Gaan na inhoud

Afrodite

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
(Aangestuur vanaf Aphrodite)
Afrodite
Griekse Olimpiese godin
’n Weergawe van Afrodite van Cnidus in die Nasionale Argeologiese Museum in Athene.
’n Weergawe van Afrodite van Cnidus in die Nasionale Argeologiese Museum in Athene.
Naam Afrodite
Godin van Liefde, skoonheid en seksuele begeerte
Blyplek Die berg Olimpus
Simbool Dolfyn, roos, mosselskulp, mirt, duif, mossie en swaan
Man Hefaistos, Ares of Poseidon
Ouers Zeus en Dione (of het voortgekom uit Uranos se saad)
Kinders Sien "Minnaars en kinders"
Romeinse eweknie Venus

Afrodite of Aphrodite (Grieks: Ἀφροδίτη) is in die Griekse mitologie die godin van liefde, skoonheid en seksuele begeerte.[1][2] Sy is een van die twaalf Olimpiese gode wat op die berg Olimpus gewoon het. Volgens die Griekse digter Hesiodus het Kronos vir Uranos ontman en sy genitalieë in die see gegooi, en Afrodite het toe uit die seeskuim (afros) ontstaan.

Vanweë haar skoonheid was die ander gode bang dat jaloesie oorlog tussen hulle sou veroorsaak en Zeus het haar toe aan Hefaistos as vrou gegee omdat hy nie as ’n bedreiging beskou is nie. Sy was egter voortdurend ontrou: Eers was sy Ares se minnares en later beide Adonis se minnares en surrogaatma.

Afrodite is ook bekend as Kupris (Dame van Siprus) en Kuterea na aanleiding van die twee plekke wat beweer dat sy daar gebore is (Siprus en Kythira). Haar eweknie in die Romeinse mitologie is Venus en haar simbole is die dolfyn, roos, mosselskulp, mirt, duif, mossie en swaan.

Vroeë weergawes

[wysig | wysig bron]

Benewens Venus het Afrodite verskeie ekwivalente, soos Inanna (Soemeries), Astarte (Fenisies), Astghik (Armeens) en Turan (Etruskies). Sy het ooreenkomste met die Indo-Europese daeraadgodinne soos Ushas of Aurora. Volgens Pausanias was die eerste mense wat haar kultus begin het, die Assiriërs.[3]

In verskillende dele van Griekeland het sy verskillende name gehad, soos Akidalia, Kuterea, Pandemos en Kerigo. Later is daar afgesien van dié name en is die een naam Afrodite aanvaar.

Mites

[wysig | wysig bron]

Geboorte

[wysig | wysig bron]
Die geboorte van Venus, deur Sandro Botticelli, 1485

Volgens een mite is Afrodite uit die seeskuim gebore en het sy op ’n mosselskulp gedryf nadat Kronos vir Uranos ontman en sy genitalieë in die see gegooi het, terwyl die Eriniërs uit Uranos se bloeddruppels ontstaan het.

Afrodite was daarvolgens dus van ’n vroeër generasie as Zeus. In die Ilias (Boek V) word ’n ander weergawe van haar geboorte gegee. Daarvolgens is sy die dogter van Dione. Later het sommige digters Zeus die pa van Afrodite gemaak.

Volgens Homeros is Afrodite in ’n oorlog om haar seun Eneas te beskerm, deur Diomedes gewond. Daarna het sy teruggekeer na haar moeder om vertroos te word. "Dione" is skynbaar ’n ekwivalent van Rea, die aardmoeder, wat Homeros na Olimpus verplaas het, en verwys na ’n hipotetiese oorspronklike Proto-Indo-Europese panteon, met die manlike hoofgod (Di-) wat deur die lug en donderweer verteenwoordig is, en die vroulike hoofgod (vroulike vorm van Di-) wat verteenwoordig is deur die aarde of vrugbare grond.

In ander mites is Afrodite die dogter van Talassa en Zeus.

Volwasse lewe

[wysig | wysig bron]

Afrodite het geen kindertyd gehad nie. In elke mite en op elke uitbeelding word sy as ’n volwassene gebore, uit die staanspoor oneindig begeerlik. Sy word in baie van die latere mites uitgebeeld as ydel en humeurig. Hoewel sy een van die min gode van die Griekse panteon is wat inderdaad getroud was (met Hefaistos), het sy haar man dikwels verkul. Een van haar minnaars was Ares, die god van oorlog. Sy is een van die karakters wat ’n groot rol gespeel het in die oorspronklike oorsaak van die Trojaanse Oorlog: Nie net het sy Helena van Sparta (van Troje) vir Paris aangebied nie, maar die verleiding is voltooi toe Paris, toe hy Helena die eerste keer sien, gevul was met begeerte – en dit is Afrodite se terrein.

