Gaan na inhoud

Batawe

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Grafsteen van een van Nero se Corporis Custodes, die keiserlike Germaanse lyfwag. Die lyfwag, Indus, was van die Batawe, oftewel Batavi.

Die Batawe of Batavi (Latynse uitspraak: bäˈt̪äːu̯iː) was 'n antieke Germaanse stam[1] wat digby die moderne Nederlandse Ryn-delta gewoon het (in die gebied wat die Romeine Batavia genoem het) vanaf die tweede helfte van die eerste eeu v.C. tot die derde eeu n.C. Die naam word ook toegepas op verskeie militêre eenhede in diens van die Romeine wat oorspronklik uit lede van die Batavi-stam saamgestel was. Die stamnaam is waarskynlik ontleen aan batawjō ("goeie eiland", van die Germaanse bat- "goed, uitstekend", wat ook in die Engelse naam "better" voorkom, en awjō "eiland, land naby water"), en verwys na die streek se vrugbaarheid, vandag bekend as die "vrugtemandjie van Nederland" (die Betuwe).

Ligging

[wysig | wysig bron]

Die Batavi word nie deur Julius Caesar genoem in sy Commentarii de Bello Gallico nie, hoewel baie van mening is dat hy die stigter was van die Numerus Batavorum (Germaanse lyfwag) wat in latere geslagte deur die Batavi oorheers is. Hy het wel melding gemaak van die "Eiland van die Batavi" aan die Rynrivier. Die eiland se mees oostelike punt kom voor by 'n skeiding in die Ryn, een sytak daarvan is die Waalrivier, en die ander is die Benederyn/Ou Ryn (vandaar die Latynse naam Insula Batavorum, "Eiland van die Batavi").[2] Heelwat later het Tacitus geskryf dat die Batavi oorspronklik 'n stam van die Chatte, 'n Duitse stam wat eweneens ook nooit deur Caesar genoem is nie (tensy hulle Caesar se "Suebe" was), en wat deur interne struwelinge gedwing is om 'n nuwe tuiste te vind.[3] Wanneer presies die verhuising plaasgevind het is onbekend, maar Caesar beskryf wel gedwonge bewegings van stamme uit die ooste in sy eie tyd, soos die Usipete en Tencteri.

Tacitus berig ook dat die gebied voor hul aankoms "'n onbewoonde gebied aan die grens van die kus van Gallië was, en ook van 'n naburige eiland wat omring is deur die see aan die voorkant en deur die Ryn aan die agterkant en aan albei kante ".[4] Hierdie siening word egter weerspreek deur die argeologiese bewyse wat tekens toon van ononderbroke bewoning vanaf ten minste die derde eeu v.C.[5]

Die strategiese posisie, te wete die hoë oewer van die Waal, wat 'n onbelemmerde uitsig op Germania Transrhenana ("Germanië Anderkant die Ryn") gebied het, is die eerste keer deur Drusus ontdek, wat 'n massiewe vesting (castra) en 'n hoofkwartier (praetorium) in keiserlike styl gebou het. Laasgenoemde was tot en met die Batavi se opstand in gebruik.

Argeologiese bewyse dui daarop dat die Batavi in klein dorpies (wat bestaan het uit ses tot twaalf wonings) in die vrugbare grond tussen die riviere gewoon het en landbou en veeteelt beoefen het. Vondse soos die geraamtes van perde in grafte dui op 'n sterk ruiterkultuur. Op die suidoewer van die Waal (in wat nou Nijmegen is) is 'n Romeinse administratiewe sentrum gebou genaamd die Oppidum Batavorum. 'n Oppidum was 'n versterkte stoorplek, waar 'n stam se skatte gestoor en bewaak is. Hierdie sentrum is tydens die Batavi se opstand vernietig. Die Smetius-versameling was instrumenteel in die beslegting van die debat oor die presiese woonplek van die Batavi.

