Gaan na inhoud

Jugendstil

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
(Aangestuur vanaf Art Nouveau)
Jugendstil-fasade in die Letlandse hoofstad Riga

Jugendstil (Duits: Jugendstil , 'jeugstyl'), of Art Nouveau (Frans: art nouveau, 'nuwe kuns') is 'n kunsstyl en beweging wat dateer uit die laat negentiende en vroeë twintigste eeu. As 'n reaksie op akademiese kuns van die negentiende eeu, word dit gekenmerk deur die organiese, met veral blomme en ander plant-geïnspireerde, motiewe, sowel as hoogs gestileerde, vloeiende kromlynige vorms.[1] Jugendstil of Art Nouveau is 'n benadering tot ontwerp waarvolgens kunstenaars aan alles moet werk om kuns deel te maak van die alledaagse lewe. Die Jugendstil is dan ook veral gemanifesteer in gebruiksvoorwerpe (glaskuns, plateel, sierade, meubels ens.), argitektuur en skilderkuns.[2]

Ontstaan

[wysig | wysig bron]

Die oorsprong van Art Nouveau kan teruggespoor word na die weerstand van William Morris teen die oorvol komposisies en die herlewingtendense van die Victoriaanse era asook sy teoretiese benaderings wat die inleiding van die kuns en kunsvlytbeweging aangehelp het.[3] Maar, Arthur Mackmurdo se boekomslag vir Wren's City Churches (1883), met sy ritmiese blompatrone, word dikwels beskou as die eerste uitvoering van die Art Nouveau.[3] Terselfdertyd het die plat-perspektief en sterk kleure van die Japannese houtsnees, veral dié van Katsushika Hokusai, 'n sterk invloed op die formulering van die Art Nouveau se formele taal uitgeoefen.[4] Die golf van Japanisme wat in die 1880's en 1890's oor Europa gespoel het met sy organiese vorme, verwysings na die natuurlike wêreld, en die helder ontwerpe wat in sterk kontras gestaan het met die heersende smaak was besonder invloedryk op baie kunstenaars.[4] Benewens die aanname deur kunstenaars soos Emile Galle en James Abbott McNeill Whistler, is Japannees-geïnspireerde kuns en ontwerp deur die sakemanne Siegfried Bing en Arthur Lasenby Liberty onderskeidelik in hulle werkswinkels in Parys en Londen bevorder.[5][4]

Die beweging is sterk beïnvloed deur die Tsjeggiese kunstenaar Alfons Mucha deur litografiese plakkate wat hy ontwerp het en op 1 Januarie 1895 in die strate van Parys verskyn het as 'n advertensie vir die drama Gismonda deur Victorien Sardou met Sarah Bernhardt in die hoofrol.[6] Dit was 'n oornagsensasie wat die nuwe artistieke styl en sy skepper aan die burgers van Parys verkondig het. Aanvanklik bekend as die Styl Mucha, (Mucha-Styl), het dit vinnig bekend geword as Art Nouveau.[7] Die aanduiding Jugendstil is afkomstig van die weekblad Die Jugend wat vanaf Januarie 1896 in München verskyn het. Vir verwante strominge wat in elders in Europa verskyn het, is ander terme gebruik soos Art Nouveau in België en Frankryk, en Modernismo in Katalonië. In Skotland is die Art Nouveau styl wyd verteenwoordig deur Charles Rennie Mackintosh. In Frankryk is Art Nouveau veral opmerklik in die metroingange wat in 1900 deur Hector Guimard ontwerp is.

Karakter

[wysig | wysig bron]

Jugendstil of Art Nouveau was nie 'n konsekwente styl nie en kan beskryf word as generiese terme vir 'n verskeidenheid van style wat gelyktydig op verskillende plekke voorgekom het. België, Oostenryk en Katalonië word gewoonlik gesien as die belangrikste gebiede vir die ontstaan van die Art Nouveau in die argitektuur.

