangrikste uitvoere was masjiene (18 persent), chemiese produkte (13,3%), motors en motoronderdele (8,2%), elektroniese goedere (6,2%), elektrotegniese produkte (6,0%), voedsel (5,5%), metaalprodukte (5,4%), yster en staal (5,2%) en ander goedere (32,2%).

Invoere na Oostenryk in Miljoene €[34] 2013 2014 2015 2016 2017 2018 2019
Duitsland 49 020,3 48 543,3 49 243,7
Italië 8 006,5 8 033,3 8 199,7
Volksrepubliek China 6 788,0 7 322,7 7 956,9
Switserland 6 822,0 6 633,0 7 498,3
Tsjeggië 5 263,7 5 405,2 5 577,3
Suid-Afrika 522,1 427,4 346,1 348,0 572,0
Uitvoere uit Oostenryk in Miljoene €[35] 2013 2014 2015 2016 2017 2018 2019
Duitsland 37 873,5 38 082,1 38 476,9
Verenigde State 7 060,0 7 780,5 9 083,2
Italië 8 228,3 8 237,3 8 259,0
Switserland 6 337,4 6 685,6 7 121,4
Frankryk 5 913,6 6 265,1 5 869,1
Suid-Afrika 506,3 476,8 488,1 588,0 608,0

Media

[wysig | wysig bron]
ORF-uitsaaisentrum Küniglberg in Wene

Die konsentrasie in die Oostenrykse mediabedryf is die hoogste in Europa.[36] So verteenwoordig die vier grootste dagblaaie (Kronenzeitung, Heute, Österreich en Kleine Zeitung) 67 persent van die totale nasionale oplaag. Die Kronen Zeitung is die grootste dagblad met 'n daaglikse oplaag van 810 000. Ander belangrike koerante sluit in die poniekoerante Österreich (540 000) en Heute (635 500) wat albei gratis versprei word; die Kleine Zeitung (300 000), wat hoofsaaklik in die deelstate Karintië en Stiermarke gelees word; en die Kurier (187 000). Oostenryk se twee belangrikste gehalte-dagblaaie, Der Standard en Die Presse het merkbaar kleiner oplae van respektiewelik 83 750 en 80 000.

Die televisiemark word steeds oorheers deur die openbare uitsaaier ORF (Oostenrykse Uitsaaikorporasie) wat programme op twee kanale, ORF 1 en ORF 2, beeldsend. Die bekendste privaat uitsaaiers is ATV en Puls 4. Nogtans bly Duitse openbare en privaat uitsaaiers sterk mededingers wat per kabel of satelliet ontvang kan word. Sommige van Duitsland se groot privaat televisiekanale het dogterkorporasies in Oostenryk.

Misdaad

[wysig | wysig bron]

Die misdaadsyfers is van die laagste in die Europese Unie. Nogtans het inbrake en motordiefstal gedurende die laaste jare toegeneem. Moord en ander gewelddadige misdaad is teenoor die situasie in Suid-Afrika baie skaars.

Sport

[wysig | wysig bron]
Innsbruck het beide die Olimpiese Winterspele in 1964 en 1976 asook die eerste Olimpiese Jeugwinterspele 2012 gehuisves
Die Skirenjaer Franz Klammer het tydens die Olimpiese Winterspele 1976 in Innsbruck 'n goue medalje gewen

Weens die bergagtige gebied is alpeski 'n belangrike sportsoort in Oostenryk baie waardevol vir die bevordering en ekonomiese groei van die land.[37] Soortgelyke sportsoorte soos sneeuplankry en skansspring is ook baie gewild. Oostenrykse atlete soos Annemarie Moser-Pröll, Franz Klammer, Hermann Maier, Toni Sailer, Benjamin Raich, Marlies Schild en Marcel Hirscher word algemeen as van die beste alpeskiërs nog beskou, Armin Kogler, Andreas Felder, Ernst Vettori, Andreas Goldberger, Andreas Widhölzl, Thomas Morgenstern en Gregor Schlierenzauer as van die beste skispringers nog. Bobslee, rodel en skeleton is ook gewild met 'n permanente baan in Igls, wat die bobslee- en rodel-items tydens die Olimpiese Winterspele in 1964 en 1976 in Innsbruck gehuisves het. Die eerste Olimpiese Jeugwinterspele 2012 is ook in Innsbruck gehou.[38]

Sokker is 'n gewilde sportsoort in Oostenryk en word beheer deur die Oostenrykse Sokkervereniging (Österreichischer Fußball-Bund, ÖFB).[39] Oostenryk was eens een van die suksesvolste sokkerlande op die Europese vasteland en het tydens die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1934 in die vierde plek, tydens die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1954 in die derde plek en tydens die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1978 in die sewende plek geëindig. In onlangse jare was Oostenryk egter nie internasionaal suksesvol nie. Oostenryk het saam met Switserland die Europese Sokkerkampioenskap 2008 aangebied. Die nasionale Oostenrykse sokkerliga is die Oostenrykse Bundesliga, waaraan onder andere rekordkampioene soos SK Rapid Wien, FK Austria Wien, FC Red Bull Salzburg en SK Sturm Graz deelneem.

