Georges Auric
Georges Auric (15 Februarie 1899 – 23 Julie 1983) was 'n Franse komponis wat gebore is in Lodève, Hérault. Hy word beskou as een van die lede van Les Six, 'n groep kunstenaars wat hulself geassosieer het met Jean Cocteau en Erik Satie.[1] Auric het reeds voor hy twintig was vir verskeie ballette en verhoogproduksies insidentele musiek geskryf en ge-orkesteer. Hy was ook 'n bekende rolprent-komponis.
Vroeë Lewe en opvoeding
[wysig | wysig bron]Georges Auric het op 'n jong ouderdom met sy musikale loopbaan begin, en op die ouderdom van twaalf 'n opvoering gegee by die Société musicale indépendante. Verskeie van sy liedere is die jaar daarna opgevoer deur die Société Nationale de Musique.[2]
Auric het musiek aan die Parys Konservatorium gestudeer, en komposisie onder Vincent d'Indy en Albert Roussel aan die Schola Cantorum de Paris.[3][4]
Nadat Auric as "wunderkind" in beide komposisie en klavier bekend geword het, het hy in die daaropvolgende dekade 'n leerling van Erik Satie geword. Gedurende die 1910's en 20's het hy 'n groot bydrae gemaak tot avant-garde musiek in Parys. Hy is in groot mate beïnvloed deur Cocteau en die ander komponiste van Les Six.[5]
Loopbaan
[wysig | wysig bron]Auric se vroeë werk is gekenmerk deur 'n reaksie teen die musikale establishment. Om die rede, ook wat sy verbintenis met Cocteau en Satie betref, is Auric deur die musiekkritikus Henri Collet as deel van Les Six gesien. Hy was ook vriende met die kunstenaar Jean Hugo.
Hy het saam met die ander vyf komponiste 'n stuk bygedra tot L'Album des Six. In 1921 het Cocteau hom gevra om die musiek vir sy ballet, Les Mariés de la tour Eiffel, te skryf. Hy het min tyd gehad om by alles uit te kom, en dus het hy sy mede-komponiste, wat deel uitgemaak het van Les Six, gevra om ook musiek vir die ballet te skryf.
Almal behalwe Louis Durey het ingestem. Gedurende die tyd het hy sy een-stuk opera, Sous le masque (1927) ('n vroeëre opera, La Reine de coeur (1919), is verlore), geskryf. Hy het ook in 1927 die Rondeau bygedra vir die kinderballet L'Éventail de Jeanne, wat 'n samewerkingspoging was tussen tien Franse komponiste.
In 1952 het hy deelgeneem aan 'n verdere samewerking, naamlik die stel orkestrale variasies La Guirlande de Campra. Alhoewel Les Six 'n informele en kortgeleefde groep was, het dit bekend geword weens die groep se reaksie teen die musikale establishment van die tydperk, en die bevordering van absurdisme en satire; die groep het op soortgelyke wyse teen beide Wagner en Debussy gerebelleer.
Die musiek van hierdie komponiste, Auric se musiek ingesluit, het die spesifieke kulturele atmosfeer van Parys van die tydperk gereflekteer, en die internasionale style wat meegebring is deur Russiese- en Duitse musiek, verwerp, sowel as die simbolisme van Debussy.[6] Auric se latere ontwikkeling as 'n populistiese komponis is vooruitgeloop deur baie van die tegnieke en ideale van Les Six, veral die gebruik van gewilde musiek en situasies. Die musiek van die sirkus of die danssaal het 'n beduidende rol gespeel in die musiek van Les Six, veral in hul samewerking.[7] Les Six het egter gou uitmekaar gedryf, met Auric en andere wat verskillende benaderings tot hul kuns geneem het.
Na sy vroeë sukses as avant-garde komponis het Auric deur 'n tydperk van transformasie gegaan gedurende die 1930's. Hy het in 1930 klankbane vir rolprente begin skryf, en in 1931 die musiek gekomponeer vir A Nous, la Liberté!, wat goed ontvang is. Die rolprent is egter gekritiseer vir sy kommunistiese en anargistiese temas, maar daar was algemene goedkeuring van Auric se musiek.[8]
Terwyl sy loopbaan as 'n suksesvolle rolprent-komponis van stapel gestuur is, het sy musiek deur 'n periode van stagnasie en verandering gegaan. Sy Klaviersonata (1931) is nie goed ontvang nie, en is opgevolg deur 'n tydperk van vyf jaar waartydens hy nie veel geskryf het nie, met inbegrip van sy eerste drie rolprentklankbane. Sy verbintenis met Cocteau het gedurende hierdie tydperk voortgegaan, en hy het die musiek tot Cocteau se Le Sang d'un poète (Die bloed van 'n Digter) geskryf.