Ondanks die opvallende streeksverskille is daar 'n aantal kenmerke wat hierdie strominge verenig: 'n optimisme wêreldbeeld en geloof in die toekoms, 'n voorliefde vir die gebruik van nuwe, moderne tegnieke (in die argitektuur byvoorbeeld groot glasoppervlakke), 'n afsku in simmetrie en 'n voorkeur vir ornamentiek, waarby blom- en voëlmotiewe oorheers. Algemeen aan die Jugendstil in die argitektuur was 'n reaksie teen die denke van historisisme. Die argitekte het hulleself bevry van klassieke komposisie-beginsels en uitgedoste geboue met naturalistiese versierings ontwerp. Baie Art Nouveau of Jugendstil geboue dra ook kenmerke van ouer style en word ook gekenmerk deur Japannese en ander Asiatiese eienskappe.

Hoewel die Jugenstil of Art Nouveau bepaalde plaaslike tendense aangeneem het soos dit geografiese versprei het is daar 'n aantal algemene kenmerkend van die vorm. 'n Beskrywing van Hermann Obrist se muurbehangsel,Cyclamen (1894), gepubliseer in die Pan-tydskrif, beskryf dit as "skielike gewelddadige kurwes gegenereer deur die slaan van 'n sweep", wat welbekend geword het tydens die vroeë verspreiding van Art Nouveau.[8] Daarna het nie net werk self bekend geword as Die Sweepslag nie, maar is die term "sweepslag" dikwels aangewend om die karakteristieke krommes wat die Art Nouveau kunstenaars gebruik het te beskryf.[8] Sulke dekoratiewe "sweepslag" motiewe, gevorm deur dinamiese, golwende, en vloeiende lyne in 'n gesinkopeerde ritme word deurgaans aangetref in argitektuur, skilderye, beeldhouwerk, en ander vorme van Art Nouveau-ontwerp.

Benaming van die styl

[wysig | wysig bron]

Aanvanklik was nog Art Nouveau nog Jugendstil die algemene naam vir die styl en het die styl verskillende name aangeneem soos dit tussen artistieke sentra versprei het.[9] Die twee name is afkomstig van, onderskeidelik, Samuel Bing se galery Maison de l'Art Nouveau in Parys en die tydskrif Jugend in München,[10] wat beide die styl bevorder en gewild gemaak het.[9]

Bing se Maison de l'Art Nouveau

[wysig | wysig bron]

Maison de l'Art Nouveau (letterlik Huis van Nuwe-Kuns) was die naam van die galery wat in 1895 deur die Duitse kunshandelaar Samuel Bing in Parys geopen is en wat gemerk is deur sy uitsluitlike fokus op moderne kuns.[11][12] Die bekendheid van sy galery het tydens die 1900 Exposition Univers toegeneem waar hy, in ontwerp- en kleur-gekoördineerde, installasies van moderne meubels, tapisserieë en objets d'art ten toon gestel het.[12] Hierdie ten volle uitgevoerde dekoratiewe is so so sterk geassosieer met die styl dat die naam van sy galery later 'n algemeen-gebruikte term vir die hele styl Art Nouveau verskaf het.[12]

Hierdie voorblad van 'n 1896 uitgawe van die Duitse tydskrif Jugend is versier in Art Nouveau-motiewe. Jugend is sterk geassosieer met die styl en die tydskrif se naam het die Duitse term vir die beweging, Jugendstil ("Jugend"-styl) geïnspireer.

Jugend en Jugendstil

[wysig | wysig bron]
Jugendstil tipografie, toegepas op 'n broueryteken

Jugend: Münchner illustrierte Wochenschrift für Kunst und Leben (Jeug: Münchense geïllustreerde weekblad vir kuns en lewenstyl) was 'n tydskrif wat in 1896 deur Georg Hirth gestig is.[13] Op die hoogtepunt van die Art Nouveau was die tydskrif instrumenteel in die bevordering van die styl in Duitsland. As gevolg hiervan, is die tydskrif se naam aangeneem as die mees algemeen Duitse term vir die beweging: Jugendstil ("Jugend-styl"), alhoewel die woord in die vroeë 20ste eeu slegs gebruik is vir tweedimensionale voorbeelde van die grafiese kuns[14] en veral die vorms van organiese tipografie en grafiese ontwerp wat in die Duitse tydskrifte soos Jugend, Pan en Simplicissimus voorgekom het. Dit word vandag breedweg aan die breër manifestasies van die Art Nouveau visuele kunste toegepas in Duitsland, Nederland, die Baltiese lande, Nordiese lande en Suid-Afrika.[10][15]

