James Small
| |||||
Volle naam | James Terence Small | ||||
---|---|---|---|---|---|
Geboortedatum | 10 Februarie 1969 | ||||
Geboorteplek | Kaapstad, Suid-Afrika | ||||
Sterftedatum | 10 Julie 2019 (op 50) | ||||
Sterfteplek | Bedfordview, Suid-Afrika | ||||
Lengte | 1,85 m | ||||
Massa | 89 kg | ||||
Skool | Laerskool Risidale Hoërskool Greenside | ||||
Rugbyloopbaan | |||||
Loopbaan as speler | |||||
Posisie(s) | Vleuel | ||||
Professionele / senior klubs | |||||
Jare | Klub / span | Weds | (pte) | ||
1988–1993 1993–1996 1997 1998–1999 |
Transvaal Natalse Haaie Westelike Provinsie Goue Leeus |
64 67 19 ? |
(?) (258) (85) (?) | ||
Superrugby/Verenigde Rugbykampioenskap | |||||
Jare | Klub / span | Weds | (pte) | ||
1998 1999 |
Stormers Cats |
6 ? |
(5) ? | ||
Nasionale span(ne) | |||||
Jare | Land | Weds | (pte) | ||
1992–1997 | Suid-Afrika | 47 | (100) |
James Terence Small (10 Februarie 1969 – 10 Julie 2019) was 'n Suid-Afrikaanse rugbyspeler,[1][2] wat Suid-Afrika in die eerste jare na sportisolasie verteenwoordig het. Hy het van 1992 tot 1997 (ouderdom 23 tot 28) vir die Springbokke in vleuelposisie gespeel, en was ook in die span wat die Rugbywêreldbeker 1995 ingepalm het. Hy het 60 keer vir die Springbokke uitgedraf (insluitend 47 toetse) en 27 drieë gedruk (insluitend 20 toetsdrieë).[3] Hy is beskryf as 'n goeie kommunikeerder, maar ook as iemand met sterk wil en karakter, wat graag sy eie kop gevolg het. Hy is op die ouderdom van 50 aan 'n hartaanval oorlede.[2][4]
Jeug
[wysig | wysig bron]Small is in Kaapstad gebore en was 'n leerling van Risidale Primary School en Greenside High School in Johannesburg. Op skool was hy in die sokkerspan, maar het na 'n uitval met 'n skeidsregter begin rugby speel. As tiener het hy ook gholf gespeel, maar dié het hom slegs in skuld gedompel, sodat hy op ouderdom 18 vir rugbyproewe aangemeld het.[5]
Rugbyloopbaan
[wysig | wysig bron]Small het vir Transvaal, Natal en die Westelike Provinsie gespeel, en het as lid van al drie rugbyspanne tot die Curriebekerfinaal deurgedring. Saam met die laaste twee spanne kon hy ook die Curriebeker inpalm.[3]
Op ouderdom 23 het Small die eerste keer vir die Springbokke uitgedraf in 'n wedstryd op Ellispark teen Nieu-Seeland. In sy laaste toetswedstryd, op ouderdom 28 teen Skotland, het hy Danie Gerber se toetsdrierekord verbeter. Hy het in toetse teen Nieu-Seeland, Australië, Wes-Samoa, Fidji, Frankryk, Italië, Romenië, Engeland, Skotland, Argentinië en die Britse en Ierse Leeus gespeel.[3] Danksy sy vurige persoonlikheid, was hy die eerste Springbok om in 'n toets van die veld afgestuur te word.
Na 1997 was hy lank uit die publieke oog. Hy was eers bystandsafrigter vir Robert du Preez by NWU-Pukke, en later vir die Luiperds-klub. Daarna was hy assistentafrigter vir die Pirates in Johannesburg.[3]
Lewe na rugby
[wysig | wysig bron]Voordat hy na Gauteng getrek het, was hy die eienaar of mede-eienaar van twee van Kaapstad se gewildste kuierplekke, Cafe Caprice in Kampsbaai en die So Now koffiewinkel in Kloofstraat.[6] Hy was twee keer verloof aan die model Christina Storm, en uit die 10-jaar lange verhouding is hul dogter Ruby in 2004 gebore.[6] Met die beëindiging van hierdie verhouding het hy in depressie verval, maar is na 'n mislukte selfmoordpoging in 2009 deur 'n oproep van voormalige president Nelson Mandela opgebeur.[5] Voor sy dood het hy sy besigheid in Kaapstad verkoop en na Johannesburg getrek om nader aan sy twee kinders te wees. In Johannesburg het hy bouwerk en -opknappings gedoen.
Dood
[wysig | wysig bron]Na 'n besoek aan Kaapstad is Small die aand van 9 Julie 2019 in 'n hospitaal in Bedfordview opgeneem na 'n blykbare hartaanval. Hy is teen 12:00 die volgende dag daar oorlede. Hy is oorleef deur sy twee kinders, Ruby (14) en Caleb (9), sy ouer suster Kelly en ma Vaughn.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ Gresse, Johann (10 Julie 2019). "Huldeblyke stroom in vir James Small". Maroela Media. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 September 2019. Besoek op 10 Julie 2019.
- ↑ 2,0 2,1 Maroela-redaksie (10 Julie 2019). "Rugbylegende James Small sterf". Maroela Media. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 Julie 2019. Besoek op 10 Julie 2019.
- ↑ 3,0 3,1 3,2 3,3 "Former Springboks pay tribute to James Small" (in Engels). msn news. eNCA. 11 Julie 2019. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 17 Mei 2020. Besoek op 12 Julie 2019.
- ↑ African News Agency (18 Julie 2019). "James Small: 'Ons was almal lief vir hom'". Maroela Media. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 15 September 2019. Besoek op 18 Julie 2019.
- ↑ 5,0 5,1 "James Small: The rugby rebel who Mandela never forgot". AP, Fox Sports. 14 Julie 2019. Besoek op 12 Julie 2019.
- ↑ 6,0 6,1 staf-verslaggewer (24 Februarie 2004). "Christina and James find love after the storm" (in Engels). iol.co.za. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 12 Julie 2019. Besoek op 12 Julie 2019.