Calitzdorp
Calitzdorp | |
---|---|
'n Straat in Calitzdorp | |
Koördinate: 33°32′15″S 21°41′7″O / 33.53750°S 21.68528°O | |
Land | Suid-Afrika |
Provinsie | Wes-Kaap |
Distrik | Tuinroete |
Munisipaliteit | Kannaland |
Stigting | 1821[1] |
Oppervlak | |
• Totaal | 26,33 km2 (10,17 vk. myl) |
Hoogte | 233 m (764 ft) |
Bevolking (2011)[2] | |
• Totaal | 4 284 |
• Digtheid | 163/km2 (420/vk. myl) |
Rasverdeling (2011) | |
• Wit mense | 8.9% |
• Indiërs/Asiërs | 0.5% |
• Bruin mense | 85.5% |
• Swart mense | 4.3% |
• Ander | 0.8% |
Taal (2011) | |
• Afrikaans | 94.2% |
• Engels | 3.3% |
• Ander | 2.5% |
Poskode (strate) | 6660 |
Poskode (posbusse) | 6660 |
Skakelkode | 044 |
Webwerf | Calitzdorp |
Calitzdorp is 'n landboudorp in die Wes-Kaap (Suid-Afrika), omtrent halfpad tussen Ladismith en De Hoop. Die bekende R62 provinsiale roete gaan deur Calitzdorp. Vrugteverbouing en wynbou speel 'n belangrike rol in die dorp se ekonomie. Sy portwyne is verskeie kere met pryse bekroon sodat Calitzdorp daarop aanspraak maak om die "Portwynhoofstad van Suid-Afrika" te wees.[3]
Geskiedenis
[wysig | wysig bron]Aan die begin van die 19de eeu het die eerste veeboere en jagters in die gebied inbeweeg. Die plaas Buffelsvlei is in 1821 aan die broers JJ en MC Calitz toegeken. Teen die 1840's was daar genoeg mense om 'n dorp te regverdig. In 1845 het een van die Calitz broers 'n gedeelte van sy plaas aan die NG Kerk geskenk. Die eerste kerk is eers in 1857 gebou. Die dorp het in 1913 'n munisipaliteit geword.
Wapen
[wysig | wysig bron]Calitzdorp se munisipale raad het in 1975 'n wapen by die Buro vir Heraldiek geregistreer: In blou, 'n goue dwarsbalk belaai met 'n aan die bokant uitgetande dwarsbalk van swart, in die skildhoof vergesel van 'n gaande leeu van goud en in die skildvoet van 'n horing van oorvloed van natuurlike kleur. Die helmteken is 'n swart buffelkop uitkomend uit 'n goue muurkroon, en die wapenspreuk is "Met Gods hulp".[4]
Distrik
[wysig | wysig bron]Die distrik is 1 100 km² groot. Lusern, koring en tabak word onder besproeiing verbou, maar die dorp is veral bekend vir die gehalte van sy sagtevrugte, tafeldruiwe en wyn. Die Calitzdorpdam is wes van die dorp. Calitzdorp is die terminus vir 'n takspoor wat die dorp in 1924 bereik het vanaf Oudtshoorn. Calitzdorp Spa is 17 km noordoos van die dorp.
Bergpasse
[wysig | wysig bron]In die omliggende Klein-Karoo is verskillend bergpasse. Op pad na Zoar en Ladismith word die 13 km lange Huisrivierpas van die R62-roete oorgesteek wat steil hellings en talle skerp draaie bevat.[5] Die Rooibergpas suid van die dorp bestaan uit 'n nou gruispad wat uitsigte oor die omliggende landskap bied, voor dit na Vanwyksdorp afdaal.[6] Lawsonpas is 'n 16 km lange pas sowat 35 km suidoos van Calitzdorp wat net vir viertrekvoertuie geskik is.[7]
Sien ook
[wysig | wysig bron]Bronne
[wysig | wysig bron]- Op Pad in Suid-Afrika. B.P.J. Erasmus. 1995. ISBN 1-86842-026-4
- Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ [1] - Geskiedenis van Calitzdorp
- ↑ 2,0 2,1 2,2 2,3 "Hoofplek Calitzdorp". Sensus 2011.
- ↑ "Calitzdorp - everything! About Calitzdorp. Besoek op 10 April 2019". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 April 2019. Besoek op 10 April 2019.
- ↑ National Archives of South Africa : Data of the Bureau of Heraldry.
- ↑ Huisrivier Pass (R62), Mountain Passes South Africa
- ↑ Rooiberg Pass (P1661), Mountain Passes South Africa
- ↑ Lawson's Pass (4x4), Mountain Passes South Africa
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Calitzdorp.