Gaan na inhoud

Gebande muishond

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Gebande muishond
Wetenskaplike klassifikasie edit
Domein: Eukaryota
Koninkryk: Animalia
Filum: Chordata
Klas: Mammalia
Orde: Carnivora
Suborde: Feliformia
Familie: Herpestidae
Genus: Mungos
Spesie:
M. mungo
Binomiale naam
Mungos mungo
(Gmelin, 1788)
     verspreiding

Die gebande muishond (Mungos mungo) is 'n klein muishond wat in Afrika voorkom en uitgeken word aan die duidelike strepe wat oor sy liggaam strek.

Verspreiding en habitat

[wysig | wysig bron]

Hierdie klein karnivore is inheems aan Afrika en kom hoofsaaklik suid van die Sahara voor. Die dier se verspreiding strek reg oor Afrika: van Gambië tot Noordoos-Ethiopië en suid tot in Suid-Afrika. Gebande muishonde lewe in groot kolonies van tot 75 muishonde en word meestal in beboste grasvelde en klipperige omgewing waargeneem. Die diere kom ook in ander gebiede voor, maar word nie in woestynagtige of semi-woestynagtige gebiede aangetref nie.

Beskrywing

[wysig | wysig bron]

Soos sy naam te kenne gee, het die gebande muishond duidelike strepe of bande wat dwars oor sy liggaam strek. Die strepe is donker en wissel van die ligter kleur van die res van sy pels. Die dier se pote en die punt van sy stert is gewoonlik donker, terwyl die res van die liggaam soortgelyk is aan die ligter pels tussen die donker bande. Die ligter pels wissel van 'n witterige kleur tot rooibruin. 'n Volwasse gebande muishond het 'n gemiddelde lengte van 65 cm. Die stert se lengte is ongeveer die helfte van dié van die liggaam.

Die voorpote het vyf ledemate, elk met 'n lang, geboë klou wat gebruik word om te krap of in die grond te grawe. Die agterpote het vier ledemate, ook met 'n klou elk. Die kloue op die agterpote is oor die algemeen korter, swaarder en minder geboë.

Gewoontes

[wysig | wysig bron]

Gebande muishonde vreet hoofsaaklik insekte, veelpotiges (Myriapoda) maar vang ook soms klein soogdiertjies (soos rotte en muise), paddas, klein slange, akkedisse en grondlewende voëls, asook van die voorgenoemdes se eiers. Duisendpote en kewers verteenwoordig 'n groot deel van hul dieet, maar miere, krieke, termiete, sprinkane, ruspes en oorkruipers word ook algemeen gevreet.

Harde voorwerpe, soos eiers of slakke, word in die lug gegooi, óf word onder die liggaam, tussen die agterpote deur, teen 'n klip gegooi, om van die harde dop ontslae te raak. Dié karnivore sal ook soms hulle dieet aanvul met wilde bessies en vrugte. Gebande muishonde jag dikwels saam met bobbejane. By geleentheid sal dié muishonde water uit reënpoele of aan wateroewers drink. Familiegroepe word deur 'n dominante wyfie gelei, en die oornagplekke word gewoonlik daagliks afgewissel.

Voortplanting

[wysig | wysig bron]

'n Wyfie is telkens vir twee maande dragtig, waarna sy geboorte gee aan twee tot ses kleintjies. Die kleintjies word blind gebore, met baie min hare, maar kan na 10 dae begin sien en na twee weke het hulle 'n jeugdige pels ontwikkel. In 'n kolonie word voortplanting dikwels gesinchroniseer, sodat verskeie wyfies 'n paar dae uit mekaar geboorte skenk. Kleintjies kan aan enige melkskenkende wyfie soog. 'n Gebande muishond het 'n moontlike lewensduur van 12-13 jaar, maar minder as die helfte van die kleintjies oorleef tot 'n ouderdom van drie maande.

'n Gebande muishond in die Maasai Mara, Kenia

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Bronnelys

[wysig | wysig bron]
  • Soogdiere van die Krugerwildtuin en ander Nasionale Parke (1979). Saamgestel deur Die Nasionale Parkeraad. 'n Publikasie van die Raad van Kuratore vir Nasionale Parke van die Republiek van Suid-Afrika. ISBN 0-86953-027-5.
  • Ladd, R. 2000. "Mungos mungo", Animal Diversity Web.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]