Leon de Villiers
Leon Johannes de Villiers (gebore 25 Junie 1960, Pretoria[1]) is 'n bekroonde Afrikaanse skrywer van kinder- en jeugverhale. Gedurende sy loopbaan word hy onder meer bekroon met die Scheepersprys, die M.E.R.-prys, die Alba Bouwer-prys, die C.P. Hoogenhout-prys en die ATKV kinderboektoekenning. Sy jeugroman Die Pro, word verwerk en in 2015 as rolprent vrygestel.[2][3]
Lewe en werk
[wysig | wysig bron]Herkoms en opleiding
[wysig | wysig bron]Leon Johannes de Villiers is op 25 Julie 1960 in Pretoria gebore as die tweede oudste van vier seuns.[1] Die gesin verhuis verskeie kere binne Pretoria totdat hulle in 1966 in Mountain View in Pretoria-Wes gaan bly. Hy gaan vir een kwartaal na die Laerskool Salvokop, waarna hy die res van sy laerskoolloopbaan in Laerskool Saamspan deurbring. Hy matrikuleer in 1977 aan die Hoërskool Hercules en studeer vanaf 1978 verder aan die Universiteit van Pretoria. Hier behaal hy in 1980 die B.A.-graad met Staatsleer, Geskiedenis en Internasionale Politiek as hoofvakke. In 1981 behaal hy beide ’n Hoër Onderwysdiploma en ’n B.A. Honneurs-graad in Staatsleer en Internasionale Politiek. In 1982 hou hy skool by die Laerskool Alma en voltooi dan sy twee jaar verpligte militêre diensplig, een jaar by die Inligtingskool in Kimberley en die tweede jaar in Pietersburg by Kommandement Noord-Transvaal.
Loopbaan as onderwyser en skrywer
[wysig | wysig bron]Hierna gaan hy terug onderwys toe en gee Geskiedenis aan Hoërskool Rustenburg, Hoërskool Menlopark en die Hoërskool Pro Arte in Alphen Park.
In 1993 verlaat hy die onderwys om voltyds te skryf en in hierdie jaar woon hy ook die ATKV se skryfskool by die Potchefstroomse Universiteit by.[1]
Hy woon eers in Pretoria en dan verhuis hy vir twee jaar na Kleinmond in die Wes-Kaap. Hierna verhuis hy na Potchefstroom en hou vir ’n paar jaar skool by die Hoërskool Carletonville, waarna hy gaan woon op sy plasie Annashoek aan die Vrystaatse kant van die Vredefortkoepel. Hy is ongetroud.[4]
Skryfwerk
[wysig | wysig bron]Sy skryfpogings begin wanneer hy as onderwyser in Pretoria aan ’n skryfkring behoort. In 1996 is hy een van die ses finaliste in die De Kat-romankompetisie met ’n ongepubliseerde roman vir volwassenes. Hierna spits hy hom toe op boeke vir kinders en die jeug en skroom nie om hedendaagse probleme in sy boeke aan te spreek nie.[4]
Skryfwerk vir kinders
[wysig | wysig bron]Aliens en engele het egskeiding as tema. Die laerskoolkind Pieter sit vasgevang tussen twee ouerfigure wat skei en vir hom onaanvaarbare nuwe lewensmaats kies.
Droomoog Diepgrawer vertel die verhaal van die Diepgrawers wat uit die erdgeledere verdryf word omdat hulle nie konformeer nie. Hulle raak verwyderd van mekaar en Droomoog kom tereg by die Skoorkrappers, ’n kolonie erde wat anders as ander erde vrae vra en planne maak. Hierdie vermoë stel Droomoog in staat om weer sy familie te vind en met hulle te herenig.[5] Die Alba Bouwer-prys word in 2004 aan Droomoog Diepgrawer toegeken en hierdie boek word ook in 2005 met die C.P. Hoogenhout-prys bekroon, terwyl dit in 2005 op die kortlys is vir die toekenning van die M-Net-prys vir boeke in kort formaat.
Erik en die Kido-dinges is ook vir ouer laerskoolkinders geskryf. Erik wil van sy gesin ontslae raak en hy word dan na die Kidoteek geneem, waar kinders uitgestal kan word vir ander ouers om uit te kies of hulle eie kinders om te ruil. Erik en sy troetelspinnekop word deur ’n neurotiese egpaar aangeneem, wat sorg vir lagwekkende situasies maar ook berou by Erik. Erik en die Kido-dinges verower in 2004 ’n ATKV Kinderboektoekenning vir graad 4-5.
Maroelaboomstories bevat vyftien oorspronklike diereverhale en word ook in Engels vertaal.
Jeugverhale
[wysig | wysig bron]Vir die jeug skryf hy ook etlike verhale.
