Afrikaanse Studentebond
Die Afrikaanse Studentebond (die ASB) was ‘n organisasie vir Afrikaner-studente wat gespruit het uit die ontluikende Afrikaner-nasionalisme na Uniewording.[1][2][3][4] Later het dit veral as apologeet vir die beleid van apartheid bekend geraak. Verskeie Afrikaner-politici het hul politieke loopbaan in hierdie organisasie begin.
Doel
[wysig | wysig bron]Die ASB het bestaan van 1916 tot 1933, die Afrikaanse Nasionale Studentebond van 1933 tot 1945 en die ASB weer vanaf 1948.[1][2][3][5] As doel het die vereniging gehad die bevordering, erkenning en handhawing van Afrikaans as voertaal, die ontwikkeling van die lede in die tradisies van die Afrikaner en van Afrikaans as onderrigtaal en die uitbou van die Christelik-nasionale karakter van die onderwys.[1][2][3] Volksfeeste en kursusse is gereël en gedenktekens opgerig. Lidmaatskap was beperk tot blanke Afrikaanssprekendes en vroue is as lede toegelaat.[2]
Geskiedenis
[wysig | wysig bron]Die stigting van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns was die stimulus vir die begin van so ‘n Afrikaanse studentevereniging. In 1911 het die klubs Ons Spreekuur en die Afrikaanse Taalvereniging ‘n groot saamtrek op Stellenbosch gereël om die oorheersing van Engels in die onderwys te bespreek. Op 6 en 7 April van daardie jaar hou die ATKV ‘n byeenkoms op Stellenbosch waar die Werda-komitee gevorm word. Hieruit spruit die stigting van die ASB in 1917 in Pretoria met die Universiteit van Pretoria, die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, die Universiteit van die Oranje-Vrystaat en die onderwyserskolleges van Pretoria, Heidelberg en Bloemfontein as lede.[2][5] Kort daarna sluit die Universiteit van Stellenbosch ook aan. In Maart 1920 verskyn die eerste uitgawe van hul blad Die Banier. NUSAS probeer in 1924 om alle Suid-Afrikaanse studente outomaties lid van hul groepering te maak, maar die Afrikaanstalige universiteite verset hulle suksesvol daarteen. Gedurende September 1933 word die Afrikaanse Nasionale Studentebond onder leding van P.J. Meyer gevorm. Die groepering was sterk Nazi-gesind, meer politiek as kultureel aktief tydens die oorlogsjare en strewe openlik na ‘n outoritêre staat.[4] Na die oorlog stort dit ineen en word die ASB in 1948 herstig. In die 1970’s het dit ‘n organisasie geword waarvan individue lid kon word. Daarna ontwikkel dit tot ‘n Bond van Studenterade.
Bekende lede
[wysig | wysig bron]- N.J. van der Merwe
- Piet Meyer
- Marthinus van Schalkwyk
- P.J. Nienaber
- N.J. Diederichs
- Willem de Klerk
- Roelf Meyer
- Leon Wessels
- Theuns Eloff
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ 1,0 1,1 1,2 "A BRIEF HISTORY OF STUDENT ACTION IN SOUTH AFRICA" (PDF) (in Engels). UKZN. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 2 Julie 2024. Besoek op 17 September 2024.
- ↑ 2,0 2,1 2,2 2,3 2,4 "National Union of South African Students (NUSAS) | South African History Online". sahistory.org.za. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Junie 2024. Besoek op 17 September 2024.
- ↑ 3,0 3,1 3,2 "Inventory of the private collection of Afrikaanse Studentebond" (PDF) (in Engels). UV. Besoek op 17 September 2024.
- ↑ 4,0 4,1 "DIE MANIFESTASIE VAN STUDENTEMAG EN DIE WORTELS VAN STUDENTE-OPROER AAN DIE ENGELSTALIGE UNIVERSITEITE VAN SUID-AFRIKA SEDERT DIE JARE SESTIG - 'N EIETYDSE GEESTESGESKIEDENIS" (PDF). UV. Besoek op 17 September 2024.
- ↑ 5,0 5,1 "1948: STIGTING VAN DIE AFRIKAANSE STUDENTEBOND". www.gelofteland.org. Besoek op 17 September 2024.