Gaan na inhoud

Galaal

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Die woord "galaal" in Arabies. Dit word in winkels en restaurante en op produkte gebruik om vir Moslems aan te dui wat wettig is.

Galaal of halaal[1][2] (Arabies: حلال, ḥalāl) is 'n Arabiese woord wat in Afrikaans as "wettig" vertaal word. Dit word gebruik in teenstelling met die woord garaam of haraam, wat "verbode" beteken. Dié teenstelling is deel van 'n ingewikkelder klassifikasie bekend as ""die vyf beslissings"": fard (verpligtend), mustahabb ("aanbevole"), mubah ("neutraal"), makruh ("afkeurenswaardig") en garaam ("verbode").[3] Islamitiese juriste verskil daaroor of die term "galaal" die eerste twee of die eerste vier van dié kategorieë dek.[3] In onlangse tye lê baie Islamitiese bewegings klem op die eenvoudiger onderskeid tussen galaal en garaam.[4][5]

Die term "galaal" word veral verbind met kosse wat wettig is kragtens Islamitiese wette, veral oor hoe vleis berei word. In die Heilige Quran word die woorde "wettig" en "verbode" gebruik.[6]

In Islam word alle kosse gewoonlik as galaal beskou, tensy dit spesifiek deur die Hadit of Quran verbied word.[7] Galaal kos is meer spesifiek dié wat:

1. Gemaak, vervaardig, bewerk en geberg word met masjinerie, toerusting en/of gerei wat volgens die Islamitiese wet Sjaria skoongemaak is.
2. Vry is van enige komponent wat Moslems volgens Islamitiese wette nie mag eet nie.[8]

Die algemeenste voorbeeld van "garaam" (niegalaal) is varkvleis (die Quran verbied dit).[9] Ander kosse wat garaam is, hang af van die bron daarvan, die oorsaak van die dier se dood en hoe dit verwerk is. Die meeste Islamitiese geleerdes beskou skulpvis en ander seekos as galaal.[10] Vegetariese kosse is galaal indien dit nie alkohol bevat nie.[11]

Moslems moet seker maak alle kosse (veral geprosesseerde kosse), sowel as ander items soos skoonheidsmiddels en medisynes, is galaal.[12][13] Dié produkte bevat dikwels dierebyprodukte of ander bestanddele wat Moslems nie mag eet of aan hulle lyf gebruik nie. Kosprodukte wat nie as galaal beskou word nie, sluit in bloed[14] en bedwelmende middels soos sterk drank.[15]

'n Moslem wat andersins van honger sou omkom, word toegelaat om niegalaal kos te eet as daar geen galaal kos beskikbaar is nie.[16][17] Soms, soos op 'n vliegtuig, sal Moslems gewoonlik kosjer kos bestel as galaal kos nie beskikbaar is nie om te verseker dit bevat nie varkvleis nie.

Galaal vleis

[wysig | wysig bron]
Die galaal vleisafdeling van 'n winkel in Kanada.

Galaal vleis moet kom van 'n verskaffer wat galaal praktyke beoefen. Dhabīḥah (Arabies: ذَبِيْحَة) is volgens Islam die voorgeskrewe manier om alle vleisbronne dood te maak, insluitende vis en ander seediere. Dit behels dat 'n skerp mes gebruik word om 'n insnyding deur die voorkant van die keel, slukderm en keelaar te maak, maar nie deur die rugmurg nie.[18] Die kop van die dier wat met die galaal metode doodgemaak word, moet met die kiebla oplyn. Benewens die rigting, moet wettige diere doodgemaak word terwyl die Islamitiese gebed Basmala opgesê word.[19]

Die dier moet deur 'n Moslemman doodgemaak word.[20] Die karkas van dooie diere, soos diere wat in die natuur dood is, mag nie geëet word nie[21] – ook nie 'n dier wat verwurg of doodgeslaan is of wat doodgeval het of deur 'n roofdier doodgemaak is nie (tensy die finale doodslag deur 'n mens toegedien is), ook nie diere wat op 'n steenaltaar geoffer is nie.[21]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. (af) (en) The Cape Muslim Vernacular – ek soembain gou dot kom. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 Oktober 2019. Besoek op 16 Maart 2019.
  2. "Halaal" in die HAT. Aanlyn by viva-afrikaans.org (intekening nodig). Besoek op 4 November 2022.
  3. 3,0 3,1 Vikør, Knut S. (2014). "Sharīʿah". The Oxford Encyclopedia of Islam and Politics. Ed. Emad El-Din Shahin. Oxford University Press. ISBN 978-0-19-530513-5. 
  4. "Halal". Encyclopedia of Islam. (2009). Ed. Juan Eduardo Campo. Infobase Publishing. 
  5. Lowry, Joseph E (2006). "Lawful and Unlawful". Encyclopaedia of the Qurʾān. Ed. Jane Dammen McAuliffe. Brill. DOI:10.1163/1875-3922_q3_EQCOM_00107. 
  6. Die Heilige Quran. In Afrikaans vertaal deur Imam M.A. Baker. Uitgegee deur IDM (Islamic Dawah Movement of Southern Africa) Publications. ISBN 978-0-620-60451-2
  7. "Definition of Halal". Halal Monitoring Committee U.K.
  8. "What is Halal? A Guide for Non-Muslims". Islamic Council of Victoria (ICV). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 12 April 2022. Besoek op 22 Februarie 2022.
  9. Quran 2:173 en 16:115
  10. "You searched for seafood • Muslimversity".
  11. "Is Vegetarian Cuisine always Halal?". Islamic Services of America (ISA). 24 Junie 2020. Besoek op 22 Februarie 2022.
  12. Kenji Sugibayashi, Eddy Yusuf, Hiroaki Todo, Sabrina Dahlizar, Pajaree Sakdiset, Florencio JrArce, and Gerard Lee See (1 Julie 2019). "Halal Cosmetics: A Review on Ingredients, Production, and Testing Methods". Cosmetics. 6 (3): 37. doi:10.3390/cosmetics6030037.{{cite journal}}: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)
  13. "Halal for health: Scaling up halal pharmaceuticals" (PDF). The Economist. Besoek op 22 Februarie 2022.
  14. Quran 16:115
  15. Quran 5:90
  16. Quran 16:115
  17. Maqsood, Rubaiyat Waris (2004). Islam. Teach Yourself World Faiths. London: Hodder & Stoughton. p. 204. ISBN 978-0-340-60901-9.
  18. "Islamic Method of Slaughtering – Department of Halal Certification". halal certification.ie.
  19. Qasmi, Qazi Mujahidul Islam (1 Januarie 2009). The Islamic Concept of Animal Slaughter: احكام الذبيحة من المنظور الاسلامي [انكليزي] ترجمة (in Engels). Dar Al Kotob Al Ilmiyah دار الكتب العلمية. p. 44:47. ISBN 978-2-7451-6060-7.
  20. "Department of Halal Certification EU". Department of Halal Certification EU.
  21. 21,0 21,1 Quran 5:3

Nog leesstof

[wysig | wysig bron]
  • Yungman, Limor, "Food", in Muhammad in History, Thought, and Culture: An Encyclopedia of the Prophet of God (2 volumes.), reds. C. Fitzpatrick en A. Walker, Santa Barbara, ABC-CLIO, 2014, Vol I.

Skakels

[wysig | wysig bron]