In 1996 word die Sanlam Aanmoedigingsprys aan Die pro[6] toegeken en hierdie boek kry in 1998 die Scheepersprys en die M.E.R.-prys. Die boek word later ook verfilm en in 2015 op die kommersiële kringloop vrygestel.[7][3][2] Die sewentienjarige branderplankryer Tiaan Nothnagel moet die verdrinking van sy beste vriend Dirkie Lawrence verwerk. Hy kan nie meer branderplankry nadat Dirkie verdrink het nie en moet ook sy skuldgevoelens, sy hartseer en sy selfgesentreerdheid oorkom. Terwyl Dirkie in die see in die moeilikheid was, wou hy met die skool se boelie afreken. Dan daag Dirkie se tweelingsuster op, wat na haar ouers se egskeiding by haar pa kom woon. Sy vra Tiaan om haar te leer om branderplank te ry.[6][8]
In Groete van die hiëna beland ’n selfbewuste, skugter tiener in die virtuele wêreld van die Paleis van Chaos, waar Crocuta, ’n hiëna met ’n sonbril, sy metgesel is. Hier moet hy vertrek op sy reis na homself en vertel hy tien stories oor homself, waardeur sy selfinsig gaandeweg ontwikkel en hy in staat is om homself uit hierdie paleis te verlos.[9]
Toko is ’n jeugroman vir ouer kinders en jong volwassenes, waar die hoofkarakter lid is van ’n primitiewe stam in Afrika en moet wys of hy werklik ’n man is. Hy moet water vir die inisiasie kandidate op die berg neem, waar geen moraliteit of wette geld nie.
Kleuterboeke
[wysig | wysig bron]Hy skryf ook kleuterboeke. Wat doen jy Daniël? begelei die kleuter deur met ander oë na die bekende omgewing en voorwerpe te kyk.
Elsie soek ’n strooihoed verower in 2002 die ATKV-Kinderboektoekenning vir 6-7 jaar.
Parmant word ook in Engels vertaal en verower in 2004 die ATKV Kinderboektoekenning vir 3-6 jaar.
In My sussie se tande is klein Jannie trots op sy babasussie, maar wanneer sy begin tande kry is sy nie meer so oulik nie. Hierdie boek word in 2005 met die ATKV Kinderboektoekenning vir 3-6 jaar bekroon.
Ander kleuterboeke is Die klein seuntjie en die drake.
Publikasies
[wysig | wysig bron]Werke wat uit sy pen verskyn sluit in:[10]
Jaar | Publikasies |
---|---|
1996 | Aliens en engele |
1997 | Die pro |
Die Bere en die maanheuning | |
2000 | Groete van die hiëna |
2001 | Elsie soek ’n strooihoed |
Wat doen jy, Daniël? | |
2003 | Droomoog Diepgrawer |
Erik en die Kido-dinges | |
Die klein seuntjie en die drake | |
Parmant | |
2005 | Ek en my monster |
2006 | Maroelaboomstories |
2007 | Toko |
2010 | Hoe vinnig is ’n volstruis? |
Bronnelys
[wysig | wysig bron]Boeke
[wysig | wysig bron]- Wybenga, Gretel en Snyman, Maritha (reds.) Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom. Lapa-Uitgewers Eerste uitgawe Tweede druk 2005
Tydskrifte en koerante
[wysig | wysig bron]- Loots, Sonja. De Villiers doen dit weer. Rapport, 2 Oktober 2005
- Swart, Keina. Dít sal die nag wees, sê oulike erdfamilie. Beeld, 23 Julie 2012
- Vermaak, Arnold. Vonkel in kind se oog grootste lof. Plus, 19 Oktober 2005
- Vorster, Alita. Leon de Villiers: Delwer van diep dinge. Taalgenoot, Julie/Augustus 2003
- Vorster, Alita. Leon se venster. Rapport, 3 Junie 2007
Ongepubliseerde dokumente
[wysig | wysig bron]- De Villiers, Leon. Biografiese skets. Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) Bloemfontein
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ 1,0 1,1 1,2 NB-Uitgewers: http://www.nb.co.za/authors/1516 Geargiveer 23 Augustus 2016 op Wayback Machine
- ↑ 2,0 2,1 Bruwer, Ruan Netwerk24: http://www.netwerk24.com/Vermaak/Flieks/Bhm-skrywer-se-boek-word-prent-20150826[dooie skakel]
- ↑ 3,0 3,1 Venter, Suzanne. Fliek laat ‘Die pro’ ’n nuwe blaadjie omslaan. Rapport, 6 September 2015
- ↑ 4,0 4,1 Storiewerf: http://www.storiewerf.co.za/cvs/cvleondevilliers.htm Geargiveer 13 September 2014 op Wayback Machine
- ↑ Vorster, Magdel. Beeld, 19 Julie 2004
- ↑ 6,0 6,1 Hough, Barrie. Rapport, 14 Desember 1997
- ↑ Pople, Laetitia. Beeld, 18 September 2015
- ↑ Snyman, Maritha. Plus, 15 Januarie 1999
- ↑ Van der Walt, Thomas en Vorster, Magdel. Beeld, 23 Oktober 2000
- ↑ Worldcat: http://www.worldcat.org/search?q=au:De Villiers, Leon,&qt=hot_author