Gereformeerde kerk Johannesburg-Wes
Die Gereformeerde kerk Johannesburg-Wes was ’n gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in, soos die naam aandui, die weste van die Goudstad met sy kerkgebou in die voorstad Brixton.
Stigting
[wysig | wysig bron]Die gemeente het op 13 Desember 1930 van die Gereformeerde kerk Johannesburg afgestig nadat Johannesburg-Oos en -Noord reeds ses jaar vantevore onderskeidelik op 29 Februarie en 1 Maart 1924 uit Johannesburg ontstaan het. Die gemeente Johannesburg-Wes het sy kerkgebou 1 km wes van die Hertzog- of Brixtontoring opgerig in Putneyweg, Brixton, op ’n rif wat as hoofwaterskeiding dien. Noord daarvan vloei die riviere oos en suid vloei hulle wes. So was die kerkgebou soos ’n kerk op ’n berg vir die omliggende voorstede van Brixton, Auckland Park, Rossmore, Westdene, Mayfair-Wes, Crosby en Hurst Hill waar mettertyd so ’n groot konsentrasie Afrikaanssprekendes gewoon het dat feitlik elkeen van dié voorstede ’n NG gemeente kon onderhou: Brixton, Aucklandpark, Johannesburg-Wes (Mayfair-Wes), Westdene, Mayfair, Fordsburg, Crosby en Crosby-Wes (Hurst Hill). Langlaagte, Mayfair en Cottesloe\Vrededorp) het in Maart 1952 deel geword van die Gereformeerde kerk Johannesburg-Sentraal, terwyl ’n gedeelte van Auckland Park saam met Melville en Westdene deel was van Johannesburg-Noord.
Op 1 April 1943 is die grense tussen Johannesburg en Johannesburg-Wes opgehef, toe die gemeente Johannesburg-Wes word. Op 22 Oktober 1950 is Johannesburg met 427 belydende lidmate herstig en het dit vanaf 1952 bekendgestaan as Johannesburg-Mayfair. Ná die herstigting het Johannesburg-Wes agtergebly met 794 belydende lidmate.
Die gemeente se eerste kerk (eintlik ’n kerksaal), by Fulhamweg 67, is op 29 Augustus 1931 in gebruik geneem. Dit staan nog, maar is op 11 Julie 11945 vir £3 250 verkoop. Die argitek was Nellie Edwards nadat Rowe en Rowe se plan afgekeur is.[1] Die tweede en laaste kerk was by Putneyweg 35, ook in Brixton, sowat 250 m van die eerste gebou af. Die argitekte was Gerard Moerdyk en Henry Watson. Ds. Ammi Venter het die hoeksteen op 10 April 1948 gelê. Die teksvers daarop is Ps. 115:1 "Nie aan ons, o HERE, nie aan ons nie, maar aan u Naam gee eer, om u goedertierenheid, om u trou ontwil.[2] Die gebou, so het 'n lidmaat 70 jaar ná die hoeksteenlegging vertel, "was teen 'n erge helling, en die saal/konsistorie was onder die kerk geleë. Ons jonges het buite om beweeg vir ons aktiwiteite ( katkisasie, JV, ens.), maar die kerkraad het met 'n binnetrap in die kerk 'verskyn'. As kind was dit vir my 'n diep geheimenis. Kinders is nie eintlik daar toegelaat nie en ons kon net wonder waar hulle vandaan kom."
Ontbinding
[wysig | wysig bron]Teen 1970 het daar nog so baie Afrikaanssprekendes in dié gebied wes van die Johannesburgse middestad en oos van Roodepoort gewoon, daar is beweer dis die digste sametrekking van Afrikaners in die hele land. Ongelukkig het hier ook een van die mees ingrypende demografiese veranderings plaasgevind wat gelei het tot die vermindering van sewe NG gemeentes tot net een, die Brixton-kerk, en die ontbinding van die enigste twee Gereformeerde kerke.
Vroeg in die sewentigerjare het Johannesburg-Wes amper 700 siele gehad. Die oprigting van die Randse Afrikaanse Universiteit en die SAUK se nuwe uitsaaisentrum het ’n verjonging teweeggebring in die gemeente wat reeds aan die verouder was. Ongelukkig het die grootskaalse verhuising van lidmate na voorstede vêrder van die middestad voortgeduur en eindelik besluit die gemeente in 1999 om te ontbind. Lidmate het daarna ingeskakel by die Gereformeerde kerk Delarey in die aanliggende Roodepoort, waarvan die naam terselfdertyd Bergbron geword het.
Danksy sendingwerk in die destydse bruin woonbuurt Newclare, kon daar in 1960 ’n Gereformeerde kerk gestig word wat vandag (2017) nog bestaan.
Predikante
[wysig | wysig bron]- Venter, Abraham Adriaan, 1935–1951
- Van der Walt, Dirk Jacobus, 25 Augustus 1951 – 3 April 1955
- Van der Walt, dr. Louis Stefanus, 4 Junie 1955 – 6 Desember 1955 (aanvaar sy emeritaat en gaan werk tot 1962 by die Bybelgenootskap)
- Duvenage, Abraham Petrus Carolus, 17 Maart 1962 – 14 Februarie 1971
- Kruger, dr. Mechiel Andries, 1971–1974
- Opperman, Paul Jacobus, 1974–1988 (aanvaar sy emeritaat)
- Steyn, Jan Hendrik, 1988-1995 (verlaat die bediening)
- Pretorius, dr. Jacob Bluris, 1995–1998 (waarna Bergbron tot 2001)
Bronne
[wysig | wysig bron]- (af) Harris, C.T., Noëth, J.G., Sarkady, N.G., Schutte, F.M. en Van Tonder, J.M. 2010. Van seringboom tot kerkgebou: die argitektoniese erfenis van die Gereformeerde Kerke. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Schalekamp, ds. M.E. (voorsitter: redaksiekommissie). 2001. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2002. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Van der Walt, dr. S.J. (voorsitter: deputate almanak). 1997. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 1998. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Venter, ds. A.A. (hoofred.) 1957. Almanak van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika vir die jaar 1958. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Venter, ds. A.A. (hoofred.) 1958. Almanak van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika vir die jaar 1959. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Vogel, Willem (red.). 2014. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2015. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ (en) Johannesburg 1912. URL besoek op 18 Februarie 2018.
- ↑ (af) Die 1953-vertaling van die Bybel. URL besoek op 18 Februarie 2018
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- (en) Die gemeente se kerkgebou in Putneyweg, Brixton, is in ‘n woonhuis omskep, soos te sien op Google Maps. URL besoek op 25 November 2015.
- (en) Hier kan gesien word hoe naby die NG kerk Brixton (later vergesig en nou Brixton-kerk) en die Gereformeerde kerk Johannesburg-Wes, albei in Putneyweg, aan mekaar was. URL besoek op 25 November 2015.