Gaan na inhoud

Ewewigsin

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Die ewewigsorgaan van die mens en ander werweldiere bestaan uit twee dele: die statiese en die dinamiese ewewigsorgaan. Die statiese ewewigsorgaan bestaan in hoofsaak uit 'n aantal haartjies waarop 'n kalkagtige voorwerp (die statoliet) rus. As die orgaan van stand verander, buig die statoliet die sintuighare. Dit lei daartoe dat die sintuigselle prikkels na die senustelsel stuur, waaruit die stand van die ewewigsorgaan afgelei kan word. Die dinamiese ewewigsorgaan, wat uit 3 halfsirkelvormige kanale bestaan, stel die brein van draaibewegings in kennis. Ongewerwelde diere het nie almal gespesialiseerde ewewigsorgane nie. Die inkvis het egter 'n besondere ewewigsorgaan wat amper net so gevorderd soos die van die mens is. As die menslike ewewigsorgaan erg versteur word, is een van die simptome duiseligheid (vertigo).

Algemeen

[wysig | wysig bron]

Baie diere het gespesialiseerde ewewigsorgane wat hulle help om hulle stand met betrekking tot die horisontale aardoppervlak te bepaal. Hierdie orgaan bestaan gewoonlik uit 'n blasie (statosist) wat baie gevoelig is vir swaartekrag. Aan die onderkant van die statosist is daar sintuigselle wat elk ʼn sintuighaar dra. Hierdie selle is deur die senustelsel met verskeie spiergroepe in verbinding. 'n Sameklonting van kalkkristalle (dikwels egter ook egte sandkorreltjies), die statoliet, rus bo-op die sintuighare.

As die ewewigsorgaan in 'n skewe posisie staan, sal die statoliet met sy gewig die sintuighare opsy stoot. Dit lei daartoe dat die sintuighare geprikkel word en inligting aan die senustelsel oordra oor die stand van die liggaam of oor die versnelling waarmee die dier vorentoe of agtertoe beweeg. Hierdie oordrag van inligting bring mee dat die liggaamspiere die ewewig in stand hou.

Ongewerwelde diere

[wysig | wysig bron]

Slegs 'n paar ongewerwelde diere het gespesialiseerde ewewigsorgane. Die hidroïde (klas Hydrozoa) is een van die groep ongewerwelde diere wat wei gespesialiseerde ewewigsorgane het. Hierdie diere se statosiste lê tussen die tentakels aan die rand van die mantel in die vorm van holtes of afgeslote blasies met 'n kalksteentjie daarbinne. Sommige platwurms het ewewigsorgane in hulle brein.

Hierdie ewewigsorgaan bestaan uit ʼn statosist met een of twee steentjies wat elk met 'n spesiale sel bedek word. Die sandwurm (klas Polychaeta) het 'n statosist in die wand van sy kop, met 'n kanaal na buite. Hierdie diertjie se statoliet word nie in sy liggaam self gevorm nie, maar bestaan gewoonlik uit sand wat die diertjie uit sy omgewing opgeneem het en waarom hy 'n lagie chitien gebou het. Geslote statosiste word in die voetgangleon van die meeste slakke (klas Gastropoda) se bewegingsorgaan aangetref.

Die inkvis (klas Cephalopoda) het 'n paar gespesialiseerde statosiste. Hierdie organe is in die kopkraakbeen naby die brein geleë. Die statosist van die seekat (Sepia) is byna net so ingewikkeld soos die van die werweldiere se ewewigsorgane. Slegs enkele skaaldiere (klas Crustacea) het ewewigsorgane. ʼn Paar statosiste is in die basaalsegmente van die diertjie se voelhorings, of aan sy agterlyf, geleë. In die geval ontstaan die statosist as ʼn instulping van die huid. Elke keer as die diertjie vervel word die huid saam met die statoliet afgegooi. Onder die stekelhuidiges (phylum Echinodermata) is daar min diere met ewewigsorgane. Enkele seekomkommers het wel ewewigsorgane wat in 'n kring om die diertjie se mondopening gerangskik is.

Werweldiere

[wysig | wysig bron]

Die ewewigsintuig van die hoër werweldiere het klaarblyklik uit die sylynsintuig, 'n orgaan wat 'n mens by visse en amfibieë aantref, ontwikkel. Hierdie orgaan reageer op veranderinge in waterdruk. As gevolg van die gemeenskaplike oorsprong en die ooreenkoms in bou, word die ewewigsintuig en die sylynsintuig saam gegroepeer onder die akoestolaterale stelsel. Die ampulla van Lorenzini wat op die koppe van haaie en rogge gevind word, behoort ook tot die akoestolaterale stelsel.

Die gemeenskaplike oorsprong van die ewewigsintuig en die sylynsintuig blyk onder meer uit die embriologiese ontwikkeling: albei ontwikkel uit die plakode (heuweltjies van opperhuidselle). Die plakode van die slaapstreek vorm later ʼn neuromast. In sy heel eenvoudigste vorm bestaan die neuromast uit ʼn groepie sintuigselle wat elk ʼn bossie haaragtige uitsteeksels dra. Gewoonlik besit slegs een van hierdie uitsteeksels die struktuur van 'n trilhaar (ware trilhare bestaan uit 9 dubbele filamente). Hierdie sintuighare van die neuromaste kan in twee groepe verdeel word: die een groep staan almal aan dieselfde kant van hul sintuigselle, die ander groep aan die teenoorgestelde kant.

