Gaan na inhoud

Berlynse Muur

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Die grensoorgange tussen Wes- en Oos-Berlyn (interaktiewe kaart)
Die Berlynse Muur
Grensversterkings
Satellietbeeld van Berlyn, met die Muur in geel gemerk

Die Berlynse Muur (Duits: Berliner Mauer), waarna in die Duitse Demokratiese Republiek (DDR) ook as "versterkte staatsgrens" (befestigte Staatsgrenze) of – op 'n propagandistiese manier – as "anti-fascistiese beskermingsmuur" (antifaschistischer Schutzwall) verwys is, was 'n spermuur wat tydens die verdeling van Duitsland meer as 28 jaar lank deel uitgemaak het van die interne grens tussen die DDR (Oos-Duitsland) en die Bondsrepubliek Duitsland (Wes-Duitsland). Dit het Berlyn van 1961 tot 1989 in twee verdeel.[1] Dit was tegelykertyd een van die bekendste simbole vir die politieke konflik (Koue Oorlog) tussen die Westelike Geallieerdes (onder leiding van die Verenigde State) en die Oosbloklande (onder leiding van die Sowjetunie).

DDR-amptenare het amptelik na die Berlynse Muur verwys as die "Anti-fascistiese Beskermingsmuur" (Duits: Antifaschistischer Schutzwall) en die indruk met DDR-propaganda probeer skep dat die NAVO-lande en Wes-Duitsland vergelykbaar is met Fasciste.[2] Die Wes-Berlynse stadsraad het soms na die Muur as die "Skandmuur" verwys – 'n benaming wat die burgemeester van die tyd, Willy Brandt, gebruik het wanneer daar verwys is na die inperking van mense se vryheid. Die totale Oos-Wes-grensgebied, wat die land in twee geskeur het, en in effek die skeiding was tussen Wes-Europa en die Oosbloklande tydens die Koue Oorlog, het later bekend gestaan as die "Ystergordyn".

Vanaf 13 Augustus 1961, die dag waarop met die konstruksie van die muur begin is, tot 9 November 1989 het die Berlynse Muur binne die Vier-sektore-stad Berlyn Wes-Berlyn totaal op land van Oos-Berlyn en daarnaas – oor 'n totale lengte van 167,8 kilometer – ook van die DDR-staatsgebied rondom Berlyn afgesonder. Vir DDR-burgers was die oorsteek van die grens verbode, en DDR-grenssoldate het die bevel gekry om op vlugtelinge te skiet. Volgens die bevindinge van navorsers het die Oos-Duitse grensbeleid tussen 136 en 206 menselewens geëis – meestal vlugtelinge wat gepoog het om die swaar bewaakte grens na Wes-Berlyn, wat deur 'n myngordel en outomatiese vuurwapens versterk is, oor te steek. Die presiese aantal slagoffers langs die Berlynse Muur is nie bekend nie.

Die muur is in 1961 deur die DDR-regering veral opgerig om 'n einde te maak aan die reusestroom vlugtelinge wat 'n beter lewe in die Weste gesoek het (1960–61 het die bewind in Oos-Berlyn begin om die land se boere te onteien en hulle gedwing om lid van die nuwe landbou-koöperasies te word).

Voordat die Muur opgerig is, het 3,5 miljoen Oos-Duitsers die Oosblok se emigrasie-beperkinge omseil en na die Weste oorgeloop. Baie van hulle is oor die grens tussen Oos- en Wes-Berlyn en vandaar na Wes-Duitsland en na ander Wes-Europese lande. Tussen 1961 tot 1989 het die Muur die emigrasie grotendeels gestop.[3] In dié tydperk het sowat 5 000 mense probeer om oor die Muur te ontsnap, met tussen 136[4] tot meer as 200[5] wat in hul vlugtogte, in en om Berlyn, dood is.