Militêre eenhede

[wysig | wysig bron]
Die Sameswering van die Batawe onder Claudius Civilis deur Rembrandt van Rijn

Die eerste bekende Batavi-bevelvoerder was Chariovalda, wat 'n aanval oor die Vīsurgis (Weser)-rivier gelei het teen die Cheruske, wat gelei is deur Arminius, tydens die veldtogte van Germanicus in Germania Transrhenana .[6]

Tacitus beskryf in sy De origine et situ Germanorum XXIX die Batavi as een van die dapperste stamme van die gebied, wat geharde vegters was as gevolg van die Germaanse oorloë. Van hul eie bevelvoerders is tot na Britannia verplaas. Hulle het die eer verbonde aan die antieke band met die Romeine behou, is nie verplig om eerbetoon of belasting te betaal nie en is slegs deur die Romeine vir oorlogsdoeleindes gebruik: "Hulle het niks anders as mense en wapens aan die Ryk verskaf nie", het Tacitus opgemerk. Hulle was volgens Tacitus bekend vir hul vaardighede in die ruiterkuns en vir hul swemvermoë - aangesien mans en perde die Ryn kon oorsteek sonder om formasie te breuk. Dio Cassius beskryf hierdie verrassingstaktiek wat Aulus Plautius gebruik het teen die "barbare" - die Britse Kelte - tydens die slag van die Medway-rivier, 43:

Die barbare het gedink dat die Romeine dit (die rivier) nie sonder 'n brug sou kon oorsteek nie, en gevolglik het hulle op 'n taamlik onverskillige wyse op die oorkantste oewer kamp opgeslaan; maar hy het 'n afdeling Germaanse stamlede oorgestuur, wat gewoond daaraan was om maklik in volle wapenrusting deur die onstuimigste strome te swem. [...] Vandaar het die Barbare na die Teemsrivier teruggetrek naby 'n punt waar dit in die see uitmond en tydens vloedgetye 'n strandmeer vorm. Dit het hulle maklik oorgesteek omdat hulle geweet het waar die vaste grond en die maklike oorgange in hierdie streek gevind kon word; maar die Romeine was nie suksesvol in hul poging om hulle te agtervolg nie. Die Germane het egter weer oorgeswem, en 'n paar ander het 'n entjie stroomop met 'n brug oorgekom, waarna hulle die barbare van verskeie kante tegelyk aangeval en baie van hulle afgemaai het. (Cassius Dio, Romeinse Geskiedenis, Boek 60:20)

Dit is onseker hoe die Germane dit reggekry het om die Barbare te oorrompel. Die laat-vierde-eeuse skrywer oor Romeinse militêre aangeleenthede, Vegetius, maak melding van soldate wat rietvlotte gebou het wat gebruik is om toerusting oor riviere te vervoer.[7] Uit die bronne wil dit voorkom asof die Batavi deur riviere kon swem; geklee in hulle volle wapenrusting en met al hul wapens. Dit sou slegs moontlik gewees het deur die gebruik van 'n soort dryftoestel: Ammianus Marcellinus maak melding daarvan dat die Cornuti-regiment 'n rivier gekruis het op drywende skilde, "soos op 'n kano" ( 357).[8] Aangesien die skilde van hout was, het dit moontlik die vermoë gehad om te dryf.

Die Batavi is gebruik om die grootste deel van die Keiser se persoonlike "Germaanse lyfwag" te vorm, en is gebruik deur onder andere Augustus en Galba. Hulle het ook manne voorsien vir hul indirekte opvolgers, die keiser se perdewagte, die Equites singulares Augusti.

'n Batavi-kontingent is gebruik in 'n amfibiese aanval op Ynys Mon (Anglesey), wat die Druïde verras het, aangesien hulle slegs Romeinse skepe verwag het.[9]

Talle altare en grafstene van die Batavi, wat uit die tweede eeu en derde eeu dateer, is gevind langs die Muur van Hadrianus, veral by Castlecary en Carrawburgh, sowel as in Duitsland, Joego-Slawië, Hongarye, Roemenië en Oostenryk.