Benewens sokker het Oostenryk ook professionele nasionale ligas vir die meeste ander spansporte, insluitende die Oostenrykse Hokkieliga vir yshokkie, die Oostenrykse Basketbal-Bundesliga vir basketbal en die Oostenrykse Voetballiga vir Amerikaanse voetbal. Perdry is ook gewild; die bekende Spaanse Ryskool van Wene is in Wene geleë.

Niki Lauda is 'n voormalige Formule Een-renjaer en driemalige wêreldkampioen: in 1975, 1977 en 1984. Hy is tot dusver die enigste renjaer wat wêreldkampioen vir beide Ferrari en McLaren geword het, dié sport se twee beste konstrukteurs. Van die ander bekende Oostenrykse F1-renjaers sluit in Gerhard Berger en Jochen Rindt. In Oostenryk word ook F1-renne gejaag (Oostenrykse Grand Prix); nou gehou op die Red Bull Ring, voorheen ook op die Österreichring en Zeltweg Airfield.

Thomas Muster is 'n voormalige Oostenrykse tennisspeler en een van die beste kleispelers nog. Hy het die Franse Ope in 1995 gewen en in 1996 het hy die eerste plek op die ATP-ranglys beklee. Dominic Thiem is ook 'n bekende Oostenrykse tennisspeler en hy het die VSA-Ope in 2020 gewen en tydens beide die Franse en Australiese Ope die eindstryd gehaal. Ander bekende Oostenrykse tennisspelers sluit in Horst Skoff en Jürgen Melzer.