Die versperrings het wagtorings al langs die groot betonmuur ingesluit,[6] wat 'n wye gebied (later bekend as die "doodsstrook") met teenvoertuig-loopgrawe, stroke besaai met spykers, en ander hindernisse om te verhoed dat Oos-Duitsers na die westekant kan vlug. Die Oosblok het aangevoer dat die Muur gebou is om sy bevolking teen die fascistiese elemente te beskerm wat saamsweer om te verhoed dat die "wil van die volk" 'n sosialistiese staat in Oos-Duitsland kan vestig. In praktyk was die Muur daar om 'n massa-uittog uit Oos-Duitsland te verhoed wat 'n kenmerk was van die toestande in die tyd na die Tweede Wêreldoorlog toe emigrasie en vlugtogte uit Oos-Duitsland en die Oosbloklande 'n algemene verskynsel was.

In 1989 was daar 'n reeks van radikale politieke veranderings in die Oosbloklande wat verband gehou het met die bevryding van die outoritêre regeringstelsel, tesame met die val van pro-Sowjetregerings in die aangrensende Pole en Hongarye.[7] Na 'n paar weke van burgerlike onrus kondig die Oos-Duitse regering op 9 November 1989 aan dat DDR-burgers Wes-Berlyn en Wes-Duitsland mag gaan besoek. Die Berlynse Muur is op die aand van 9 November 1989 geopen nadat die Oos-Duitse bevolking steeds meer druk op die bewindhebbers geplaas het. Skares Oos-Duitsers het die grens oorgesteek, en op die muur geklim waar Wes-Duitsers in 'n feestelike atmosfeer by hulle aangesluit het. Die val van die Muur het die pad gebaan vir die ineenstorting van die DDR-bewind, die ontbinding van Oos-Duitse staatsstrukture en die uiteindelike hereniging van Wes- en Oos-Duitsland.

In die volgende paar weke het begeesterde mense en soewenierjagters met hamers en beitels die Muur begin verwoes. Die regering het later nywerheidstoerusting gebruik om wat van die Skandmuur oorgebly het, heeltemal te sloop. In teenstelling met die algemene opvatting, het die werklike sloping van die Muur eers in die somer van 1990 begin en is eers in 1992 heeltemal afgebreek en die rommel verwyder.[1] Die val van die Berlynse Muur was die begin van Duitse hereniging wat op 3 Oktober 1990 amptelik bevestig is.

Agtergrond

[wysig | wysig bron]

Na-oorlogse Duitsland

[wysig | wysig bron]

Met die einde van die Tweede Wêreldoorlog is Duitsland wes van die Oder-Neisse-lyn in vier besettingsones opgedeel, soos by die Potsdam-ooreenkoms bepaal is. Elkeen van die vier Geallieerdes van die Tweede Wêreldoorlog – die Verenigde State van Amerika, die Verenigde Koninkryk, Frankryk en die Sowjetunie – het 'n sone onder sy beheer gekry. Die hoofstad Berlyn is eweneens in vier sektore verdeel, hoewel die hoofstad se ligging in totaliteit binne die Sowjetunie se sone geval het.[8]

Binne twee jaar was daar onmin tussen die Sowjetunie en die drie ander geallieerde moondhede. Die Sowjetbewind in Moskou was nie te vinde vir die heropbouprogram wat die na-oorlogse Duitsland weer selfonderhoudend sou maak nie. Die Sowjette het ook geweier om rekenskap te gee van die industriële installasies en infrastruktuur wat deur die Sowjetunie uit die land verwyder is.[9] Die Britte, Franse, die VSA en die Benelux-lande het later vergader en besluit om die sones, wat nie deel van die Sowjetunie uitmaak nie, in een sone te verander vir heropbou. Volgens die Marshall-plan het die Verenigde State finansiële bystand aan Duitsland en ander Europese lande wat deur die oorlog geraak is, verleen.

Oosblok en die Berlynse lugbrug

[wysig | wysig bron]

Na die Tweede Wêreldoorlog stig die Sowjetleier, Josef Stalin, 'n unie van volkere op sy westegrens genaamd die Oosblok, wat Pole, Hongarye en Tsjeggo-Slowakye insluit. Hy het gehoop om die Oosbloklande saam met 'n verswakte Sowjetbeheerde Duitsland aan die gang te hou.[10] Stalin het al in 1945 teenoor die Duitse kommunistiese leiers aangedui dat hy die Britse posisie binne die Britsbeheerde sone stelselmatig wil ondermyn en verswak. Dan sal die VSA binne 'n jaar of twee onttrek. Dit moes die pad baan vir 'n verenigde kommunistiese Duitsland as deel van die Oosblok.[11]

