Herero
- Hierdie artikel handel oor die etniese groep. Vir die taal, sien Herero (taal).
Herero | |
---|---|
Drie Herero-vroue | |
Totale bevolking: | 240 000 |
Belangrike bevolkings in: | Namibië Botswana Angola |
Taal: | Herero (Otjiherero) |
Geloofsoortuiging: | Tradisionele Afrika-godsdiens, Christene |
Verwante etniese groepe: | Bantoevolke, Boesman, Khoikhoi, Griekwas, Namas, Himba, Tjimba en Zemba |
Die Herero is 'n swart stam van wie die meerderheid in Namibië voorkom, en die res in Botswana en Angola. In 2013 is die getal Herero's in Namibië op ongeveer 250 000 geraam. Hul taal behoort tot die Bantoesubfamilie van die Niger-Kongo-groepering.[1] Daar bestaan ondergroepe soos Himba, Tjimba en Zemba.
Voorkoms
[wysig | wysig bron]Die Herero kan beskryf word as lank, waardig en ligter van kleur as ander stamme in die omgewing en het vermoedelik uit Sentraal- of Noord-Afrika geëmigreer. Hulle glo tradisioneel aan voorvaderaanbidding en is hoofsaaklik beesboere.
Die vroue dra 'n buitengewone lang, wye hooftooisel, die otjikalva. Dit is 'n simbool van respek, wat gedra word om hulde te gee aan die koeie wat hulle histories onderhou het. Die hooftooisel kan gevorm word deur 'n opgerolde koerant wat in die materiaal bedek word. Dit word gemaak om te pas by hul rokke, met dekoratiewe borsspelde en penne in die middel.
Kontak met westerlinge
[wysig | wysig bron]Jacobus Coetzee het in 1760 die Herero's vir die eerste keer teëgekom. In 1830 het die Duitse sendeling Johann Schmelen en in 1842 het eerw. Carl Hugo Hahn probeer om hulle tot die Christelike geloof oor te haal. Die Duitsers het die land gekoloniseer en het herhaaldelik in botsing gekom met die Herero's onder hoofman Samuel Maherero. Die eerste Herero wat die Christelike doop ontvang het en wel op 25 Julie 1858, 15 jaar nadat Hahn sy werk onder dié volk begin het, was Johanna Gertze. Sy het hom ook 'n Duits-Herero-woordeboek help opstel en in Duitsland gehelp om Herero-tekste persklaar te maak.
Namibiese volksmoord
[wysig | wysig bron]- Die hoofartikel vir hierdie afdeling is: Namibiese volksmoord 1904–1908.
In die Herero-oorlog (1904–1908) tussen Duitse koloniste en die Herero's word die stam heeltemal verslaan en baie word gedood. Talle sterf aan dors en uitputting nadat hulle die woestyn in verdryf is deur gewapende Duitsers. Gedurende hierdie tyd het die Herero-bevolking van 90 000 tot 20 000 verminder. 179 Duitse offisiere en 2 169 manskappe het in die opstand gesneuwel.
Fotogalery
[wysig | wysig bron]-
'n Herero-vrou in Okahandja, Namibië
-
Herero-vroue in hul tradisionele klere naby Uis, Namibië
-
Herero in tradisionele drag aan die einde van die 19de eeu
-
'n Duitse argiefbeeld van Herero uit die koloniale tyd (Duits-Suidwes-Afrika)
-
Verspreiding van etniese groepe in Angola, 1970 (oranje: Herero)
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ Die woord "Bantu" in die linguistiese sin moet nie verwar word met die ou woord "Bantoe" wat vandag deur swart Afrikane as kwetsend aangevoel word nie.
Bronne
[wysig | wysig bron]Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]Wikimedia Commons bevat media in verband met Herero. |
- Wikiwoordeboek het 'n inskrywing vir Herero.
- (en) "Herero". Encyclopædia Britannica. Besoek op 15 Augustus 2019.