Ander name

[wysig | wysig bron]

Ander plaaslike name was gekoppel aan eienskappe van die styl se vorme, die beoefenaars en hul werk, en die skole van denke of studie waar dit gewild was. Verder het baie terme die idee van die "nuutheid" vervang. Voordat die term Art Noveau posgevat het was le style moderne ("die moderne styl") in Frankryk die meer algemene benaming.[9] Arte joven ("jong kuns) in Spanje, Arte nuova ("nuwe kuns") in Italië, en Nieuwe kuns ("nuwe kuns") in Nederland, модерн ("nuwe", "moderne") Rusland – bly almal by hierdie tema.[10] Op soortgelyke wyse het die styl se moderne eienskappe aanleiding gegee tot die Katalaanse Modernism in Barcelona. Baie name verwys spesifiek na die organiese vorms wat gewild was onder die Art Nouveau-kunstenaars: Stile Floreal ("blom-styl"), Lilienstil ("lelie-styl"), Styl Nouille ("noedelstyl"), Stile Vermicelli ("vermicelli", of "klein wurm noedel"-styl), Bandwurmstil ("lintwurmstyl "), Paling Styl ("paling-styl"), en Wellenstil ("golf-styl").[9]

In ander gevalle het belangrike voorbeelde, bekende kunstenaars, en gepaardgaande plekke die name beïnvloed. Hector Guimard se Paryse Metro ingange het byvoorbeeld die term Style Métro opgelewer, die gewildheid in Italië van die Art Nouveau-ontwerpe uit Londen se Liberty & Kie afdelingswinkel het gelei tot die feit dat dit bekend as die Stile Liberty ("Liberty-styl"), en, in die Verenigde State het dit bekend gestaan as die "Tiffany styl" as gevolg van die verband met Louis Comfort Tiffany.[9] In die Oostenryk is 'n plaaslike vorm van die Art Nouveau beoefen deur kunstenaars van die Wiener Secession (Weense afskeiders), en het dit dus as die Sezessionstil ("Secession-styl") bekendgestaan.[16] In die Verenigde Koninkryk is dit gekoppel aan die aktiwiteite van Charles Rennie Mackintosh in Glasgow en staan dit dikwels bekend as die "Glasgow"-styl.

Art Nouveau-tendense is ook opgeneem in breër plaaslike bewegings. In Denemarke was dit byvoorbeeld 'n aspek van Skønvirke ("estetiese aktiwiteit"), wat weer nouer verband hou met die Kuns en Kunsvlytbeweging.[17][18] Net so het kunstenaars baie van die blomme- en organiese motiewe van die Art Nouveau in die Młoda Polska ( "Jong pole") beweging in Pole opgeneem.[19] Młoda Polska het egter ook ander artistieke styl ingesluit en 'n breër benadering tot kuns, letterkunde en lewenstyl behels.[20]

Gedeelte van 'n paneel van teëls deur William Morris ontwerp vir Membland Hall en uitgevoer deur William De Morgan, 1876. (Identifikasie deur Linda Parry, ed.: William Morris, Abrams, 1996

Nalatenskap

[wysig | wysig bron]

