Gaan na inhoud

Leila Reitz

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Leila Reitz se grafsteen op Pelgrimsrus.

Leila Agnes Buissinné Reitz (* 13 Desember 1887, Kaapstad – † 27 Desember 1959, Kaapstad) was die eerste vrou in die Suid-Afrikaanse Volksraad nadat vroue die stemreg gekry het in 1930.

Reitz was die dogter van Claude Wright, ’n geneesheer van Wynberg. Nadat sy haar matriek in die eersteklas in 1905 aan die High School for Girls (tans Hoër Meisieskool Rustenburg), Rondebosch, verwerf het, het sy die B.A.-graad met onderskeiding in geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Kollege, Kaapstad, behaal en dit van die Universiteit van die Kaap die Goeie Hoop ontvang. Van 1910 tot 1913 het sy as beurshouer van die Kaapse Universiteit aan die Newnham College, Cambridge in Engeland gestudeer. Nadat sy die tripos in geskiedenis behaal en na Suid-Afrika teruggekeer het, het sy geskiedenis aan die Universiteit van Kaapstad gedoseer tot sy in 1920 met kol. Deneys Reitz in die huwelik getree het.

Reitz se verbintenis met die Suid-Afrikaanse Party dateer van vroeg in haar getroude lewe, eerstens terwyl sy haar man in sy politieke loopbaan ondersteun het en later in eie reg as uitvoerende lid van die vroue-afdeling van die Party, die Witwatersrandse dagbestuur en die nasionale hoofkomitee. Tesame met onder andere Bertha Solomon het sy in 1930 gehelp om stemreg vir vroue te verseker, en in 1933 is sy tot die Volksraad verkies as die Suid-Afrikaanse Party se verteenwoordiger in die Parktown-kiesafdeling. Sy is onbestrede herkies en het die setel tot 1943 behou.

Sowel binne as buite die Volksraad was sy ’n vurige kampvegter vir vroueregte. Sy het wetgewing wat daarop gemik was om egskeiding vir vroue makliker te maak, ondersteun deur as privaat lid die wetsontwerp insake huweliksjurisdiksie in te dien en ook in die Kommissie insake Wetlike Onvermoëns van Vroue gedien, wat oorspronklik in 1939 aangewys is, maar as gevolg van die Tweede Wêreldoorlog tot 1946 uitgestel is. In 1948 het die kommissie sy verslag, wat aanleiding gegee het tot die Wet op Huweliksaangeleenthede van 1953, voorgelê. Sy het die voordele wat universiteitsopleiding vir vroue inhou en dié verbonde aan verpligte vredestydse welsynsdiens vir vroue om permanente poste in die staatsdiens te bekom, gewys. Haar skerp intellek, oortuigende welsprekendheid en opregte medelye met minderbevoorregtes het haar ’n geesdriftige en geslaagde sosiale hervormer en kampvegter vir vroueregte gemaak.

Haar ander belangstellings as Volksraadslid was die probleme van jeugmisdaad en die ontberinge van die Armblankes. Sy het ’n belangrike rol in die deurvoer van die Kinderwet (No. 31 van 1937) gespeel. In breër politieke sin was sy ’n ondersteuner van die vereniging van die partye van J.B.M. Hertzog en J.C. Smuts om in 1934 die Verenigde Suid-Afrikaanse Nasionale Party te vorm, die samesmelting van die Britse en Afrikanerseksies van die gemeenskap, en die behoud van Britse nasionaliteit. Sy het voorsien dat vooruitgang vir Swartes deur die daarstelling van Swart rade sou kom. In 1943 het sy haar parlementêre loopbaan prysgegee om haar eggenoot na Londen te vergesel met sy aanstelling as Hoë Kommissaris van die Unie van Suid-Afrika.

Gedurende die Tweede Wêreldoorlog was sy ’n ywerige werker wat gehelp het met die stigting van die Women’s Aviation Association, later die Woman’s Auxilliary Air Force, waarvan sy president was. Reitz was ’n goeie tennisspeelster en kaptein van die vrouetennisspan van Cambridge teen dié van Oxford. Haar ander belangstellings was tuinmaak, musiek, ou meubels en porselein. Sy het haar later jare as afgetredene in Kaapstad deurgebring.

Bronne

[wysig | wysig bron]
  • Cunningham, A.M. Beyers, C.J. (red.). Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek. Pretoria: Chris van Rensburg nms. die RGN. p. 962. ISBN 0796904197.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]