Gaan na inhoud

Suezkanaal

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Kaart van die Suezkanaal
Satellietbeeld van die Suezkanaal

Die Suezkanaal (Arabies: قناة السويس, Qanāt al-Suwais) is 'n kanaal van 193,3 km lank wat deur die Landengte van Suez in Egipte sny en die Middellandse See met die Rooisee verbind.[1] Die kanaal vorm die grens tussen Afrika en Asië.[2]

Reeds in die sestiende eeu is daar al gespekuleer oor die bou van die kanaal, maar dit is eers 400 jaar later voltooi toe die kanaal op 17 November 1869 geopen is. Die projek is onder die beheer van Ferdinand de Lesseps voltooi nadat bouwerk reeds in 1859 begin het. Sedertdien word die kanaal deur ongeveer 21 000 skepe per jaar gebruik. Dit duur sowat nege uur vir 'n skip om van een punt na die ander te vaar. Sedert die kanaal geopen is, het ongeveer 'n miljoen skepe die kanaal gebruik.

Die suidelike ingang na die kanaal is by Suez en die noordelike ingang is by Port Said. Die totstandkoming van die kanaal is in groot mate te danke aan die optrede van die Fransman Ferdinand de Lesseps. Hy het al die steun van die destydse Egiptiese onderkoning, Saïd, ontvang en het die uitvoering van die projek gebaseer op 'n ontwerp van A. von Negrelli. In 1956 het pres. Nasser van Egipte die kanaal genasionaliseer, waarop Franse, Engelse en Israelse soldate die gebied beset het.

Uit vergelding het pres. Nasser die kanaal van Julie 1956 tot April 1957 gesluit. Van Junie 1967 tot Junie 1975 was die kanaal weer eens gesluit weens 'n Israelse besetting van die Sinaï-gebied. As gevolg van internasionale druk het Israel egter sy troepe aan die kanaal onttrek en is dit weer oopgestel. Sedertdien is daar gewerk aan planne om die kanaal vir skepe van tot 250 000 ton bevaarbaar te maak.

Omvangryke planne om die kanaalgebied in 'n nuwe vestigingsgebied om te skep om sodoende die bevolkingsdruk op die oorbevolkte Nyldal te verlig, is ook aangepak. Reeds 20 eeue voor die Christelike jaartelling wou die Egiptiese Farao Sesostris 'n waterverbinding tussen die Nyl en die Rooi See tot stand bring. Hy het toe bevaarbare kanale tussen die Rooi See en die Bittermere en die oostelikste arm van die Nyldelta aan die Middellandse See laat grawe.

Die kanale het geleidelik toegeslik, maar is tussen 600 en 500 v.C. deur Farao Necho II en die Persiese veroweraar Darius I weer in bedryf gestel. Opeenvolgende heersers oor Egipte, die Ptolemeë, die Romeine, die Bisantyne en die Arabiere, het pogings aangewend om die kanale oop te hou. Omstreeks 775 n.C. het kalief Al Mansoer dit egter uit strategiese oorwegings laat toemaak.

Na die ontdekking van die Kaapse seeroete en die rykdomme van Asië het die gedagte aan 'n baie korter seeweg na die Verre Ooste deur die landengte van Suez herleef. Nadat Napoleon Egipte verower het, het hy die moontlikheid van 'n kanaal in 1799 ernstig laat ondersoek. Sy ingenieurs het egter tot die slotsom gekom dat die vlakverskil tussen die Rooi See en die Middellandse See te groot was vir die destydse tegnieke (hulle het 'n berekeningsfout gemaak; volgens hulle was die vlakverskil 10 m).

In 1830 het die Engelse ontdek dat die vlakverskil minimaal is (30 cm) en dat 'n kanaal gegrawe kon word. Die Egiptiese onderkoning het egter in 1833 toestemming vir die grawe van so kanaal geweier. Die Fransman Ferdinand de Lesseps (1805–1894), 'n persoonlike vriend van die nuwe onderkoning, Mohammad Saïd Pasja (1822–1863) het in 1854 egter toestemming verkry.

Met 'n konsessie vir 99 jaar (van die opening van die kanaal af) het hy die Compagnie Universelle du Canal Maritime de Suez (Suezmaatskappy) in 1858 tot stand gebring. De Lesseps het 200 miljoen Franse frank nodig gehad om die projek aan te pak. Net Franse het egter daarin belang gestel om aandele te koop en het sowat 50 % van die kapitaal gelewer. Die Engelse en Amerikaners het geen belangstelling getoon nie. Nadat Saïd egter 60 miljoen Franse frank bygedra het, kon De Lesseps die eerste sooi in 1859 by die latere Port Saïd spit.