Opstand van die Batawe

[wysig | wysig bron]

Ten spyte van die alliansie is een van die leiers van die Batavi, Julius Paullus (sy Romeinse naam), deur Fonteius Capito tereggestel op 'n valse aanklag van rebellie. Sy stamgenoot, Gaius Julius Civilis, is voor Nero in kettings in Rome geparadeer; alhoewel hy vrygespreek is deur Galba, is hy in Rome aangehou, en toe hy na sy familie terugkeer het in die strydjaar van die Romeinse Ryk in 69 n.C., het hy aan die hoof van 'n Batavi-rebellie gestaan. Hy het daarin geslaag om Castra Vetera in besit ten neem, en die Romeine het ook twee legioene verloor, terwyl twee ander legioene (I Germanica en XVI Gallica) deur die rebelle beheer is. Die rebellie het 'n werklike bedreiging vir die Ryk geword toe die konflik na Noord-Gallië en Germanië versprei het. Die Romeinse leër het wraak geneem en die insula Batavorum (eiland) binnegeval. ’n Brug is oor die Nabalia-rivier gebou, waar die strydende partye mekaar genader het om vrede te beding. Die verhaal word in groot detail in Tacitus se Geskiedenisse, boek iv, oorvertel, hoewel die verhaal ongelukkig by die klimaks skielik afbreek. Na die opstand is Legio X Gemina in 'n castra gehuisves om die Batawe te monitor.

Die Batawe se eindbestemming

[wysig | wysig bron]

Die Batawe word genoem in 355 tydens die bewind van Constantius II (317–361), toe hul eiland oorheers is deur die Saliese Franke, 'n Frankiese stam onder Romeinse beskerming wat deur die Saksers uit hul eie land verdryf is.

Constantius Gallus het inwoners van Batavia by sy legioene gevoeg, "van wie se dissipline ons steeds gebruik maak."[10] Daar word aanvaar dat die Batavi met die Salii (Saliese Franke) saamgesmelt het en, nadat hulle deur 'n ander stam verdryf is (daar is voorgestel dat dit moontlik die Chamavi was), migreer het na Toksandrië. In die laat-Romeinse leër was daar 'n eenheid wat bekend gestaan het as die Batavi.

Die naam van die Beierse dorp Passau stam af van die Romeinse woord Batavis, wat na die Batavi vernoem is. Die dorp se naam is baie oud, aangesien dit die tipiese gevolge van die Hoogduitse konsonantverskuiwing (b > p, t > ss) toon.

Die Bataafse herlewing

[wysig | wysig bron]

Weens die gewilde 16de eeuse Nederlandse ontstaansmite het die Nederlanders die Batawe as hul voorvaders beskou tydens hul stryd om onafhanklikheid gedurende die Tagtigjarige Oorlog.[11][12] Die mengsel van fantasie en feit in die Cronyke van Hollandt, Zeelandt ende Vriesland (bekend as die Divisiekroniek) deur die Augustynse monnik en humanis Cornelius Gerardi Aurelius, wat die eerste keer in 1517 gepubliseer is, het die skramse opmerkings in Tacitus se nuut-herontdekte Germania aan die wyer publiek bekend gestel; dit het in 1802 steeds herdrukke beleef.[13] Kontemporêre Nederlandse deugde soos onafhanklikheid en standvastigheid is onder die Batawe herken in wetenskaplike stukke soos Hugo Grotius se Liber de Antiquitate Republicae Batavicorum (1610). Die mite is voortgesit deur Romeyn de Hooghe se Spiegel van Staat der Vereenigden Nederlanden (1706), wat ook baie uitgawes beleef het. Dit het herleef in die atmosfeer van Romantiese nasionalisme wat teweeggebring is deur die laat agtiende-eeuse hervormings van die kortstondige Bataafse Republiek, en in die kolonie van Nederlands Oos-Indië met 'n hoofstad genaamd Batavia. Alhoewel die stad sedert Indonesiese onafhanklikheid Jakarta genoem word, noem sy inwoners hulself steeds Betawi of Orang Betawi, d.w.s. "Mense van Batavia" - 'n naam wat uiteindelik van die antieke Batawe afstam.[14]

Die sukses van hierdie oorsprongsverhaal was meestal te danke aan ooreenkomste in antropologie, wat gebaseer was op stamkennis. Aangesien hierdie historiese visie polities en geografies inklusief was, het dit voldoen aan die behoeftes van Nederlandse nasieboupogings en integrasie in die 1890–1914-tydperk.