Tussen die sintuigselle van ʼn neuromast is daar steunselle wat geen hare het nie. Hierdie selle skei aanhoudend 'n gelatienagtige stof af wat die neuromast met 'n gelatienagtige kappie, die kupula, bedek. Dit lei ook daartoe dat die sintuigselle van 'n neuromast onderling met mekaar in verbinding staan. Die neuromaste stuur ritmiese elektriese impulse uit. As die sintuighare gebuig word, word hierdie ritme vinniger of stadiger, afhangende daarvan of die hare na of weg van die sintuigselle gestoot word.

Tydens embrionale ontwikkeling vorm die plakode waaruit die ewewigsorgaan uiteindelik ontwikkel, ʼn oorblasie. Hierdie orgaan is aanvanklik nog deur middel van die ductus endolymphaticus (endolimfbuis) met die atmosfeer in verbinding. Die oorblasie ontwikkel om 'n stelsel van buisies en blasies te vorm (die vliesige labirint), waar neuromaste uiteindelik ontwikkel. ʼn Mens kan aanvanklik twee sakkies, die utrikulus en die sacculus, in die oorblasie onderskei. Albei het ʼn neuromast en 'n statoliet.

Die sintuigselle wat in die utrikulus en sacculus aangetref word, word die macula genoem. By beenvisse bestaan die statoliet van die sacculus uit 'n groot kalksteentjie (otoliet). Hierdie steentjie het groeiringe en kan dus deur wetenskaplikes gebruik word om die vis se ouderdom te bepaal. Die vorm van die gehoorsteentjies is so kenmerkend dat die verskillende visgroepe op grond van hierdie steentjie van mekaar onderskei kan word. Die drie halfsirkelvormige kanale ontstaan uit die utrikulus. Die dier ontvang inligting oor draaibewegings van die halfsirkelvormige kanale. Daarom word hierdie organe die dinamiese ewewigsorgaan genoem, in teenstelling met die statiese ewewigsorgaan wat slegs inligting oor stand gee.

2 Die mens se ewewigsin

[wysig | wysig bron]

Die ewewigsorgaan van die mens is net soos die van die werweldiere gedeeltelik in die sentrale senustelsel, en gedeeltelik in die binne-oor geleë. Die binne-oor of labirint bevat die gehoorsintuig en die ewewigsintuig (die vestibulum). Die labirint is deur middel van die agtste kraniale senuwee (kopsenuwee) in verbinding met 'n aantal kerngebiede in die breinstam.

Die vestibulêre apparaat

[wysig | wysig bron]

Die labirint bestaan uit twee dele, naamlik die benige labirint en die membraanlabirint. Die benige labirint is 'n stelsel van kanaaltjies wat deur ʼn vloeistof, die perilimf, omhul word. Die vestibulêre deel van die labirint bestaan aan albei kante uit drie halfsirkelvormige kanaaltjies wat in loodregte vlakke op mekaar lê.

Aan die een punt van elke halfsirkelvormige kanaal is 'n verwyding, die ampulla, wat 'n reseptor, die crista ampullaris, bevat. 'n Gelatienagtige kappie, die kupula, rus hierop. Hierdie hele stelsel word die dinamiese ewewigsorgaan genoem, In die selle van die cristae begin die vertakkings van die vestibulêre deel van die agtste kopsenuwee. As die kop 'n draaibeweging maak op die vlak van een van die halfsirkelvormige kanaaltjies, lyk dit asof die endolimf in ʼn teenoorgestelde rigting in die kanaaltjie beweeg. In werklikheid druk die vloeistof teen die kupula, wat daartoe lei dat die senuseluitlopers in die crista geprikkel word.

As die persoon skielik ophou draai gebeur die teenoorgestelde: die endolimf stroom dan in die rigting van die beweging en dit neem sowat 25 sekondes voordat die kupula na sy normale posisie terugkeer. Benewens hierdie kanaaltjies bestaan die vestibulêre apparaat van die membraanlabirint uit twee holtes, die utrikulus en die sacculus. Hierdie holtes vorm saam die statiese ewewigsorgaan.

Die sintuigselle wat in die utrikulus en sacculus voorkom (die macula), bestaan uit selle met harige uitsteeksels. Op die haartjies van hierdie sintuigselle word 'n aantal ewewigsteentjies (statoliete) aangetref. Hierdie steentjies is dig op mekaar gepak en kan funksioneel met 'n groot gehoorsteen (otoliet), soos die wat 'n mens by die beenvisse aantref, vergelyk word. Die swaartekrag lei daartoe dat die statoliete die sintuig hare buig as die liggaam van posisie verander. Vertakkings van die agtste kopsenuwee begin ook hier in die maculaselle.

Inligting in verband met die stand van die kop en die liggaam ten opsigte van die swaartekrag word na die brein gestuur, en reflekse kan dan bewerkstellig word om die stand van die liggaam te verander. Die liggaam maak nie net van die ewewigsorgaan gebruik om sy ewewig te behou nie, maar ook van die rekreseptore in die spiere, die tasorgane in die vel en die ligreseptore in die netvlies.

Duiseligheid

[wysig | wysig bron]

As die vestibulêre stelsel aangetas word, word 'n mens duiselig (vertigo). Duiseligheid gaan dikwels gepaard met mislikheid, braking, gehoorafwykings, afwykings in beweging, ensovoorts. 'n Mens kan seesiek, karsiek of lugsiek word as gevolg van die voortdurende prikkeling van die vestibulêre stelsel. Simptome soos mislikheid, bleekheid en sweet kan ook voorkom. Duiseligheid wat deur vestibulêre afwykings veroorsaak word, kan gewoonlik met antihistamien behandel word. Antihistamien het normaalweg 'n dempende uitwerking op die vestibulêre stelsel.

Verwysings

[wysig | wysig bron]