Julius Jeppe
Sir Julius Gottlieb Ferdinand Jeppe (Rostock, Mecklenburg-Schwerin, Duitsland, Julie 1859 – Londen, Engeland, 1 September 1929) was ’n Transvaalse myn- en eiendomsmagnaat. 'n Groot straat in Pretoria sowel as die Hoër Seunskool Jeppe in Johannesburg is na hom genoem. Die Johannesburgse voorstad Jeppestown is na die familie Jeppe genoem, waarvan hy lid van die tweede geslag in Suid-Afrika was. Ook die kiesafdeling Jeppes het hul naam gedra.
Herkoms en jerugjare
[wysig | wysig bron]Jeppe was die tweede seun van Julius Gottlieb Ernst Christian Jeppe (1821–1893), wat saam met sy gesin in 1870 uit Rostock geëmigreer het, en sy vrou, Barbara (Betty) Fritsch (1836-1894). Jeppe se vader was 'n broer van Hermann en Fred Jeppe, wat albei voor hom na Suid-Afrika gekom het en albei ’n tyd lank as staatsamptenaar in die ZAR gewerk het.
Die Jeppe-gesin het hulle gevestig in Pretoria, destyds nog 'n klein, stil dorpie. Thomas Baines, Karl Mauch en ander ontdekkers het die gesinswoning dikwels besoek, en hul stories van avonture en goudontdekkings het 'n sterk indruk op die jong Jeppe gemaak. Op sewentienjarige leeftyd het hy in die rampspoedige kommandoveldtog van pres. T.F. Burgers teen Sekhukhune I gedien. In 1880–'81 het hy aan die Eerste Vryheidsoorlog deelgeneem.
Vroeë loopbaan
[wysig | wysig bron]Nadat hy as klerk by die firma Schiffmann en Kie. in Pretoria begin werk het, het hy vinnig tot bestuurder gevorder, maar met die ontdekking van goud aan die Witwatersrand, het hy, sy oudste broer, Carl, en hul vader, aandag aan prospektering en eiendomsontwikkeling in en om Johannesburg gewy. In 1886 het al die Jeppes van Pretoria na Johannesburg verhuis. 'n Stuk grond bekend as Randjeslaagte (tussen die huidige Commissionerstraat en Hospitaalheuwel) is afgepen deur 'n sindikaat wat deur die Jeppes beheer is. Maar toe mynbou daarop misluk, is dit omskep in dorpspersele teen £15 per standplaas. Met die dood van Jeppe se vader in 1893, het hy voorsitter en besturende direkteur van die eiendomsmaatskappy Jeppe & Ford geword, wat toe vinnig besig was om die voorstede, later bekend as Jeppestown en Fordsburg, aan te lê.
In die 20ste eeu
[wysig | wysig bron]Gedurende die Tweede Anglo-Boereoorlog het Jeppe as hoof van die Transvaalse Rooi Kruis gedien. Daarna, in 1905, het hy in vennootskap met sir Abe Bailey getree en sy eie maatskappy met die Witwatersrand Township Estate and Finance Corporation laat saamsmelt. In 1919 het hierdie onderneming, ná die opneming van verskeie ander maatskappye, die South African Townships, Mining, and Finance Corporation geword, wat Jeppe as voorsitter en besturende direkteur tot sy dood sou dien.
Breër betrokkenheid
[wysig | wysig bron]Jeppe was feitlik uit die staanspoor (1889) 'n energieke lid van die Johannesburgse stadsraad en het in die direksies van die Kamer van Mynwese en die Randse Waterraad gedien. Hy was 'n trustee van die Hope-hersteltehuis en die mynteringsanatorium, het gedien in die Johannesburgse hospitaalraad tot 1926 en was voorsitter van die adviserende raad van die Childrens' Undenominational Home. Hy het van jongs af belanggestel in perdewedrenne en was voorsitter van die South African Jockey Club.
Sy oudste broer, Carl, was ’n stigter van die Witwatersrand onderwysraad, wat die Jeppestown Grammar School begin het. Toe dié skool ná die Tweede Vryheidsoorlog omskep is in die Hoërskool Jeppe, is Julius Jeppe tot die eerste beheerliggaam verkies. Hy het as voorsitter daarvan gedien van omstreeks 1918 tot sy afsterwe in 1929. Die skool is na hom genoem en so ook die Hoër Meisieskool Jeppe en Voorbereidende Skool Jeppe, al drie in Kensington en die aanliggende Jeppestown. Sy herehuis in die voorstad Belgravia, Friendenheim, het van 1916 af een van die Hoër Seunskool Jeppe se koshuise gehuisves, maar is in die vroeë 1960's gesloop. Dit was ook hy wat die grond geskenk het waarop die manjifieke klipgeboue wat die seunskool huisves, in 1909 gebou is. Dit is ontwerp deur die Skotse argitek John Ralston (1878–1955), ’n leerling van sir Herbert Baker.
As beloning vir die baanbrekersrol wat hy in die ontwikkeling van die vroeë Johannesburg gespeel het, is Jeppe in 1922 tot ridder geslaan.
Gesinslewe
[wysig | wysig bron]Jeppe is in 1891 met Grace Cowen getroud, die dogter van Charles Cowen. Hulle het drie seuns en twee dogters gehad, en sy is in 1905 oorlede.
Bronne
[wysig | wysig bron]- (af) Arkin, dr. M. in De Kock, prof. W.J. (tot 1970) en Krüger, prof. D.W. (sedert 1971, hoofred.) . 1972. Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek, deel II. Kaapstad en Johannesburg: Tafelberg-Uitgewers.
- (en) Potgieter, D.J. (ed.) 1972. Standard Encyclopaedia of Southern Africa, volume 6. Cape Town: Nasionale Opvoedkundige Uitgewery (Nasou).
- (en) Biografiese inligting oor sir Julius Jeppe op die Hoër Seunskool Jeppe se webtuiste. URL besoek op 2 November 2017.
- (en) South African History Online. URL besoek op 3 November 2017.