'n Nadeel van hierdie historiese nasionalisme het egter gou duidelik geword. Dit het dit laat voorkom of daar geen sterk buitegrense was nie, terwyl dit voorsiening gemaak het vir duidelike binnegrense wat gevorm het toe die samelewing in drie dele gepolariseer is. Ná 1945 het die stamkennis sy greep op antropologie verloor en meestal verdwyn.[15] Moderne variante van die Bataafse stigtingsmite word gerugsteun deur aan te toon dat die Batawe maar een deel van die voorgeslagte van die Nederlandse volk is - saam met die Friese, Franke en Saksers – deur DNS-patrone na te spoor. Eggo's van hierdie kulturele kontinuïteit kan steeds gevind word in verskeie gebiede van die Nederlandse moderne kultuur, soos die baie gewilde replika van die Batavia ('n skip uit 1628) wat vandag in Lelystad gevind kan word.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Drinkwater, John Frederick (2012). "Batavi". In Hornblower, Simon; Spawforth, Antony; Eidinow, Esther (reds.). The Oxford Classical Dictionary (4 uitg.). Drukpers van die Universiteit van Oxford. ISBN 978-0191735257. Besoek op 26 Januarie 2020. Batavi, a Germanic people, living on the lower Rhine... an offshoot of the Chatti...
  2. "C. Julius Caesar, Gallic War, Book 4, chapter 10". tufts.edu.
  3. Cornelius Tacitus, Germany and its Tribes 1.29
  4. Tacitus, Historiae iv.12
  5. N. Roymans, "The Lower Rhine Triquetrum Coinages and the Ethnogenesis of the Batavians", in: T. Grünewald & H.-J. Schalles (eds.), Germania Inferior: Besiedlung, Gesellschaft und Wirtschaft an der Grenze der römisch-germanischen Welt (2000), 93–145, esp. 94.
  6. Tacitus, Die Annale 2.11
  7. Vegetius De re militari III.7
  8. Ammianus Marcellinus XVI.11
  9. Tacitus Agricola 18.3–5
  10. "Zosimus, New History. Londen: Green and Chaplin (1814). Boek 3". tertullian.org.
  11. Hierdie afdeling is gebaseer op Simon Schama se The Embarrassment of Riches: An Interpretation of Dutch Culture in the Golden Age, (New York) 1987, hoofstuk II "Patriotic Scripture", veral pp. 72 ff.
  12. The Batavian Myth: A Study Pack from the Department of Dutch, University College London
  13. I. Schöffer, "The Batavian myth during the sixteenth and seventeenth centuries," in P. A. M. Geurts en A. E. M. Janssen, Geschiedschrijving in Nederland ('Gravenhage) 1981:84–109, genoteer deur Schama 1987.
  14. Knorr, Jacqueline (2014). Creole Identity in Postcolonial Indonesia. Volume 9 of Integration and Conflict Studies. Berghahn Books. p. 91. ISBN 9781782382690.
  15. Beyen, Marnix (2000). "A Tribal Trinity: the Rise and Fall of the Franks, the Frisians and the Saxons in the Historical Consciousness of the Netherlands since 1850". European History Quarterly. 30 (4): 493–532. doi:10.1177/026569140003000402. ISSN 0265-6914. S2CID 145656182. Volle teks: EBSCO

Bronnelys

[wysig | wysig bron]

Nog leesstof

[wysig | wysig bron]

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]