Die beweging het 'n kort maar hewige bloeityd beleef. In Wes-Europa het die styl teen 1910 reeds tot die verlede behoort, in die ooste het dit wel effens langer oorleef. Dit word egter vandag gesien as 'n belangrike brug tussen die historisisme van Neoklassisisme en Modernisme.[10] Art Nouveau-monumente word nou deur UNESCO erken op die Wêrelderfenislys as betekenisvolle bydraes tot die kulturele erfenis. Die historiese sentrum van Riga, Letland, met die "mooiste versameling van die art nouveau-geboue in Europa", is in 1997 in die lys opgeneem en in 2000 is vier Brusselse dorpshuise deur Victor Horta opgeneem as "werke van die menslike kreatiewe genie wat uitstaande voorbeelde van die Art Nouveau-argitektuur die oorgang van die 19de na die 20ste eeu in die kunste, denke, en die gemeenskap briljant illustreer."[21][22]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Duncan (1994), 7–36.
  2. Art Nouveau – Art Nouveau Art
  3. 3,0 3,1 Duncan (1994): 10-13.
  4. 4,0 4,1 4,2 Duncan (1994): 14-18.
  5. Voor die opening van die Maison de l'Art Nouveau het Bing 'n winkel bestuur wat in items uit Japan gespesialiseer het, en na 1888 het hy die Japannisme bevorder in sy tydskrif La Japon Artistique: Duncan (1994): 15-16.
  6. Mucha Nouveau Bernhardt Gismonda Geargiveer 23 April 2009 op Wayback Machine, True Artworks, besoek op 4 Oktober 2009
  7. An Introduction to the Work of Alphonse Mucha and Art Nouveau Geargiveer 18 Januarie 2012 op Wayback Machine, lesing deur Ian Johnston van Mala Spina Universiteit-College, Nanaimo, BC. Hierdie dokument is in die publieke domein en mag deur almal gebruik word, in sy geheel of deels, sonder toestemming en sonder enige koste, op voorwaarde dat die bron vermeld word.
  8. 8,0 8,1 Duncan (1994): 27-28.
  9. 9,0 9,1 9,2 9,3 9,4 Duncan (1994) : 23-24.
  10. 10,0 10,1 10,2 10,3 Michèle Lavallée, "Art Nouveau", Grove Dictionary of Art, Oxford University Press, geraadpleeg op 11 April 2008]
  11. Martin Eidelberg en Suzanne Henrion-Giele, "Horta and Bing: An Unwritten Episode of L'Art Nouveau", The Burlington Magazine, vol. 119, Spesiale Uitgawe toegewy aan Europese kuns sedert 1890 (Nov., 1977), pp. 747-752.
  12. 12,0 12,1 12,2 Duncan (1994), 15-16, 25-27.
  13. Hirth het redakteur gebly tot met sy dood in 1916, en die tydskrif is gepubliseer tot 1940.
  14. A. Philip McMahon, "review of F. Schmalenbach, Jugendstil", Parnassus, vol. 7 (Oct., 1935), 27.
  15. Reinhold Heller, "Recent Scholarship on Vienna's "Golden Age", Gustav Klimt, and Egon Schiele", The Art Bulletin, vol. 59 (Mar., 1977), pp. 111-118.
  16. Georg Hirth, die redakteur vanJugend, het die term "Secession" toegepas op die reeks van reaksionêre beweging van die era: Nicolas Powell, "Review of  C. Nebehay, Ver Sacrum, 1898–1903", The Burlington Magazine, vol. 118 (Sep., 1976): 660. As 'n losstaande periode word "Secession" (Duits: Sezession), (Hongaars: Szecesszió-) egter dikwels gebruik om die algemene kenmerke van die Art Nouveau-styl buite Wene – maar meestal in gebiede binne die kulturele omvang van Oostenryk-Hongarye – met die draai van die 20ste eeu te beskryf.
  17. Jennifer Opie, "A Dish by Thorvald Bindesbøll", The Burlington Magazine, vol. 132 (Mei, 1990), pp. 356.
  18. Claire Selkurt, "New Classicism: Design of the 1920s in Denmark", The Journal of Decorative and Propaganda Arts, vol. 4 (Lente, 1987), pp. 16-29 (esp. 18 n. 4).
  19. Danuta A. Boczar, "The Polish Poster", Art Journal, vol. 44 (Spring, 1984), pp. 16-27 (esp. 16).
  20. Danuta Batorska, "Zofia Stryjeńska: Princess of Polish Painting", Woman's Art Journal, vol. 19 (Autumn, 1998–Winter, 1999), pp. 24-29 (esp. 24–25).
  21. UNESCO World Heritage List – Historic Centre of Riga.
  22. UNESCO World Heritage List – Major Town Houses of the Architect Victor Horta (Brussels)

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]