Die indoktrinasie van Marxisme-Leninisme het 'n verpligte deel van skoolleerplanne geword. Dit het veroorsaak dat professore en studente op strepe na die Weste uitgewyk het. 'n Omvattende stelsel van politieke polisiërings-apparatus is deur die Oos-Duitse regering ingestel wat die bevolking in alle fasette van hul lewens dopgehou en gemonitor het.[12] Die Sowjetunie se gevreesde veiligheidspolisie, SMERSH, het hiermee gehelp.[13]

Met die ongelukkigheid tussen die Sowjetunie en die Westerse moondhede oor die heropbou van Duitsland, en onenigheid oor die instel van 'n eenvormige geldstelsel, begin Stalin in 1948 met die Berlyn-blokkade, deur te weier dat kosvoorrade en ander noodsaaklikhede na Wes-Berlyn vervoer mag word.[14] Die VSA, Brittanje, Frankryk, Kanada, Australië, Nieu-Seeland, Suid-Afrika en verskeie ander lande het 'n lugbrugoperasie begin waarna later as die Berlynse Lugbrug verwys is. Kos en ander voorrade soos brandstof is met vragvliegtuie vanaf Wes-Duitse lughawens na Wes-Berlyn ingevlieg.

Moskou het met 'n massiewe openbare veldtog teen die Weste se beleidsverandering begin, terwyl Oos-Berlyn pogings onderneem het om die 1948-verkiesing te ontwrig.[15] In Wes-Berlyn het 300 000 mense betoog dat die lugbrug voortgesit word.[16] In Mei 1949 staak Stalin die blokkade en laat die Weste weer toe om voorrade na Wes-Berlyn te verskeep.[17][18]

Tot in 1952 was dit maklik om die afgebakende grensgebied op die meeste plekke tussen Oos-Duitsland en die Westerse besettingsones oor te steek.[19] Op 1 April 1952 vergader die Oos-Duitse leiers met Josef Stalin in Moskou waartydens die Sowjet-Russiese minister van buitelandse sake, Wjatseslaf Molotof, voorstel dat die Oos-Duitsers "'n passtelsel vir Wes-Duitse besoekers na gebiede in Oos-Berlyn instel om die vrye beweging van Westerse spioene na die DDR te stop." Stalin het saamgestem en die toestand as "onuithoudbaar" bestempel. Hy het voorgestel dat die Oos-Duitsers hul grensvestings moet opbou, maar ook verder gegaan en gesê "die afbakeningslyn tussen Oos- en Wes-Duitsland moet 'n grens wees- nie sommer enige grens nie- maar 'n gevaarlike een... Die Duitsers moet hul verdedigingslyn met hul lewens beskerm."[20]

Net hierna is die binnegrense tussen die twee Duitse state gesluit, en 'n doringdraad-heining is gebou. Die grens het egter oopgebly, hoewel die verkeer tussen die Sowjet- en die Westerse sektore ietwat beperk is. Dit het veroorsaak dat Berlyn 'n magneet geword het vir al die Oos-Duitsers, wat uit die DDR wou vlug, en na die stad gestroom het. Dit het ook 'n fokuspunt van spanning tussen die Verenigde State en die Sowjetunie geword.

In 1955 het die Sowjets vir Oos-Duitsland beheer oor die beweging van burgerlikes in Berlyn gegee. Dit het beteken dat daar beheer aan 'n regime gebied is wat nie deur die Weste erken is nie.[21] Die Oos-Duitsers het aanvanklik "besoeke" gemagtig sodat sy burgers familielede in Wes-Duitsland kon gaan besoek. Met die groot aantal Oos-Duitsers wat oorgeloop het na die Weste, het die Oos-Duitse regering in 1956 bepaal dat byna alle reise na die Weste beperk word.[19] Die Sowjet ambassadeur in Oos-Duitsland, Mikhail Pervukhin het tot die slotsom gekom dat "die oop en onbeheerde grens tussen die sosialistiese- en die kapitalistiese hoofstad daartoe bydra dat die bevolking onbewustelik 'n vergelyking tref tussen die twee dele van die stad, en dit was nie altyd ten gunste van Oos-Berlyn nie."[22]

'n Belangrike rede dat die Wes-Berlynse grens nie vroeër gesluit is nie is omdat dit 'n groot deel van die spoorvervoer in Oos-Duitsland sou afsny. Bouwerk aan die Berlynse buitering, wat om Wes-Berlyn sou gaan, het in 1951 begin en is in 1961 voltooi. Dit het die weg gebaan vir die sluiting van die grenslyn.

