Gaan na inhoud

Jan Hus

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Jan Hus
Jan Hus. Fantasieportret, geskilder deur 'n onbekende 16de eeuse meester. Tydens sy leeftyd is geen betroubare portrette van Hus geskilder nie.

Gebore 1369
Husinec, Okres Prachatice, Koninkryk Boheme (tans Tsjeggië)
Oorlede Tereggestel (verbrand op die brandstapel)
6 Julie 1415 (op ca. 45)
Konstanz, Bisdom Konstanz, Heilige Romeinse Ryk (tans Duitsland)
Nasionaliteit Heilige Romeinse Ryk
Vakgebied Teologie
Beïnvloed deur John Wycliffe
Invloed op John Wesley, Jerome van Praag, Martin Luther

Jan Hus (Husinec, Okres Prachatice; * omstreeks 1369; † 6 Julie 1415 in Konstanz), ook (verkeerdelik) Johannes Huss genoem, was 'n Christelike hervormer en martelaar.

Lewe en werk

[wysig | wysig bron]

Opleiding en begin van lopbaan

[wysig | wysig bron]

Hus ontvang 'n meestersgraad van die Karels Universiteit in Praag in 1396. In 1338 word hy 'n professor van teologie in Bohemië (nou deel van die Tsjeggiese Republiek). In 1400 word hy as priester georden en in 1402 word hy aangestel as rektor van die Universiteit.

Portret van Jan Hus deur Johann Agricola, 1562

Rooms-Katolieke kerk in die 1400's

[wysig | wysig bron]

In dié tyd ondervind die Rooms-Katolieke Kerk 'n gesagskrisis. In 1305, onder dwang van die koning van Frankryk, word die setel van die pouse verskuif van Rome na Avignon in Frankryk. Dit is ook waar die setel vir die volgende 70 jaar gebly het. (Hierdie tydperk staan bekend as die "Babiloniese ballingskap van die pousdom", 'n verwysing na die 70 jaar wat Jerusalem 'n wildernis was nadat die Jode na Babilon gedeporteer is.)

In 1376 keer die pous terug na Rome. Na die dood van die pous, was die kardinale, wat meestal Frans was, se voorneme om weer ’n Franse pous te kies. Die inwoners van Rome maak egter beswaar daarteen, omdat hul vrees dat 'n Franse pous weer die pouslike setel na Frankryk sou verskuif.

Derhalwe verkies die kardinale 'n Italiaanse pous, maar vlug elders en verkies ook 'n Franse pous en gebruik die verskoning dat die eerste verkiesing onder dwang plaasgevind het, en dus nie geldig is nie. Op hierdie wyse was daar twee (later drie) aanspraakmakers op die pouslike titel en gevolglik is die Raad van Constance byeengeroep om die probleem op te los. Een pouslike aanspraakmaker erken die gesag van die Raad en abdikeer. Die Raad reageer deur aan te kondig dat hy die ware pous was, en onttroon die ander twee. Hierna word ’n nuwe pous verkies om die skeuring te heel.

Hus en die Katolieke-Kerk-krisis

[wysig | wysig bron]

Intussen het Huss begin om verskeie kerkmisbruike in sy preke aan die kaak te stel. Sy geskille met die kerklike gesag was nie oor basiese teologiese verskille nie, maar eerder oor aspekte van kerklike dissipline en praktyk. Die gebruik het ontstaan by nagmaalsvieringe om nagmaalsbrood aan almal uit te deel, maar die nagmaalsbeker was steeds beperk tot die diensdoenende priester. Huss veroordeel hierdie beperking. Hy was ook van mening dat kerklike amptenare hulself moet beperk tot die beoefening van godsdienstige sake, en nie aardse goewerneurs moet wees nie. In 1412 word Huss deur sy aartsbiskop geskors, nie vanweë kettery nie, maar vir "ongehoorsaamheid". (Die onderliggende probleem was egter dat Huss een pouslike aanspraakmaker gesteun het, en die aartsbiskop 'n ander. Huss se kandidaat is uiteindelik as die "ware pous" aangewys). Sake is tot ’n spits gedryf toe een aanspraakmaker (wat later ongeskik vir die pouslike amp verklaar is) aflaatbriewe begin verkoop het om geld in te samel vir ’n oorlog teen sy teenstander. Huss was geskok, en het homself teen sterkste uitgespreek teen die idee dat 'n aanspraakmaker op die pouslike amp met die titel Kneg van die dienaars van God op so wyse sou optree.

Hus as martelaar

[wysig | wysig bron]

In 1414 is hy gedagvaar om voor die Konsilie van Konstanz te verskyn, waar die keiser sy persoonlike veiligheid waarborg, selfs al sou hy skuldig bevind word. Tydens sy verhoor is hy opdrag gegee om sekere "valse leerstellings" terug te trek. Hy antwoord egter dat hy nooit die betrokke leerstellings verkondig het nie en dat hy bereid is dit as vals te verklaar, maar nie dat hy dit nooit verkondig het nie. Die een punt waarop Huss van die Raad verskil het, is dat, volgens hom, die Pouslike amp nie deur Goddelike opdrag ingestel is nie, maar deur die kerk, sodat kerksake op ’n ordelike wyse gedoen kan word ('n siening wat hy met Thomas More gedeel het). Die Konsilie, wat kort tevore net-net daarin geslaag het om die Westerse Christendom na jare van stryd onder een pous te verenig, wou nie sy werk ongedaan laat maak nie. Gevolglik is Huss skuldig bevind aan kettery, en ten spyte van sy veiligheidswaarborg is hy op 6 Julie 1415 op die brandstapel verbrand. 'n Monument is in Praag opgerig om hierdie gebeurtenis te herdenk.

Nalatenskap

[wysig | wysig bron]

Na sy dood het sy volgelinge voortgegaan om aan te dring op die bediening van brood en wyn tydens die nagmaal. Hulle het verskeie leërs wat teen hul gestuur is, verslaan.

In 1436 is 'n ooreenkoms onderteken wat die Kerk in Bohemië magtig om sowel die brood as die nagmaalsbeker aan alle nagmaalgangers te bedien.

Die volgelinge van Jan Hus en sy mede-martelaar Hieronimus (Jerome) van Praag het bekend geword as die Tsjeggiese broeders, en later as die Morawiërs. Die Morawiese Kerk bestaan tot vandag, en het 'n groot invloed op die Lutherse beweging uitgeoefen. Nadat Luther bekendheid verwerf het met die publikasie van sy 95 leerstellings, het spotprente en graffiti verskyn wat impliseer dat Luther die geestelike erfgenaam van Jan Hus ('n "ketter") was. Toe Luther die Pous se verteenwoordiger, Johannes Eck, in 'n kritieke debat teengestaan het, het Eck Luther se vrae oor aflaatbriewe en regverdiging deur die geloof alleen ontwyk, en in stede daarvan vir Luther gevra of die kerk reg was om Hus te veroordeel. Luther het geantwoord dat Huss onregverdig veroordeel en verbrand was en so het die kwessie van die gesag van die pous en sy rade ’n brandpunt geword wat die kerklike hervorming voorafgegaan het.

Bibliografie

[wysig | wysig bron]
  • Swart, Marius J.: Raar leiers. Stellenbosch: U.U.B., 1967.