In die vroeë jare van die Tweede Republiek na die Tweede Wêreldoorlog het sport 'n belangrike rol gespeel in die ontwikkeling van 'n nasionale bewussyn en in die bevordering van nasionale selfvertroue, veral deur toernooie soos die Tour of Austria-fietswedren en deur sportsuksesse soos die nasionale sokkerspan se afsluiting van die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1954 in die derde plek en die vertonings van Toni Sailer en die res van die "Kitzbühel Wonderwerkspan" in die 1950's.[40][41]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. (en) "Surface water and surface water change". OESO. Besoek op 7 Maart 2024.
  2. (de) "Bevölkerung zu Jahresbeginn nach administrativen Gebietseinheiten (Bundesländer, NUTS-Regionen, Bezirke, Gemeinden) 2002 bis 2023 (Gebietsstand 1. Januarie 2023)". Statistik Austria. 1 Januarie 2023. Besoek op 7 Maart 2024.
  3. 3,0 3,1 3,2 3,3 (en) "Austria". Internasionale Monetêre Fonds. Oktober 2023. Besoek op 7 Maart 2024.
  4. (en) "Human Development Report 2021/2022" (PDF). United Nations Development Programme. 2021. Besoek op 7 Maart 2024.
  5. (en) "Gini coefficient of equivalised disposable income – EU-SILC survey". Eurostat. Besoek op 7 Maart 2024.
  6. (de) "Regionale Sprachen Österreichs". Rechtsinformationssystem des Bundes. 2013. Besoek op 7 Maart 2024.
  7. (en) "Tausend Jahre Name Österreich". Universiteit van Klagenfurt. Besoek op 7 Maart 2024.
  8. (en) Günter Bischof, Anton Pelinka, red. (1997). Austrian Historical Memory and National Identity. Nieu-Brunswyck: Transaction Publishers. pp. 20–21. ISBN 978-1-56000-902-3. Besoek op 7 Maart 2024.
  9. (en) Wilhelm Brauneder (2009). Österreichische Verfassungsgeschichte (11de uitg.). Wene: Manzsche Verlags- und Universitätsbuchhandlung. p. 17. ISBN 978-3-214-14876-8.
  10. (en) Beck, Hylke E.; Zimmermann, Niklaus E.; McVicar, Tim R.; Vergopolan, Noemi; Berg, Alexis; Wood, Eric F. (30 Oktober 2018). "Present and future Köppen-Geiger climate classification maps at 1-km resolution". Scientific Data. 5: 180214. Bibcode:2018NatSD...580214B. doi:10.1038/sdata.2018.214. ISSN 2052-4463. PMC 6207062. PMID 30375988.
  11. (de) "Klimaat". www.austria.info. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 30 April 2008. Besoek op 30 April 2008.
  12. 12,0 12,1 (de) G. Koller, M. Mitterauer (1963). Karolingische Markgrafen im Südosten: fränkische Reichsaristokratie und bayerischer Stammesadel im österreichischen Raum. Archiv für österreichische Geschichte. H. Böhlaus Nachf., Kommissionsverlag der Österreichischen Akademie der Wissenschaften in Wien. Besoek op 7 Maart 2024.
  13. 13,0 13,1 (en) Birgitta Bader-Zaar (2012). Blanca Rodríguez-Ruiz, Ruth Rubio-Marín (red.). Gaining the Vote in a World in Transition: Female Suffrage in Austria. pp. 191–206, 199. ISBN 978-90-04-22425-4. {{cite book}}: |work= ignored (hulp)
  14. (en) Jad Adams (2014). Women and the Vote. A World History. Oxford: Oxford University Press. p. 287. ISBN 978-0-19-870684-7.
  15. (de) "Verfassung des Bundesstaates Österreich von 1934". Verfassungen der Welt. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 Januarie 2010. Besoek op 7 Januarie 2010.
  16. (de) Hans Safrian (2002). Jürgen Lillteicher, Constantin Goschler (red.). Beschleunigung der Beraubung und Vertreibung. Zur Bedeutung des „Wiener Modells“ für die antijüdische Politik des „Dritten Reiches“ im Jahr 1938. pp. 61–89. ISBN 3-89244-495-1. {{cite book}}: |work= ignored (hulp)
  17. (en) Rolf Steininger (2008). Austria, Germany, and the Cold War. From the Anschluss to the State Treaty 1933–1955. New York: Berghahn Books. pp. 14v. ISBN 978-1-84545-326-8.
  18. (de) John Weiss (1988). Der lange Weg zum Holocaust. Die Geschichte der Judenfeindschaft in Deutschland und Österreich. Berlyn: Ullstein. pp. 241v. ISBN 3-548-26544-8.
  19. (de) Meningspeiling, gepubliseer op 11 September 1987 in die Wochenpresse.
  20. (de) Peter Jankowitsch (2010). Manfried Rauchensteiner (red.). Das Problem der Äquidistanz. Die Suche der Zweiten Republik nach außenpolitischen Leitlinien. pp. 451–496. ISBN 978-3-205-78469-2. {{cite book}}: |work= ignored (hulp)
  21. (de) "Iran scheitert mit Bewerbung für Sicherheitsrat". Spiegel Online. 17 Oktober 2008. Besoek op 7 Maart 2024.
  22. (de) "SPÖ und ÖVP einigen sich auf grosse Koalition in Österreich". NZZ. 23 November 2008. Besoek op 7 Maart 2024.
  23. (de) "Der neue ÖVP-Chef und Vizekanzler heißt Michael Spindelegger". Der Standard. 14 April 2011. Besoek op 7 Maart 2024.
  24. (de) "Van der Bellen schafft Wiederwahl". Österreichischer Rundfunk. 9 Oktober 2022. Besoek op 7 Maart 2024.
  25. (de) Statistik Austria: Auslandsösterreicherinnen und Auslandsösterreicher 2016. Besoek op 1 Maart 2017
  26. (de) Statistik Austria: Statistisches Jahrbuch Österreichs 2017, bl. 51
  27. (de) oesterreichisch.net: Österreichisches Wörterbuch. 15 Maart 2017
  28. (de) Germany Trade and Invest, 20 Desember 2016: SWOT-Analyse Österreich. Besoek op 22 Februarie 2017 [dooie skakel]
  29. (de) Duitse Departement van Buitelandse Sake: Oostenryk – Ekonomie algemeen. Besoek op 22 Februarie 2017 [dooie skakel]
  30. (de) Duitse Departement van Buitelandse Sake: Oostenryk – Ekonomie algemeen. Besoek op 22 Februarie 2017 [dooie skakel]
  31. (de) "Ekonomie van Oostenryk". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 Augustus 2008. Besoek op 28 Augustus 2008.
  32. (de) "Österreich – Wirtschaft". www.austria-export.biz. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 Desember 2016. Besoek op 23 Desember 2016.
  33. (de) Germany Trade and Invest, November 2016: Wirtschaftsdaten kompakt – Österreich [dooie skakel]
  34. (de) Statistik Austria: Statistisches Jahrbuch Österreichs 2017, bl. 406
  35. (de) Statistik Austria: Statistisches Jahrbuch Österreichs 2017, bl. 406
  36. (de) Duitse Departement van Buitelandse Sake: Oostenryk – Kultuur, onderwys en media. Besoek op 25 Januarie 2017 [dooie skakel]
  37. (en) Roman Horak, Georg Spitaler (2003). "Sport, Space and National Identity: Soccer and Skiing as Formative Forces: On the Austrian Example". American Behavioral Scientist. 46 (11): 1508–1518. doi:10.1177/0002764203046011004. S2CID 144319167.
  38. (en) "YOG Innsbruck 2012: Relive the announcement". Internasionale Olimpiese Komitee. 12 Desember 2008. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 Desember 2008. Besoek op 24 Desember 2008.
  39. (de) "Österreichischer Fußballbund". Oostenrykse Sokkervereniging. Besoek op 7 Maart 2024.
  40. (en) Matthias Marschick (2011). "Austrian Sport and the Challenges of Its Recent Historiography". Journal of Sport History. 38 (2): 189–198. doi:10.5406/jsporthistory.38.2.189. JSTOR 10.5406/jsporthistory.38.2.189. S2CID 145300546.
  41. (en) Gilbert Norden (2001). "Austrian Sport Museums" (PDF). Journal of Sport History. 28 (1): 87–107. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 14 Januarie 2017. Besoek op 3 Januarie 2017.

Bronnelys

[wysig | wysig bron]
Algemeen

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]
Amptelike webtuistes

Toerisme

Ekonomie & Sake