Bou van die muur in 1961

[wysig | wysig bron]
Oos-Duitse gevegsgroepe uit die werkersklas besig om op 13 Augustus 1961 te ontplooi vir die begin van die bouwerk aan die Berlynse Muur.
20 November 1961- Oos-Duitse konstruksiewerkers bou die Muur.

Die transkripsie van 'n telefoongesprek tussen Nikita Chroesjtsjof en die Oos-Duitse partyleier, Walter Ulbricht, op 1 Augustus 1961, het bewys dat Chroesjtsjof agter die bou van die Muur gesit het.[23][24][25]

Die sogenaamde "doodstrook" langs die Berlynse Muur het uit die "Tsjeggiese krimpvarkies", uitkyktorings en 'n skoongemaakte strook bestaan – opname van 1977.
Die boonste deel van die Muur was uitgelê met gladde pyp om dit moeiliker te maak om daaroor te klim (1984).
Struktuur van die Berlynse Muur.
Die pad van die Berlynse Muur met sy grensposte (1989).

Die Berlynse Muur was meer as 140 km lank. In Junie 1962 is nog 'n parallelle muur so 100 m dieper in die Oos-Duitse grondgebied gebou. Die huise langs die grens af is gesloop en die bewoners elders gevestig. Dit het later die doodstrook geword. Die doodstrook is met sand en gruis gevul en gereeld gehark om maklik voetspore te kan sien.[26] Dit was oop stroke grond met geen skuiling en het ideale sig vir die grenswagte gebied om mense, wat na die Weste probeer vlug, te skiet.

'n Lid van die Oos-Duitse volksleër, Conrad Schumann, vlug na die Weste tydens die beginfase van die bouwerk aan die Muur.

Ida Siekmann was die eerste slagoffer van die Berlynse Muur toe sy op 22 Augustus 1961 vanaf die derde vloer van haar woonstel in Bernauerstraat 48 gespring het.[27] Die eerste mens wat doodgeskiet is, toe hy oor die grens probeer vlug het, was Günter Litfin, 'n 20-jarige kleremaker. Hy het op 24 Augustus 1961 probeer om deur die Spreekanaal na Wes-Duitsland te swem op dieselfde dag toe die grenswagte opdrag gekry het om te skiet om dood te maak.[28]

Gedenkmuur ter nagedagtenis aan die slagoffers van die Berlynse Muur.

Die spermuur uit die oogpunt van die DDR-regering

[wysig | wysig bron]

Volgens die DDR-regering het die "mees aggressiewe kringe van die Imperialisme" die Koue Oorlog teen die DDR in 1960 en 1961 verskerp. So het die Wes-Duitse regering in die najaar van 1960 handelsooreenkomste met die DDR eensydig opgeskort – 'n stap wat die Oos-Duitse ekonomie nadelig getref het. Tegelykertyd is Wes-Duitsland, wat 'n ekonomiese opswaai beleef en 'n tekort aan geskoolde mannekrag ondervind het, daarvan beskuldig dat dit Oos-Duitse spesialiste en ander vaardige werknemers, onder wie veral jongmense, stelselmatig op groot skaal na die weste sou lok. Hierby het Wes-Berlyn volgens die Oos-Duitse regering die rol van 'n Menschenschleuse ("mensesluis") vervul.[29]

Die verslaggewing in Wes-Duitse en Wes-Berlynse media was volgens die DDR-regering daarop gemik om onrus in die DDR te stook, terwyl anti-kommunistiese propaganda daartoe gelei het dat 'n oorlogspsigose in die weste posgevat het. Die Wes-Duitse weermag ("Bundeswehr") het tydens militêre oefeninge verskillende variante van "beperkte oorlogsvoering" teen die DDR getoets. Vroeg in Augustus 1961 het NAVO-magte in Wes-Europa hul militêre paraatheid opgeskerp. 'n Militêre konflik langs die DDR-grens met Wes-Berlyn is deur waarnemers in Warskouverdrag-lidlande as hoogs waarskynlik geag.