Vanweë haar verruklike skoonheid was Zeus bang dat die ander gode oor haar sou oorlog maak. Hy het haar vir Hefaistos, die onaansienlike, kreupel god van grofsmede, as vrou gegee. Hefaistos was oorstelp van vreugde om met die godin van skoonheid te trou en het vir haar die mooiste juweliersware gemaak, onder andere ’n gordel wat haar nog onweerstaanbaarder vir mans gemaak het. Afrodite was egter ongelukkig in haar huwelik en het buite-egtelike verhoudings met onder andere Ares en Apollo gehad.

Afrodite en Psyche

[wysig | wysig bron]

Afrodite is een van die sekondêre karakters in die Verhaal van Eros en Psyche, wat in die 2de eeu geskryf is. Daarin was sy jaloers op die skoonheid van ’n sterflike vrou met die naam Psyche. Sy vra Eros toe om sy goue pyle te gebruik om Psyche verlief te maak op die lelikste man op aarde. Eros stem in, maar raak self verlief op Psyche toe hy homself per ongeluk met ’n goue pyl prik. Hy laat haar na ’n berg gaan waar sy haar onsterflike man sou ontmoet soos dit in ’n orakel aan haar ouers openbaar gemaak is. Daar wag hy vir haar, maar verbied haar om die lampe aan te steek sodat sy hom nie erken nie. Toe sy ná talle passievolle nagte saam met Eros een nag ’n lamp aansteek terwyl hy slaap en hom herken, word hy wakker en vlug weg van haar. Aan die einde van die verhaal, waarin Afrodite vir Psyche ’n paar onmoontlike take gee om te voltooi, vind Eros haar weer en smeek Zeus en Afrodite vir hul toestemming om met haar te mag trou. Hulle stem in en Zeus maak Psyche onsterflik.

Afrodite het op hul bruilof gedans en hulle het hul kind wat daarna gebore is Plesier genoem, of in die Romeinse mitologie Voluptas.

Adonis

[wysig | wysig bron]
'n 19de-eeuse namaaksel van ’n Griekse bronsstandbeeld van Adonis wat in Pompeji gevind is.

Afrodite was Adonis se minnares en sy surrogaatma. Kinuras, die koning van Siprus, het ’n pragtige dogter, Mirra, gehad. Toe Mirra se ma beweer haar dogter is mooier as Afrodite, straf die godin vir Mirra met ’n oneindige seksuele begeerte vir haar eie pa. Kinuras vind dit weersinwekkend, maar Mirra vermom haar as ’n prostituut om snags by haar pa te kan slaap. Toe word sy swanger en word deur Kinuras uitgevang. Hy jaag haar weg met ’n mes en Mirra vlug terwyl sy tot die gode bid. Die gode hoor haar en verander haar in ’n mirreboom sodat haar pa haar nie kan vermoor nie. Eindelik pleeg Kinuras selfmood om sy familie se eer te red.

Mirra skenk die lewe aan Adonis. Toe Afrodite by die boom verbyloop en die seuntjie sien, voel sy jammer vir hom, sit hom in ’n boks en neem hom na Hades (die onderwêreld) sodat Persefone vir hom kan sorg. Adonis word ’n uiters aantreklike man en Afrodite gaan hom eindelik haal. Persefone wil hom egter nie teruggee nie en die twee godinne begin so baklei dat Zeus tussenbeide moet tree. Hy verklaar dat Adonis ’n derde van die jaar by Afrodite sal bly, ’n derde van die jaar by Persefone en die ander derde by wie hy wil. Natuurlik kies hy vir Afrodite.

Adonis was ’n groot jagter en Afrodite het saam met hom aan die sport begin deelneem om naby hom te kan wees. Ná ’n ruk het sy skuldig begin voel oor haar pligte wat sy versuim en besluit toe om vir ’n ruk huis toe te gaan. Voor sy weg is, waarsku sy Adonis egter om nooit ’n dier te jag wat geen vrees toon nie. Kort ná haar vertrek kom Adonis op ’n wildebeer af. Hy vergeet van Afrodite se waarskuwing en maak jag op die beer. Dis egter nie lank nie, toe is Adonis die een wat vlug. Die beer haal hom in en kastreer hom, waarna Adonis hom doodbloei. Afrodite is te laat om hom te red en die treurende godin laat toe anemone groei waar sy bloed val.

Ná sy dood gaan Adonis terug na die onderwêreld, waar Persefone verheug is om hom te sien. Eindelik besef Afrodite waar hy is en haas haar na die onderwêreld om Adonis te gaan haal. Die twee godinne stry weer so erg dat Zeus tussenbeide moet tree. Dié keer gee hy Adonis vir ses maande van die jaar aan Afrodite en die ander ses maande van die jaar aan Persefone.

Minnaars en kinders

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  • C. Kerényi (1951). The Gods of the Greeks.
  • Walter Burkert (1985). Greek Religion (Harvard University Press).

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]