Henry Ford II
Henry Ford II | |
---|---|
Henry Ford II besoek Nederland in 1954. | |
Gebore | 4 September 1917 |
Sterf | 29 September 1987 Detroit, Michigan, VSA |
Nasionaliteit | Verenigde State |
Beroep | President van die Ford Motormaatskappy |
Eggenoot | Anne McDonnell, 1940–1964 (geskei) Maria Cristina Vettore, 1965–1980 (geskei) Kathleen DuRoss 1980–1987 (haar dood) |
Kinders | Charlotte, Anne, en Edsel Ford II (by McDonnell) stiefkinders Deborah Guibord en Kimberly DuRoss (by Kathleen DuRoss) |
Ouer(s) | Edsel Ford Eleanor Clay Ford |
Henry Ford II (1917–1987), ook bekend as "HF2" of "Hank the Deuce", was die oudste seun van Edsel Ford en die oudste kleinseun van Henry Ford. Hy was die president van die Ford Motormaatskappy (1945–1960), voorsitter en hoofuitvoerende beampte (1960–1979)[1] en die voorsitter vir 'n paar maande daarna. Onder sy leierskap het die Ford Motormaatskappy in 1956 'n openbaarverhandelde korporasie geword. Van 1943 tot 1950 het hy ook as president van die Fordstigting gedien.
Beknopte biografie
[wysig | wysig bron]Henry Ford II is op 4 September 1917 as die seun van Eleanor Clay Ford en Edsel Ford in Detroit, Michigan gebore. Hy en sy broers, Benson en William en sy suster Josephine, het in 'n welvarende familie grootgeword. Hy gradueer in 1939 van The Hotchkiss School[2] en later van die Yale-universiteit, waar hy 'n personeellid van The Yale Record[3] (die kampus se humortydskrif) was.
Toe sy pa (destyds die president van Ford) in Mei 1943 tydens die Tweede Wêreldoorlog aan kanker oorlede is, was Henry in die Amerikaanse Vloot en kon hy nie beheer van die maatskappy oorneem nie. Die bejaarde en siek Henry Ford, die maatskappy se stigter, het ingespring om uit te help, maar was nie meer in staat om die besigheid suksesvol te bestuur nie. Teen die einde van die oorlog het produksie begin daal en pres. Franklin D. Roosevelt het 'n regeringsoorname oorweeg om voortgesette produksie vir die oorlog te handhaaf, maar die idee is nooit tot uitvoering gebring nie.
Henry Ford II verlaat die vloot in Julie 1943 en word 'n paar maande later as 'n bestuurder by die maatskappy aangestel. Twee jaar later, op 21 September 1945, neem hy die maatskappy se leisels oor.
Op 1 Oktober 1982 tree Ford formeel af, nadat hy die maatskappy se verpligte aftree-oudedom van 65 bereik het. Hy is egter tot sy dood in 1987 as die maatskappy se hoogste gesag beskou.
Ford is op 29 September 1987 in die Henry Ford Hospitaal aan longontsteking oorlede. Hy was toe 70 jaar oud.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ "Henry Ford" (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 September 2007. Besoek op 14 Februarie 2007.
- ↑ "Alumni Award: PREVIOUS RECIPIENTS" (in Engels). The Hotchkiss School. 2004. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Julie 2016. Besoek op 8 Maart 2015.
- ↑ Alexander, Cecil A. (May–June, 2004) "The Pranks of Yesteryear". The Harvard Magazine. Cambridge: Harvard.