Op 13 Augustus 1961 het die Nasionale Volksleër van die DDR saam met ander gewapende magte in 'n gesamentlike aksie met Sowjetmagte en ná raadpleging met ander Warskouverdragstate die beheer oor die grens met Wes-Berlyn, wat voorheen oop was, oorgeneem en saam met werkers grensversperrings opgerig wat in die volgende maande nog uitgebou en uitgebrei is. Met dié stap is die ekonomiese ontwikkeling en politieke stabiliteit van die DDR verseker, asook sy voortgesette lidmaatskap in die gemeenskap van sosialistiese state.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. 1,0 1,1 "Untangling 5 myths about the Berlin Wall". Chicago Tribune (in Engels). 31 Oktober 2014. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 20 April 2019. Besoek op 1 November 2014.
  2. "?" (PDF). Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 20 September 2011. Besoek op 13 Junie 2010.
  3. "Freedom! – TIME" (in Engels). TIME. 20 November 1989. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 Augustus 2013. Besoek op 9 November 2009.
  4. "Forschungsprojekt "Die Todesopfer an der Berliner Mauer, 1961–1989": BILANZ (Stand: 7. Augustus 2008) (in Duits)" (in Duits). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 September 2019. Besoek op 6 Augustus 2011.
  5. "Center for Contemporary Historical Research (Zentrum für Zeithistorische Forschung Potsdam e.V) in German" (in Duits). Chronik-der-mauer.de. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 Oktober 2019. Besoek op 6 Augustus 2011.
  6. Jack Marck Geargiveer 29 Augustus 2008 op Wayback Machine "Over the Wall: A Once-in-a-Lifetime Experience" American Heritage, Oktober 2006.
  7. Mary Elise Sarotte, Collapse: The Accidental Opening of the Berlin Wall, New York: Basic Books, 2014
  8. Miller 2000, pp. 4–5
  9. Miller 2000, p. 16
  10. Miller 2000, p. 10
  11. Miller 2000, p. 13
  12. Turner 1987, p. 47
  13. Wettig 2008, p. 96
  14. Gaddis 2005, p. 33
  15. Turner 1987, p. 29
  16. Fritsch-Bournazel, Renata, Confronting the German Question: Germans on the East-West Divide, Berg Publishers, 1990, ISBN 0-85496-684-6, bl. 143
  17. Gaddis 2005, p. 34
  18. Miller 2000, pp. 180–81
  19. 19,0 19,1 Dowty 1989, p. 121
  20. Harrison 2003, p. 240-fn
  21. Harrison 2003, p. 98
  22. Harrison 2003, p. 99
  23. Wiegrefe, Klaus (29 Mei 2009). "Mauerbau: "Wir lassen euch jetzt ein, zwei Wochen Zeit"" (in Duits). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 Mei 2019 – via Spiegel Online.
  24. "Transcript of the telephone call between Khrushchev and Ulbricht on August 1, 1961" (in Duits). Welt.de. 30 Mei 2009. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Mei 2019. Besoek op 6 Augustus 2011.
  25. Sebetsyen, Victor (2009). Revolution 1989: The Fall of the Soviet Empire. New York City: Pantheon Books. ISBN 0-375-42532-2.
  26. Volgens Hagen Koch, 'n voormalige offisier van die DDR-veiligheidsdiens (Staatssicherheit), in Geert Mak se dokumentêrreeks In Europa, aflewering op 1961 – DDR Geargiveer 9 Februarie 2021 op Wayback Machine, 25 Januarie 2009
  27. "Chronik der Mauer – Bau und Fall der Berliner Mauer | Opfer der Mauer" (in Duits). Chronik-der-mauer.de. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 Maart 2016. Besoek op 6 Augustus 2011.
  28. Kempe, Frederick (2011). Berlin 1961. Penguin Group (USA). pp. 363–367. ISBN 0-399-15729-8.
  29. Handbuch Deutsche Demokratische Republik. Jubiläumsausgabe 1984. Tweede hersiene uitgawe. Leipzig: VEB Bibliographisches Institut Leipzig 1983, bl. 199