Jan de Bruin
Ds. Jan de Bruin | |
Ds. Jan de Bruin
| |
Naam | Johannes Lodewicus de Bruin |
---|---|
Geboorte | 17 April 1906 Bethulie Oranjerivierkolonie |
Sterfte | 25 Januarie 1995 (op 88) Pretoria, Gauteng |
Kerkverband | Gereformeerd |
Gemeente(s) | Vryburg-Goeie Hoop 1935–1943 Bethlehem-Harrismith-Reitz 1943–1949 Innesdal 1949–1971 Fauresmith-Philippolis-Koffiefontein 1971–1977 |
Jare aktief | 1935–1977 |
Kweekskool | Potchefstroom |
Ds. Johannes Lodewicus de Bruin (noemnaam oom Boetie, Bethulie, Oranjerivierkolonie, 17 April 1906 – Pretoria, Gauteng, 25 Januarie 1995) was tussen 1935 en 1977 predikant in vier gemeentes of kombinasies van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika.
Herkoms en opleiding
[wysig | wysig bron]Jan de Bruin was die oudste van die 17 seuns en dogters van David Stefanus en Elsie Phillipina de Bruin. As oudste kind moes hy noodwendig help om sy jonger sibbes groot te maak. In 1925 het hy matriek aan die Hoërskool Burgersdorp geslaag en in 1926 met sy akademiese en teologiese studie aan die destydse Potchefstroomse Universiteitskollege begin. In 1932 het hy sy studie suksesvol voltooi en in Januarie 1933 is hy deur die Kaaplandse Partikuliere Sinode beroepbaar gestel.
Gemeentebediening
[wysig | wysig bron]Weens die Groot Depressie en langdurige droogte wat die land destyds geteister het, moes hy twee en ’n half jaar op ’n beroep wag. In dié tyd het hy in verskeie gemeentes hulp verleen. In Mei 1935 het hy 'n beroep na die kombinasie Vryburg-Goeie Hoop ontvang en dit met blydskap en groot dankbaarheid aanvaar. Hier sou hy werk tot hy in 1943 'n beroep na Bethlehem-Harrismith-Reitz aanvaar het. Hier het hy ywerig gewerk tot hy in 1948 'n beroep na Innesdal in Pretoria aanvaar het.
Ná 21 geseënde bedieningsjare het hy in 1971 vir die laaste keer 'n beroep aanvaar na die gekombineerde gemeentes Fauresmith-Philippolis-Koffiefontein. Hier het hy in 1977 ná 42 jaar in die bediening op 71-jarige leeftyd geëmeriteer.
Ná sy emeritaat het hy en sy vrou hulle met reisattestaat in die gemeente Pretoria-Magalieskruin gevestig. In dié gemeente was hulle, volgens ds. E.J. Smit, die leraar ten tyde van ds. De Bruin se dood, nie "net aktiewe lidmate nie, maar het hy ook met groot seën nog gewerk as hospitaalpredikant. Verder het hy ook nog met dienswerk gehelp in Huis Hermon."
Waardering
[wysig | wysig bron]Ds. Smit skryf in die GKSA se Almanak vir 1996: "Gedurende sy verblyf in Magalieskruin het ek hom werklik goed leer ken. Jan de Bruin was 'n man wat met God gewandel het. Hy was 'n nederige dienskneg van die Here wat in alles die eer van die Here eerste gestel het. Hy was 'n hardwerkende man wat geseënd was met goeie gesondheid. In 42 jaar was hy nie 'n enkele Sondag vanweë siekte nie op die preekstoel nie.
"Op sendinggebied het hy baanbrekerswerk in Pretoria gedoen. Hy het in soveel deputaatskappe van die Partikuliere Sinode Noord Transvaal en Nasionale Sinode gedien dat dit te veel is om op te noem. Op onderwysgebied het hy reusewerk gedoen. Vir my persoonlik was hy 'n geestelike vader, 'n man uit wie se ryke lewenservaring ek ontsaglik baie kon put met die oog op my bediening. Wat my die meeste van hom getref het, was sy nederigheid en gehoorsaamheid aan God se Woord. In hom het 'n warm Afrikanerhart geklop. Daarom het hy homself gegee vir sy land en sy volk. Sy taak was afgehandel. Daarom het God hom weggeneem. Ons eer graag so 'n voorganger soos Jan de Bruin."
Gesinslewe
[wysig | wysig bron]In Desember van die jaar waarin hy in sy eerste gemeente bevestig is (1935), het ds. De Bruin in die huwelik getree met Benomi du Plessis. Uit dié huwelik is drie kinders gebore: Anne Francois, David Stefanus en Fredrica. Op 30 November 1968 het Benomi in 'n motorongeluk gesterf terwyl hulle op pad as na hul seun, Dawie, se huweliksbevestiging. Haar dood was vir hulle familie 'n harde slag. Ds. De Bruin is weer getroud, met Frieda Coetzee (née De Beer). Sy was sy lewensmaat tot sy dood.
Bronne
[wysig | wysig bron]- (af) Van der Walt, dr. S.J. (voorsitter). 1995. Die almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 1996. Potchefstroom: Administratiewe Buro.