Heilige Saterdag is die laaste dag van Lydensweek (wat volgens liturgiese telling begin met Palmsondag as eerste dag van dié week), waarin Christene hulself vir Paasfees voorberei. In die Kopties-Ortodokse Kerk word dié dag ook Vreugdevolle Saterdag of Saterdag van Lig genoem. Liturgies gesien duur Heilige Saterdag slegs tot die aandskemer, waarna die Paaswake gevier word en vervolgens die eintlike Paasfees begin, omdat 'n dag volgens Joodse tradisie met sononder begin en die oorspronklike Paaswake tydens Pesach gehou is.
Heilige Saterdag is die Saterdag voor Paasfees en die dag ná Goeie Vrydag.[1] Dit is die tweede dag van die Paastriduüm (Triduum Sacrum of Triduum Paschale), die tydperk van passie, dood en opstanding van Jesus; hierdie tydperk sluit Wit-Donderdag en Goeie Vrydag in, en eindig op die aand van Paasfees.[2][3]
Christene herdenk op Heilige Saterdag Jesus se tyd in die graf en sy neerdaling na die hel, waar hy ná sy kruisiging "na die geeste in die gevangenis gegaan en daar sy oorwinning aangekondig" het (1 Petrus 3:19).[4] Soms word na die Heilige Saterdag as Paassaterdag verwys, hoewel dit nie met die kerklike tradisie ooreenstem nie: Paassaterdag is in die kerklike liturgie die Saterdag ná Paasfees en vervolgens dié dag voor Wit-Sondag, 'n week ná Paasfees.
Die datum van Heilige Saterdag word, nes baie ander feeste en herdenkings van die liturgiese jaar, volgens die Paasfeesdatum bereken. Vervolgens word Heilige Saterdag op die dag voor Paassondag gehou. Die vroegste moontlike datum volgens die Gregoriaanse kalender is 21 Maart en die laaste moontlike datum is 24 April. In die Juliaanse kalender, wat veral deur die Oosters-Ortodokse Kerke gebruik word, verskil dié datum effens.
(de) Pous Benedictus XVI: Karsamstag. Erste Meditation. In: Joseph Ratzinger: Meditationen zur Karwoche. (= Meitinger Kleinschriften, Nr. 5) Kyrios, Meitingen, Freising, 7. Aufl. 1980, S. 17–21 (geistliche Deutung des Karsamstags).
(de) Hans-Ulrich Wiese: Karsamstagsexistenz: Auseinandersetzung mit dem Karsamstag in der Liturgie und moderner Kunst (= Bild – Raum – Feier. Studien zu Kirche und Kunst, Band 1) Schnell und Steiner, Regensburg 2002, ISBN 3-7954-1515-2 (Dissertation Universität Bonn 2001, 292, [15] Seiten mit Illustrationen).