Auric het teen 1935 afstand gedoen van die hoogdrawende en neerbuigende houding van sy vroeë jare ten gunste van 'n populistiese benadering. [9] Hy het begin assosieer met linkse groepe en publikasies soos Association des Ecrivains et des Artistes Révolutionnaires (AEAR), Maison de la Culture en Fédération Musicale Populaire.
Die rolprente wat Auric gekies het om klankbane voor te skryf tydens sy loopbaan as rolprent-komponis is beïnvloed deur nuwe linkse oortuigings sowel as deur ou assosiasies. Hy het op elf rolprente saamgewerk met Jean Cocteau.[10] Hy het deur die jare vir 'n groot aantal rolprente musiek gekomponeer, insluitende rolprente wat in Frankryk, Engeland, en die Verenigde State geproduseer is. Van sy gewildste musiekstukke is die klankbaan vir Moulin Rouge. Die liedjie van diè rolprent, "Where Is Your Heart?", het baie gewild geword.[11]
In 1962 het hy opgehou om musiek vir rolprente te skryf toe hy direkteur en voorsitter geword het van onderskeidelik die Opéra National de Paris en die Société des auteurs, compositeurs et éditeurs de musique (SACEM), die Franse Uitvoerende Kunste Genootskap. Auric het tot sy afsterwe voortgegaan om klassieke musiek vir kamerorkes te komponeer, veral vir blaasinstrumente.
Musiekkritiek was 'n ander groot faset van Auric se loopbaan. Sy kritiek was daarop gefokus om die ideale van Les Six en Cocteau, esprit nouveau, te bevorder. Sy kritiek was spesifiek gefokus op die veronderstelde aanstellerigheid en hoogdrawendheid van Debussy, Wagner, Saint-Saëns en Massenet. Cocteau, Les Six en Auric se oordeel van bogenoemde komponiste se musiek was dat dit geskei was van realiteit. Hulle het musiek verkies wat gegrond was in populisme.[12]
Werke
[wysig | wysig bron]- Trois Interludes vir klavier en stem (1914)
- Huit Poèmes de Jean Cocteau vir klavier en stem (1918)
- Adieu, New-York! vir klavier (1919)
- Prélude vir klavier (1919)
- Les joues en feu vir klavier en stem (1920)
- Ouverture en Ritournelle van Les Mariés de la Tour Eiffel vir orkes (1920)
- Pastorales vir klavier (1920)
- Sonatine vir klavier (1922)
- Les Fâcheux (Ballet) (1923)
- Cinq Bagatelles vir klavier 4-hande (1925)
- Les Matelots (Ballet) (1925)
Geselekteerde Rolprente
[wysig | wysig bron]- Le Sang d'un poète (1930)
- Lake of Ladies (1934)
- The Mysteries of Paris (1935)
- The Messenger (1937)
- The Alibi (1937)
- The Lafarge Case (1938)
- The Beautiful Adventure (1942)
- François Villon (1945)
- Dead of Night (1945)
- Beauty and the Beast (1946)
- Hue and Cry (1947)
- Passport to Pimlico (1948)
- Silent Dust (1949)
- The Spider and the Fly (1949)
- Orpheus (1950)
- The Lavender Hill Mob (1951)
- The Galloping Major (1951)
- Moulin Rouge (1952)
- Leathernose (1952)
- The Titfield Thunderbolt (1953)
- Roman Holiday (1953)
- The Slave (1953)
- The Wages of Fear (1953)
- The Divided Heart (1954)
- Lola Montes (1955)
- Rififi (1955)
- The Hunchback of Notre Dame (1956)
- Bonjour Tristesse (1958)
- The Night Heaven Fell (1958)
- Goodbye Again (1961)
- The Innocents (1961)
- The Mind Benders (1963)
- The Christmas Tree (1969)
Notas
[wysig | wysig bron]Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Engelse Wikipedia vertaal. |
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ Vera Rašín, "Les Six' and Jean Cocteau", in: Music & Letters 38, no. 2 (Apr. 1957), bl. 164.
- ↑ Roust: "Reaching a Plus Grand Public: Georges Auric as Populist", in: The Musical Quarterly 95 (2012), bl. 343.
- ↑ "BFI Screenonline: Auric, Georges (1899-1983) Biography". www.screenonline.org.uk (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Desember 2016.
- ↑ Roust, "Reaching ...", bl. 343.
- ↑ Roust, "Reaching ...", bl. 344.
- ↑ "Georges Auric - French composer". Encyclopedia Britannica (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 April 2019.
- ↑ Rašín, "'Les Six'...", bl. 166.
- ↑ Colin Roust, "'Say it with Georges Auric': Film Music and the esprit nouveau," in: Twentieth-Century Music 6 (2009), bl. 133–134.
- ↑ Roust, "Reaching ...", bl. 343–344.
- ↑ Roust, "Say it with ...", bl. 138.
- ↑ Encyclopædia Britannica, "Georges Auric."
- ↑ Roust, "Say it with ...", bl. 135-136.