Gereformeerde kerk Durban-Noord
Gereformeerde Kerk Durban-Noord | ||
Vorige naam | Noord-Durban | |
Sluit in | Ballito Blythdale Durban-Noord Durban-Sentraal Strandfront La Lucia Mandini Morningside Musgrave Overport Red Hill Salt Rock Sunningdale Stanger Umdloti Umhlali Umgeni Park Umhlanga Rocks Zinkwasi | |
Denominasie | Gereformeerde Kerk | |
Klassis | KwaZulu-Natal | |
Huidige predikant(e) | G.J.J. (Giepie) van der Merwe | |
Belydende lidmate | 105 | |
Dooplidmate | 16 | |
Adres | Waterkantstraat 121 Durban-Noord | |
Geskiedenis | ||
Stigtingsdatum | 23 November 1952 | |
Eerste predikant | Dr. E.J.G. Norval (1953–'58) | |
Datum ingelyf | 2013 | |
Ingelyf by | Ladysmith |
Die Gereformeerde kerk Durban-Noord is ’n gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) in die grootste stad in KwaZulu-Natal, Durban, maar die gemeentegrense sluit ook die gebied van Umhlanga af noordwaarts tot by Stanger in.
Ds. J. Venter het op 23 November 1952 ’n erediens in ’n kerkgebou by Montpellierweg (nou Sandile Thusiweg) 112, Berea, gehou. By hierdie geleentheid is die nuwe Gereformeerde kerk Noord-Durban afgestig van die Gereformeerde kerk Durban, die tweede en voorlaaste afstigting in dié oorwegende Engelse hawestad. Later (omstreeks 1983) het die naam Durban-Noord geword. In 1968 het ook nog Durban-Wes aan die beurt gekom, maar nadat Pinetown se afstigting in 1986 dié gemeente blykbaar sodanig verswak het dat dit nie selfstandig kon voortbestaan nie, het dit in 1990 ontbind en met leraar en al oorgegaan na Durban.
’n Tweede kerk in Durban het nodig geword omdat die enkele leraar van Durban, ds. P.J. de Klerk, die hele Natalse kusgebied met amper 600 belydende lidmate moes bedien. Onder ds. E.J.G. Norval se leiding is besluit om ’n kerkgebou op te rig. Geld was skaars; daarom het die GKSA se Administratiewe Buro ’n lening van £9 000 toegestaan. Selfs in dié kerkverband se eeufeesjaar (1959) het Noord-Durban nog net 202 belydende lidmate gehad, vergeleke met die moederkerk se 472, oftewel meer as ’n derde van al die Doppers in Natal. Ds. Norval het die hoeksteen van die Totiussaal in Floridaweg, dieselfde straat waarin die NG gemeente Berea se kerkgebou geleë was, gelê.
Intussen het die gemeente sendingwerk in KwaMashu gedoen en twee erwe bekom. Op 29 Augustus 1959 is twee kerkgeboue toe in gebruik geneem. Die Gereformeerde kerk KwaMashu, in 2015 die grootste Gereformeerde gemeente in KwaZulu-Natal, het dié twee kerke minstens nog in 2010 gebruik.
Teen 1984 het dit soveel beter gegaan met Durban-Noord, wat dikwels net danksy sustentasie kon oorleef, dat die kerkraad dit oorweeg het om ’n nuwe kerkgebou op te rig. In daardie jaar is die Totiussaal teen vervangingswaarde verkoop en ’n erf by Waterkantweg 121, Durban-Noord, aangekoop. Op 1 Oktober 1985 het die bouwerk begin met ’n lidmaat, Julian Thom, as bouheer wat toesig gehou het en die gemeente as eienaarbouer. Die boukoste en die koste van die grond het sowat R330 000 beloop. Die inkomste deur die verkoop van die saal en ook ná talle bydraes, was R290 000. Dora van der Walt het die kerkdeur plegtig oopgesluit op 2 November 1986.
Durban-Noord het einde 1998 185 belydende lidmate gehad en die moedergemeente 240. Einde 2014 het Durban-Noord 138 belydende lidmate gehad en die moedergemeente 74. In min of meer dieselfde tyd het die 14 NG gemeentes in Durban en omstreke se belydende lidmate van sowat 10 000 tot sowat 6 600 afgeneem.
Met die samesmelting van die Klassisse KwaZulu-Natal-Suid en -Noord het die gemeente op 12 Maart 2024 deel geword van die nuwe klassis.
Predikante
[wysig | wysig bron]- Norval, dr. Ernst Jacobus Gustavus, 1953–1958
- Van der Walt, Pieter Gert Lodewyk, 1959–1965
- De Klerk, Pieter Bouman, 1966–1974 (in kombinasie met Empangeni), 1974-1977 (net Noord-Durban)
- Welding, Jozua Francois, 1977–1983
- Kruger, Johannes Jacob De Wet, 1983–1998
- Coetsee, Human Beukes, 1998–2008
- Saaiman, dr. De Wet, 2008–2011
- Van der Merwe, Gideon Johannes Jakobus, 2012 – hede
Bronne
[wysig | wysig bron]- (af) Harris, C.T., Noëth, J.G., Sarkady, N.G., Schutte, F.M. en Van Tonder, J.M. 2010. Van seringboom tot kerkgebou: die argitektoniese erfenis van die Gereformeerde Kerke. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Schalekamp, ds. M.E. (voorsitter: redaksiekommissie). 2001. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2002. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Van der Walt, dr. S.J. (voorsitter: deputate almanak). 1997. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 1998. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Venter, ds. A.A. (hoofred.) 1957. Almanak van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika vir die jaar 1958. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Venter, ds. A.A. (hoofred.) 1958. Almanak van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika vir die jaar 1959. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Vogel, Willem (red.). 2014. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2015. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- (en) Die gemeente se kerkgebou by Waterkantweg 121, Durban-Noord, soos te sien op Google Maps. URL besoek op 7 Desember 2015.