Engeland, wat bang was vir Franse oorheersing van die Levant- en Asië-skeepvaart en self oor 'n Kaïro-Suez-spoorweg beskik het, het Saïd se opvolger, lsmaïel  (1830–1895), na Saïd se dood in 1863 beïnvloed om die werksaamhede te staak. In 1866 is die werk egter hervat en op 17 November 1869 kon die Franse keiserin, Eugénie de Montijo (1826–1920), die Suezkanaal op 'n luisterryke plegtigheid amptelik oop verklaar (Verdi het onder meer ook die opera Aïda vir die openingsplegtigheid geskryf.)

Engeland het egter diep onder die besef van die belangrikheid van die Suezkanaal gebly en het in 1875 lsmaïel se aandele oorgeneem nadat dié in 'n finansiële verknorsing beland het. In 1882, tydens ’n nasionalistiese opstand in Egipte, het Engeland die kanaalgebied beset en later ook die hele Egipte. Eers in 1945 het Engeland uit Egipte padgegee. In Julie 1956, 12 jaar voor die verstryking van die konsessie aan die Suezkanaal-maatskappy, het die Egiptiese president, Gamal Abdal Nasser (1918–1970), die maatskappy en die kanaal genasionaliseer.

Drie maande later het Israel Sinaï binnegeval en het Engelse en Franse valskermsoldate. Port Saïd en Port Foeaad beset. Uit weerwraak het Nasser die kanaal gesluit deur 'n aantal skepe daarin te laat kelder. VN-troepe het by die Britse en Franse soldate oorgeneem en in April 1957 is die kanaal weer oopgestel. Weens Israel se besetting van die Sinaï-gebied na die Sesdaagse Oorlog in Junie 1967 het pres. Nasser aangekondig dat die kanaal voortaan vir alle skeepsverkeer gesluit sou wees.

In 1973 het Egiptiese troepe die kanaal oorgesteek en 'n deel van die Israelse verdedigingslinie in Sinaï verower. Hulle is teruggedryf, maar onder internasionale druk (olieprysverhogings deur die Arabiese lande) moes Israel hom in 1974 tot 30 km van die kanaal af terugtrek. In Junie 1975 het pres. Sadat van Egipte die kanaal weer oopgestel.

Die kanaal

[wysig | wysig bron]

De Lesseps het die uitvoering van die Suez-projek gebaseer op 'n plan wat deur die Italiaanse Oostenryker Alois von Negrelli (1799–1858) opgestel is. Negrelli was 'n lid van die Société des Études pour le Canal de Suez, ’n internasionale groep wat in 1846 gestig is en die moontlikhede om ’n kanaal tussen die Rooi en Middellandse See te grawe. bestudeer en planne daarvoor opgestel het. Daar is uiteindelik tot 'n oop verbinding sonder sluise op seevlak besluit.

Nog voordat met die werk aan die kanaal self begin is. Is daar in 1858 begin met 'n varswaterkanaal van die Nyl by Kaïro af na die basiskamp lsmaïlia om die toekomstige 20 000 tot 25 000 (dwang) arbeiders van drinkwater te voorsien. Die eerste graafwerk is met pikke en grawe gedoen en die grond is in mandjies weggevoer. Sedert die werk van 1863 tot 1866 deur Ismaïel tot stilstand gedwing is, is graafmasjiene, wat voortdurend verbeter is, gebruik.

Gespesialiseerde masjiene is ook ontwerp om byvoorbeeld rotslae in die suidelike deel van die kanaaltrajek te verwyder. Ondanks die taamlik ongunstige klimaatstoestande. 'n choleraepidemie, arbeidsonluste en 'n verdubbeling van die beraamde koste is die Suezkanaal net 4 jaar na die beplande 6 jaar voltooi. Met die opening van die kanaal was dit 171 km lank, minstens 58 m breed op die oppervlak, 22 m breed op die bodem en minstens 6 m diep.

Reeds in 1875 is daar begin om die kapasiteit van die kanaal te vergroot. Vanweë die gedurige verdieping en verbreding van die kanaal was dit in 1967 minstens 150 m breed op die oppervlak, 60 m breed op die bodem en minstens·12 m diep, wat dit geskik gemaak het vir skepe van tot 70 000 ton. Dit was ook noodsaaklik om voortdurend met baggerwerk in die kanaal voort te gaan om te voorkom dat dit vlakker word weens sand wat van die omringende woestyn inwaai.

Onmiddellik na die heropening in 1975 is daar begin met die uitvoering van planne om die Suezkanaal tot 285 m te verbreed en tot 20 m te verdiep sodat dit geskik sal wees vir skepe van tot 250 000 ton (93 % van die wêreldhandelsvloot). Teen 2020 het 12% van die wêreldhandel deur die kanaal beweeg.

Ontwikkeling na 1975

[wysig | wysig bron]

Ná die Tweede Wêreldoorlog het die Suezkanaal, en na 1974 ook die kanaalgebied, stormagtige ontwikkelings deurgemaak. Die ontwikkelings het saamgehang met die ontwikkelings in die skeepvaart, waarin die buitengewone toename in olievervoer die belangrikste rol gespeel het. Nie net die aantal olietenkskepe het toegeneem nie, maar ook die tonnemaat van skepe. Olievervoer was in 1966 vir byna 'n driekwart van die totale kanaalinkomste verantwoordelik, en daarom het juis die al hoe groter wordende olietenkskepe tot die verbreding en verdieping van die kanaal gelei.

Tenkskepe het naderhand egter so groot geword dat die langer tog om die Kaap, of die oortapping van olie na 'n pypleiding, min invloed op die uiteindelike olieprys uitgeoefen het. Vragskepe het ook in toenemende mate van ander roetes begin gebruik maak. Na die heropening van die kanaal in 1975 het houerskepe, wat met die roete tot 20 % kon bespaar, vir die eerste keer van die kanaal begin gebruik maak. In dieselfde jaar was 10 % van al die skepe wat deur die kanaal gevaar het, houerskepe.

In 1975 is daar, met behulp van die Arabiese oliegelde, met ambisieuse ontwikkelingsplanne vir die kanaal, en die kanaalgebied begin, onder meer om mense na die ontvolkte kanaalstede terug te lok. Benewens die herbouing van Port Saïd, Ismaïlia en Suez, wat erg onder kwaai oorlogsoptrede gely het, is daar ook voorsiening gemaak vir die uitbreiding van besproeiingsgeriewe, die aanlê van snelweë, die grawe van vyf tonnels onder die kanaal en drie onder die Rooi See deur, die vestiging van nywerhede en die bou van toeristegeriewe langs die Timsah-meer, die Bittermere en die Golf van Suez.

Die projekte sou die oorbevolking in die Nyldal verlig en ook 'n belangrike bron van buitelandse inkomste wees. As deel van die projek het Port Saïd, wat in 1974 313 000 inwoners gehad het, die status van 'n vryhandelstad gekry. Beleggings uit Westerse lande, die Arabiese oliestate en Japan en die tientalle winkels met belastingvrye luukseartikels het die stad gou 'n gedaantewisseling laat ondergaan. Die Manzala-meer is drooggelê om ruimte te skep vir nuwe hawens en hawegebonde nywerhede, terwyl die stad se inwonertal teen 1990 na raming sowat 700 000 sou wees.

lsmaïlia het naas sy nywerheidsfunksie ook 'n belangrike kulturele funksie in die kanaalgebied gekry. ’n Universiteit, 'n museum en teaters is beplan, terwyl aantreklike woonbuurte in die jaar 2000 aan 400 000 inwoners onderdak kon bied. Vir Suez, wat in 1974 315 000 inwoners gehad het en waarvan 85 % stelselmatig verwoes is, is 'n volledige heropbouingsplan opgestel wat vir huisvesting en fasiliteite vir sowat 850 000 inwoners voorsiening maak. Die uitbreiding van veral die hawens, die petrochemiese nywerheid en toerisme geniet aandag.

Vroeg in die 21ste eeu het 12% van die wêreldhandel deur die kanaal beweeg. $10 miljoen dollar se waarde aan goedere het per dag deur die kanaal gegaan. Vir 'n skip om van die Ooste na Europa te vaar via die Kaap die Goeie Hoop neem tot 'n 14 dae langer.

Van 23 tot 29 Maart het die Japanse skip Ever Given dwars in die kanaal gelê en die kanaal geblokkeer. Hierdie behoueringskip van 240 000 U.S. ton is 400m lank en was gelaai met 20 000 houers.

Effek op vislewe

[wysig | wysig bron]

Een van die gevolge van die voltooiing van die Suezkanaal is dat uitheemse spesies die Middellandse See binnegedring het vanaf die Rooisee. Die volgende spesies word nou ook in die Middellandse See gevind:[3]

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. (en) Webwerf van die Suez Canal Authority Geargiveer 22 Maart 2009 op Wayback Machine
  2. (de) Suezkanaal by aegypten-magazin.de
  3. Coastal Fishes of Southern Africa. Phil & Elaine Heemstra. 2004. ISBN 1-920033-01-7

Bronne

[wysig | wysig bron]

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]
  • (en) Amptelike webwerf
  • (en) "Suez Canal". Encyclopædia Britannica. Besoek op 26 Maart 2021.